Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons het ander mense in ons lewe nodig om hulle liefde te kan gee en om liefde te kan ontvang, mekaar te bemoedig in ons lewensstryd, en om te ontdek dat ons aanvaarbaar is. Meer belangrik nog, ons het ook hier op aarde iemand nodig om mee te kommunikeer. Daaroor het God ons as groepsgebonde mense geskape.
JESUS IS DIE ENIGSTE DEUR
“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind”(Joh.10:9).
Godsdiens het ontstaan toe mense van iets groter as hul eie bestaan bewus geword het; iets buite hul normale begrip. So het verskeie godsdienste deur die eeue ontstaan; elke met eie god, gode en aanbidders. Vandag is daar na beraming 10,000 godsdienste ter wêreld!
Ten spyte van groot onderlinge verskille het alle godsdienste iets in gemeen nl. die geloof in ʼn lewe na die dood. Desondanks waarborg slegs een van hulle dit; die Christendom. God het dit beskik dat daar net een brug na die ewige geluksaligheid is en slegs vir mense wat Jesus Christus as Verlosser aanvaar het en niemand anders nie. Jesus is die enigste brug tussen God en mens. “ ... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Waarom net Jesus? Omdat God Homself deur Jesus aan mense bekend gemaak het. By geleentheid vra Filippus: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien...” (Joh.14:8,9). As Jesus nie mens geword het nie, sou ons baie min van God geweet het.
Gevolglik is alle pogings om God buite Jesus te behaag sinloos. Daar is net een ware godsdiens – Christendom. Alle ander godsdienste is afgodediens. Gevolglik is daar net een deur waardeur mense die ewige heerlikheid na die dood kan betree – deur die bekering tot Christus. “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word...”
Die tradisionele Afrika-mens begryp feitlik niks hiervan nie omdat sy godsdiens met sy kultuur vermeng is en met booshede soos toordery, goëlery en voorvader-geestesaanbidding deurspek is. Godsdiens is vir hulle kultuur en kultuur is godsdiens. Hulle kan dit nie onderskei nie. Daarom dring die boodskap van verlossing in Jesus min tot hulle deur en is die vraag gevra of sendingwerk nie dalk pêrels voor die swyne is nie?
Afrika-godsdienste word aan ongekende geestesarmoede gekenmerk. Dit beskik bv. oor geen heilige geskrifte soos die Christendom nie. Hul godsdiens is deur die eeue mondelings van die een geslag na die ander oorgedra. Daar is niks op skrif waarna verwys kan word nie. Gevolglik is die Christendom se godsbegrip vir die Afrika-mens vaag en die noodsaak van sondeverlossing baie vreemd. Al waarna hulle uitsien is om ná die dood ʼn voorvadergees te word aan wie mense offers en gebede bring – onsigbare mag.
Die Heidelbergse Kategismus stel dit duidelik dat die pad na verlossing by die bewuswording van persoonlike sonde begin. Drie stappe – sonde, verlossing en dankbaarheid. Die verlossing van sonde en die verkryging van die ewige lewe verhef die Christendom ver bo enige afgodsdiens. Daarom Jesus se opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).
Die Bybel is duidelik dat daar net een deurgang na die ewige geluksaligheid is nl. Jesus. Ongelukkig word hierdie heilsfeit vandag in talle verloopte teologiese kringe bevraagteken. Ontspoorde teoloë verkondig openlik dat Jesus nie die enigste deur na die ewige geluksaligheid is nie, maar dat dit ook in ander godsdienste te vind is.
Gevolglik glo hulle dat die Christendom nie uniek is en bo ander godsdienste uitstaan nie. God is glo almal se hemelse Vader hetsy Islamiet, Boeddhis of Hindoe. Almal behoort aan een groot familie. Niemand staan buite nie.
Een van die mees omstrede persone wat dié leuen verkondig het, was Desmond Tutu, ʼn poppespelkarakter in pers kerklike gewaad. Hy het geen benul van die wedergeboorte, bekering en die doel van Jesus se lyding aan die kruis vir sonde verstaan nie en is so die ewigheid in.
Nee, die Christendom is uniek. Dis Jesus van die begin tot die einde. “ Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind” (Joh.10:7-9).
Die toneel van Joh.10 was ʼn baie algemene gesig – ʼn skaapstal waar herders hul skape oornag vir bewaking gelaat het. So ʼn stal het net die een deur gehad. In die OT lees ons dat die tabernakel en latere tempel ook net die een deur na die verbondsark gehad het. So is daar ook net een deur na die ewige geluksaligheid nl. deur Jesus.
Skape wat by die deur in die stal ingegaan het, was veilig. Om snags buite te moes wees, was gevaarlik. So ook op geestelike gebied. Om deur die geloof in Jesus se stal te wees, is geestelik veilig. Buite Hom is dit doodgevaarlik. Elke mens staan òf binne òf buite die stal. Strofe vier van gesang 100 lui: “Laat dit weerklink in alle ore, herhaal dit Heer van uur tot uur. Wie buite My is gaan verlore, die dorre rank is vir die vuur”.
Omdat die pad na die ewige saligheid deur Jesus loop, leer Protestantisme dat daar net een Middelaar tussen God en mens is – Jesus en Hy alleen en word die Roomse Kerk se aanbidding van Maria as afgodery verwerp.
Die Afrika-mens glo dat voorvadergeeste ʼn skans teen bose magte is. Dis bog! Jesus is die enigste skans daarteen. Ges.265 lui tereg: “’n Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom. Die sterke. Hy is ʼn vesting in die nood – vir ewig staan sy werke. Al kom die bose aan in sy oorwinnaarswaan, ons weet by al sy lis, sy lot is reeds beslis – God self stel aan hom perke”.
Om in die stal te wees, het die skape se veiligheid gewaarborg. Daarbuite was hulle aan talle gevare blootgestel. Hulle kon teen kranse afstort, prooi van rowers of roofdiere word. Dis net te gevaarlik! Net so is daar vir siele buite Jesus geen veiligheid nie; slegs binne in die stal.
Vir wie maak die hemelse Deurwagter oop? Vir elkeen wat deur die bekering kind van God geword het. Dit word nie vir onverskilliges oopgemaak nie al was hulle baie godsdienstig. Dink hier aan die Gelykenis van Maagde: “Meneer, maak vir os oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar.... ek ken julle nie”.
Hoe mis ʼn mens hierdie deur? Deur onverskilligheid asook kerkmisleiding. Wat ʼn oordeel wag daar nie op dwaalleraars wat verkondig dat daar ná die dood nog ander deure na die ewige geluksaligheid is nie! “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebr.10:31). Dank God vir elke leraar en kerkverband wat die Woord van God en die oproep tot bekering dringend en suiwer verkondig!