Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wil van God is onafwendbaar: dit wat Hy gewil het, sal gebeur. Ons kan maar net bewende buig voor God se albestier.
VREES GOD
Ds A.E. van den Berg
“En die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder” (Hand.9:31).
Die bekering van Paulus het die Joodse Kerk van destyds tot in sy fondamente geskud. Dat ’n vervolger van die Christendom omswaai en ’n verkondiger van Christus geword het, was vir hulle ’n groot verleentheid. Ja, die verhaal van Paulus se bekering gryp gelowiges na 2000 jaar nog steeds aan en word daar vandag van ʼn skielike geestelike ommekeer as ’n Saulus-bekering gepraat.
Om Jesus destyds te volg, kon lewensgevaarlik wees. Kyk wat met Stefanus gebeur het! Wie Iemand wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet verwag om self gekruisig te word. Na Paulus se bekering was sy lewe in gevaar. In Hand.9:24 het die Jode beplan om Hom dood te maak. Wat vir die Joodse kerk ’n ergernis was, was egter vir die Christendom ’n wins: “En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Hand.9:20).
Paulus was nie bang om te getuig nie omdat hy ’n besondere gawe gehad het nie, wel weens vrede in sy hart. “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7),
Hierdie vrede is net moontlik as gelowiges in die vrees van die Here wandel. Ons lees dikwels in die Bybel van die vrees van die Here. Wat beteken dit? God lei gelowiges om in ooreenstemming van God se Woord en Hom voor oë te leef. Anders gestel, om in die vrees van die Here te wandel. Ons lees in Gen.5 van Henog wat met God gewandel het. “En die gemeentes .... het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here...”
Die werkwoord ‘wandel’ dui op ’n bewustelike handeling en gebeur nie vanself soos asemhaling nie. Dis ʼn besluit: Ek gaan in die vrees van die Here wandel. Vrees en bewing is woorde wat nie altyd gewild is as daar oor God gepraat word nie. Mense verkies eerder om van God se liefde, lankmoedigheid en genade te praat. Miskien is dit ’n teenreaksie op sommige charismatiese predikers wat oor niks anders as vuur, swawel en die hel preek nie!
Gelowiges moet die regte begrip van vrees en bewing mbt God hê. Die gebrek daaraan is miskien een van die redes waarom mense onverskillig teenoor God is – hulle weet nie Wie of hoe om te vrees nie. Jesus sê: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28).
Wat is die vrees van die Here dan? In die Hebreeus beteken om God te vrees, dat jy ontsag vir Hom het. Wie God vrees, is bang om Hom kwaad te maak of aanstoot te gee. “...want as ons opsetlik sondig, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike veragting van oordeel en ’n vuurgloed…” (Hebr.10:26,27).
As daar een boek in die Bybel is wat vir ons vertel hoe die vrees van die Here in die alledaagse lewe lyk, is dit Spreuke.
“Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis…” (1:7).
“Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is…” (8:3).
“Die vrees van die Here vermeerder die dae…” (10:27).
“In die vrees van die Here lê sterk sekerheid…(14:26).
“Die vrees van die Here is ’n fontein van die lewe…” (14:27).
“…deur die vrees van die Here wyk ’n mens af van die kwaad “ (16:6).
“Die vrees van die Here is tot die lewe; en versadig bring ’n mens die nag deur, sonder om deur ’n onheil besoek te word” (19:23).
“Die loon van nederigheid is die vrees van die Here, is rykdom en eer en die lewe” (22:4).
Wie God nie vrees nie, verloor baie in die lewe. Hy sluit homself van die skatte van God se wysheid en kennis uit. Sonde lyk vir hom lekker en hy raak vuil soos die verlore seun tussen die varke. Sommige beland deur eie toedoen vroeg in ’n graf. Dink maar net aan die skerp toenemende dwelmverslawings.
’n Mens wat God nie vrees nie, het geen sekerheid van ʼn ewige lewe na die dood nie. Watter angs en spanning moet so ’n mens nie in leef nie! Wie God nie vrees nie, het geen berou en derhalwe geen behoefte aan ʼn geestelike ommeswaai nie. Hy leef soos ʼn grotdiertjie en besef nie hoe groot sy donkerte is nie!
Gelowiges wat God wil behaag, moet Hom vrees. Sonder die vrees van die Here is dit onmoontlik. “Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevel dink om dié te doen” (Ps.103:17,18).
Die vrees van die Here is iets wat veral deur Bybelkennis ontwikkel. Rom.10:17 sê dat geloof kom deur die Woord van God te hoor. So ook die vrees van die Here. In Deut.31 word die Israeliete aangesê om elke sewe jaar bymekaar te kom om na die Woord van die Here te kom luister. Waarom? “….dat hulle kan leer om die Here te vrees” (vers 12). Die vrees vir die Here ontstaan net deur ’n deeglike kennis van die Woord van God.
Wat is ’n deeglike kennis van die Woord van God? – wanneer dit deeglik gelees word en nie net gunsteling-gedeeltes voor slapenstyd nie. Sommige mense lees net gedeeltes wat oor God se liefde, genade en lankmoedigheid handel en ontwikkel dan nie die vrees vir die Here nie. Ander ontwikkel weer ’n vrees vir oordeel, vuur en swawel uit die hel, en verstaan gevolglik niks van God se liefde nie.
Ons moet God se Woord reg verstaan en nie met wanbegrippe op loop gaan nie. Dit lei maklik tot dwaalleer waardeur duisende volkgenote al platgetrek is. “Want wie kan in die hemel met die Here vergelyk word?....’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is” (Ps.89:7,8).
“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor.7:1)
Ons het in die begin gelees dat die eerste gemeentes deur ’n vrees vir die Here gekenmerk is. Daarom het God het hulle geseën en die gemeentes laat groei.. Niks verhinder God om ʼn nuwe, opregte vrees en eerbied vir Hom onder die laaste gelowiges te laat posvat en die geskiedenis van die Christendom so af te sluit nie. Dit moet by elke opregte gelowige begin. Hoe lyk dit met jou?