Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen van ons kom soms en heel dikwels by 'n laagtepunt waar ons nie reg weet hoe om te bid nie. Al wat nodig is, is om reguit met die Here te praat: "Here, wat sal ek vir hierdie dag vra? Buiten dat u goeie wil vandag geskied, weet ek nie wat om te vra nie; maar ek sal nie bang wees nie want U is oraloor, en steeds by my. AMEN".
AS GOD TOT DIE STRYD TOETREE
Ds A.E. van den Berg
“En toe Gídeon aankom, vertel 'n man aan 'n ander juis 'n droom en sê: Kyk, ek het 'n droom gehad: Daar rol 'n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar!” (Rigt.7:13).
Die boek Rigters vertel merkwaardige verhale van hoe God in sy volk se lewens ingegryp en hulle oor Satan se magte laat triomfeer het. In ʼn noodtoestand is mense bang vir dit wat moontlik met hulle kan gebeur. Gideon was ook bang. Toe God hom roep om sy volk van ʼn vyand te verlos, het hy die een verskoning na die ander gehad om nie te gaan nie. Miskien het Gideon gehoop dat God eerder iemand anders sou stuur. God het nie. Gideon was sy werktuig om Israel van die dreigende Satansmag te verlos.
Israel was gereeld deur vyande gepla, veral die Filistyne. In die tyd van Gideon was dit die Mideaniete. Hulle was talryker en meer gedug as enige ander vyand. Hulle sou Israel verpletter het as God nie tot hul redding gekom het nie.
Toe die engel van die Here vir Gideon sê: “Die Here is met jou, dapper held!” moes Gideon alreeds die oorwinningsklokke hoor lui het. Maar nie Gideon nie. Hy was tot die dood toe bang. Toe praat God self met hom: “ Toe draai die Here om en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Mideaniete, Is dit nie Ek wat jou stuur nie? “ (Rigt.6:14).
Die nag voor die beslissende slag het God vir Gideon aangesê om naby die vyandskamp te gaan skuil en te luister wat hulle sê. Gideon moes uit die mond van die vyand hoor dat God sy volk gaan red. Terwyl hy skuil hoor Gideon hoe die een Mideaniet vir sy makker van sy vreemde droom vertel. Hy droom van ʼn tent en ʼn rollende garsbroodjie wat dit tref en vernietig.
Die Mideaniet het onwetend bevestig wat God vir Gideon gesê het. Miskien het Gideon soos ʼn Petrus van ouds skaam gekry toe hy vir Jesus gesê het: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ʼn sondige mens”.
Is ons geloof miskien sterker as die van Gideon of Petrus? Is ons nie ook maar tot ʼn mate bang vir die toekoms en die skrikbewind waaronder ons leef nie? Moet die Here ons nie dikwels oor ons kleingeloof, traagheid en angs vir die toekoms laat skaam kry nie? Hy gee wonderlike beloftes in sy Woord. Desondanks kyk ons soos Petrus tydens ʼn storm op see na die golwe en vrees.
Die Mideaniet se droom onderstreep vir gelowiges ʼn groot waarheid –vir God beteken getalle niks as Hy sy wil uitvoer nie. In die Mideaniet se droom word die vyandige mag as ʼn tent voorgestel; geen toonbeeld van standvastigheid nie. Dit sou darem vir seker teen ʼn rollende garsbroodjie bestand gewees het of nie? Die Mideaniete was tog baie meer as die manne van Israel: “En die Mideaniete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte” (:12).
Ons kan Gideon nie verkwalik as sy knieë lam gevoel het nie. God het egter tot die stryd toegetree. ʼn Wonder gebeur! Die garsbroodjie begin deur ʼn onsigbare hand te rol, tref die tent en vernietig dit. God slinger soms ook die garsbrood van sy geregtigheid teen die magtige tent van die bose en onderstreek ʼn groot waarheid soos Jonathan later sou sê: “... want by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie” (1 Sam.14:6).
God bring ons soos ʼn Gideon weer in beweging. Hy maak ons geestelike litte wat styf van wanhoop was weer los en laat wonderwerke gebeur. Wat Hy destyds vir Israel gedoen het, het Hy al vir ons Boerevolk gedoen en gaan dit weer doen soos Siener van Rensburg in ʼn visioen gesien het.
Pas na die Tweede Wêreldoorlog het ʼn gelowige Duitse chirurg ʼn boek geskryf getiteld: EN AGTER ONS STAAN DIE HERE GOD. Gideon het dit op wonderbaarlike wyse ervaar. Agter sy klein 300 vegters het niemand anders as die grote God gestaan wat oorwinnings gee. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is...” (Ps.33:12).
Daarvan kan ons eie volksgeskiedenis getuig. Die Zoeloe-volk het onder Shaka as ʼn gedugte stam opgang gemaak. Nadat hy vermoor is, het Dingaan koning geword en op 6 Februarie 1838 vir Retief en sy gesante wat ʼn grondkontrak wou sluit, koelbloedig vermoor waarna die wrede Bloukransmoord gevolg het.
Met dit as agtergrond het Andries Pretorius ʼn Wen-kommando saamgestel om met die wreedaards te gaan afreken. Op Sondag 9 Desember 1838 het Sarel Cilliers die erediens gelei en ʼn plegtige gelofte afgelê wat saans herhaal is.
Op 15 Desember het twee Boere-verspieders alarm gemaak. ʼn Reuse Zoeloemag van 20,000 krygers was oppad. Die Voortrekkers het hul waens in ʼn semi-sirkel getrek, aan mekaar vasgebind en die aand lanterns rondom die laer laat brand. Dit was ʼn donker, maanlose nag met ʼn miskombers wat laag gehang het.
Cilliers het daardie aand vir oulaas die aandgodsdiens gelei en die gelofte aan God herhaal. Hulle het die onsigbare God in die geloof genader om die sigbare onmoontlike te vermag. Hulle politieke strewe was nooit los van hul hulle geloofsbeskouinge nie.
Intussen het die Zoeloes nadergesluip en op die daglig gewag om aan te val. Toe die miskombers die oggend lig, het dit dan ook gebeur. Die geveg het die hele dag geduur waarna die Zoeloes gevlug en verslaan is. God het weereens die tent van die Satansmag met ʼn garsbroodjie getref.
Gideon en die Voortrekkers het geleer dat geloof in God sterker as fisiese krag en geesteskrag waardevoller as rykdom is. Geloof is geestelike nagsig. As die vlam van geloof helder brand, is geen donkerte vir gelowiges te groot nie.
Wie sou kon dink dat 400 krygers 20,000 vyande sou oorwin? Tog het dit gebeur. Wat leer ons uit die Bybel asook ons eie volksgeskiedenis? Dat sonder geloof niks moontlik is nie maar met geloof niks onmoontlik is nie.
Die Voortrekkers het met die Gelofte aan God hul kinderlike afhanklikheid van die almagtige, reddende hemelse Vader betuig. Hy het hulle tegemoet gekom, die garsbroodjie gerol en hulle van gewisse uitwissing gered.
Waarom kan dit nie weer gebeur nie? Bid ernstig tot God om ook vir ons Boerevolk ʼn garsbroodjie teen die tent van die plaaslike satans te slinger en ons volk te red!