HOE IS MENSE IN OU TESTAMENTIESE TYD GERED?

Ds. A.E van den Berg

Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word” (Gal.3:23).

Wat beteken Paulus se woorde “voor die geloof gekom het”? Geloof was immers al van Genesis af daar want daarsonder sou niemand gered word nie. Paulus skryf oor geloof wat nadat die kruis-evangelie verkondig is en met Jesus se offer aan die kruis te doen het.

God het geweet dat Jesus vir die sondes van die mensdom sou betaal en dit met talle simbole in die OT laat deurskadu. Die Pasga in Egipte is so 'n voorbeeld: die bloed teen die deurkosyn wat die Israeliete van die dood gered het. So sou Jesus, die ware Paaslam, se bloed aan die kruis siele van die ewige dood red.

Mense het nie die eertydse simboliek verstaan nie. Offers vir sonde was 'n alternatief wat God hulle gegee het totdat die werklike offer gebring sou word. Omdat Hy geweet het wat in hulle harte aangaan, het Hy ook hulle siele uit genade gered. Die offers wat gebring is, het hul as sulks nie gered nie, maar wel hulle geloof in die Woord asook opdragte wat God hul gegee het.

Paulus skryf in Efes 6:19 oor die verborgenheid van die Evangelie”. Dis 'n waarheid wat voorheen onbekend was. Dis ook in Romeine opgeteken: “Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof “(16:25,26).

Mense het nie die geloof waarvan hy skryf voorheen geken nie. Hulle het nie geweet dat Jesus as versoening van hulle sonde sou sterf en uit die dood opstaan nie. Die Emmaus-gangers (Luk24) was toegewyde Jode wat die Skrifte geken het. Dat hulle drie dae na Jesus se dood met mekaar, verslae oor die tragiese gebeure, gepraat het, bewys dat hulle gelowig was.

Moes hulle dan nie iets van die dood en opstanding van die Messias geweet het nie? Hulle het tog die OT gehad. Hulle het niks van die profesieë verstaan nie.

Toe Jesus aan hulle verskyn, het Hy dit vir hulle uitgelê. Alhoewel die voorafskaduwing van Jesus se dood op talle plekke in die OT te vind was, het gelowiges die bedoeling daarvan nie verstaan alvorens Jesus dit uitgelê het nie.

“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die Psalms, vervul moet word.   Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge” (Luk.24:44-47).

Dit het 'n hele paar verskynings van Jesus geverg om selfs die dissipels tot die nuwe geloof te bring. Hulle was nie ongelowiges nie. Hulle het dan die evangelie van die koninkryk verkondig terwyl hulle saam met Jesus was. Hulle het egter van die kruis en opstanding niks verstaan nie. Dit beteken egter nie dat hulle voor die kruisiging verlore was nie. Hulle was maar net tipiese OT gelowiges.