Ds A.E. van den Berg
“En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die Here in geregtigheid 'n offer sal bring” (Mal.3:3).
Die proses van metaalsuiwering is so oud soos die berge. Duisende jare gelede het mense al metale uit rotse gekap en gesmelt. Omdat onsuiwerhede 'n laer digtheid as metale het, het dit maklik na die oppervlak gekom en is met 'n blaasbalk afgeblaas totdat geen onsuiwerhede oorgebly het nie.
Maleagi skryf van so 'n metaal – silwer. Dit was die mooiste om te suiwer want as die laaste oksidasie-laag verdwyn het, het die smelter sy eie gesig soos 'n spieël daarin gesien en geweet dat dit 100% suiwer en gereed vir gebruik was.
God werk ook so met gelowiges. Sonde maak onsuiwer. Om ons te gebruik, moet God ons eers suiwer totdat Hy sy eie beeld in ons sien. “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol.3:9,10). Die woord vernuwe beteken gesuiwer. God louter almal wat Hom liefhet totdat Hy homself in ons lewens sien.
Suiwering vind deur die afbreking van onsuiwerhede deur verterende vlamme plaas. Gelowiges word ook deur beproewings gesuiwer deur die kruis van Jesus in 'n geestelike sin op ons eie skouers te neem. “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Hebr.13:13).
God suiwer ook kerke. Die Roomse Kerk met Satan aan die stuur het bv. duisende mense tydens die Middeleeue op folter-banke en brandstapels doodgemaak. Geen wonder dat Luther na die Pous as die Antichris verwys het nie!
In Suid-Afrika het ontspoorde kerke ook die hel onder gelowiges se voete laat oopbars. Die Bybel waarsku dat kerke die pad van die Antichris sal plavei. Petrus waarsku: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Pet.4:17).
Paulus waarsku: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word....die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” (2 Thess 2:3,4).
Terug by Maleagi, die laaste boek en profeet in die OT. Na hom het die stem van God vir 400 jaar stil word omdat Hy niks meer vir Israel te sê gehad het nie. Die volk was by 'n kruispad en het Maleagi die onaangename taak gehad om 'n slegte boodskap aan hulle oor te dra. “Julle vermoei die Here met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei ons Hom? Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here, en in hulle het Hy 'n behae....” (Mal.2:17).
God se geduld met Israel was op en het hulle laat weet dat Hy hom aan hulle onttrek. Vir Israel wat van God afhanklik was, was dit 'n doodsvonnis. Hulle sou nie oorleef nie en waarskynlik met die heidendom versmelt en verdwyn. Dit laat 'n mens aan Moses se woorde aan God dink:“Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Ex.33:15).
Maleagi het in 'n tyd van ontsettende geestelike verval opgetree. Godsdiens was 'n leë dop. Priesters het nie meer die Woord van God verkondig nie maar hul eie stories, veral die wat die optrede van die regering van die dag na die mond gepraat het. Die leraars was eintlik net marionette aan 'n lyntjie.
Almal was egter nie onkundig nie en het hul vertroue in die kerk se leiding verloor. Daarbenewens was hulle ook teleurgesteld in die tempel. Dis nou wel ná die terugkeer uit die ballingskap opgebou, maar die misterieuse belewenis en ervaring dat God daar teenwoordig was, het ontbreek.
Nádie herbou van die tempel het Israel 'n soortgelyke ervaring soos in die eerste tempel verwag, maar dit het ontbreek. Daar sou later iets groots gebeur soos Haggai voorspel het: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare” (Hag 2:9). Hy het na die koms van die Christendom verwys.
Israel het na 'n uiterlike godsdienstige ervaring soos die heilige wolk verlang. Hulle wou dinge aanvoel en met hul oë sien. Dit sou, toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is, wel gebeur. Die afwesigheid van 'n godsdienstige belewenis het van God se afwesigheid in Israel getuig.
Een ding wat die ware gelowiges van destyds gehinder het, was die verval in die kerk. Dinge is verkondig wat strydig met die Skrifte was en is vir soetkoek opgeëet.
Nog iets wat hulle gehinder het, was armoede. Voor die ballingskap was Israel 'n welvaart-staat met weinig armes. Daar was oorvloed en is daar na behoeftiges omgesien.
Na die ballingskap het alles verander met armoede en ellende om elke draai. Mense het God verkwalik dat Hy so met hulle handel. Was hulle dan nie die uitverkore volk nie? Israel was vermetel en het God as te ware bestorm asof Hy vir hul teenspoed verantwoordelik was.
Israel het geglo dat hulle as God se uitverkore volk beter verdien het en derhalwe met 'n kwaadwillige God te kampe gehad het. Hulle was net soos die heidendom ook aan God uitgelewer!
Die land het in die spoelsloot van die lewe beland, die kerk het verval en baie mense het ophou glo. Dit het een ding uitgespel – hulle toekoms was daarmee heen. Israel was by hul slothoofstuk. God het niks meer om vir hulle te sê nie!
Dan laat God vir Maleagi iets in die toekoms sien:“En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die Here in geregtigheid 'n offer sal bring”. Dit sluit by Haggai se visioen van die huis van groter heerlikheid aan. Wie word gereinig? Die seuns van Levi – die kerk.
God gaan vir 400 jaar as 'n smelter en reiniger van die kerk sit en sodra Hy sy gesig in die kerk-silwer sien, sou die tempel 'n heerlikheid beleef soos nog nooit tevore nie. Dit het op Pinksterdag gebeur. “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Hand.2:1-4).
Ja, God is altyd met sy kerk besig. Al lyk dit asof Hy hom daaraan onttrek het, was Hy steeds daarmee doenig. Wie is die kerk? Almal wat die wedergeboorte gesmaak het. Maleagi sê vir ons dat God onder alle omstandighede sy kinders nooit verlaat nie. Hy smelt hulle dikwels. Vir sommige is die proses onaangenaam. Hy sal ons egter oor en oor smelt totdat Hy sy gelaat in ons lewe sien. En dis my bede vir die komende pinkstertyd – dat God ons sal suiwer totdat Hy Hom in ons sal sien woon.