Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe weet ons as Christene vandag dat dit wat ons leer die volle waarheid is? Het ons absolute sekerheid? Ja, ons het - slegs in die Woord van God! Soos wat die profete deur die Heilige Gees begeester is om die Bybel te skryf, lei die Gees kinders van die Here om in die lig van die waarheid te wandel.
BEPROEWING IS GOED VIR JOU
Ds A.E. van den berg
“Ag, dit louter vreugde my broeders, wanneer julle in allerhande versoekings val… sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees…” (Jak.1:2,4).
Aan die ooskus van Amerika is daar ’n plek, Cape Cod, waar beroepsvissers ’n geurige tipe van salm vang. Fynproewers bestempel hierdie salm as die beste ter wêreld. Dis dan ook een van die gunsteling geregte op die spyskaart van die Withuis. Nogtans was daar een probleem – kokke kon die salm nooit dieselfde laat smaak as by die kus nie. Dit was baie lekkerder by die kus.
Iemand kry toe ’n blink dog baie duur plan – in plaas van die salm bevrore Washington toe te vervoer, is die visse lewendig in vragmotors met seewater tenks agterop van Cape Cod na die hoofstad vervoer. Maar wat ’n teleurstelling – die smaak het nie verbeter nie! Waar kon die fout lê?
Eers nadat ’n fout gemaak is, het hulle agter die kap van die byl gekom – terwyl die salm na die vragmotors oorgepomp is, het daar per ongeluk ’n paar salm-haaie saam met die salms in die tenk beland. Hierdie haaie is die salm se natuurlike vyand. Toe hulle in Washington aankom, was daar ’n paar salms minder terwyl ’n paar baie tevrede salm-haaie in die tenk rondgeswem het.
Toe hierdie salm op die tafel beland, was die smaak onverbeterlik. Van toe af is die salms nie weer sonder ’n paar salm-haaie binneland toe vervoer nie. Die haaie het die salms vlugtende aan die swem gehou wat dit geurig laat bly het!
Ons leer hieruit ’n groot les – ons vra so graag waarom daar soveel lelike dinge in die lewe is? Waarom wissel die lewe tussen lig en donkerheid, vreugde en droefheid, kalmte en onweer? Waarom nie konstante sonskyn en rustigheid nie?
Sonskyn en rustigheid sou ons pap. smaakloos en soos die Bybelse sout laf gemaak het. Kalm weer maak nie goeie matrose nie! Daarom beskik God van tyd tot tyd haaie in ons lewenstenk wat ons rondjaag om ons vir God smaaklik te hou.
Is teenspoed en smart dan ’n voorwaarde vir geestelike groei? Moet ’n mens swaarkry om vir God iets te beteken? Nee, dis nie ’n absolute voorwaarde nie. Nogtans praat die Here dikwels duideliker met ’n mens in tye van teenspoed. As dit net goed met jou gaan, kan ’n mens later dink dat jy God nie meer nodig het nie, want jy kan in jou eie behoeftes voorsien. En dan gebeur daar op ’n dag ’n baie onaangename ding wanneer ’n lewensorkaan skielik in jou lewe woed en verwoesting saai om jou tot jou sinne te bring.
Jakobus skryf aan gelowiges wat weens hul geloof in Christus vir hul lewens moes vlug en al hulle besittings agtergelaat het. Hierdie periode word die verstrooiing genoem. Ná Pinksterdag het dit ontsettend goed met die gemeente in Jerusalem gegaan totdat Stefanus gestenig is en baie Christene uit vrees vir hul eie lewe uit Jerusalem gevlug het. Dit was ook deel van God se plan om die Evangelie verder as Jerusalem te versprei.
In hierdie tyd het Christus dit op drie apostels se harte gelê om aan hierdie ontredderde gelowiges te skryf ten einde hulle te bemoedig. Daarom word dié skrywes Sendbriewe genoem; dis soos ’n omsendbrief van die een groep na die ander versprei. Hulle was almal in dieselfde omstandighede; wat vir die een gegeld het, het ook vir die ander gegeld. Al waaraan hulle vasgehou het, was ’n lewende geloof in Christus en dit was ’n gawe van God, iets wat hulle nooit onder sulke omstandighede kon opwek nie, maar van God ontvang het.
Hulle geloof het onder hierdie moeilike omstandighede opgebloei en soos ’n boom wortel geskiet en die stormwinde van vervolging trotseer. Hoe moeiliker dit geword het om die geloof te behou, hoe dieper het hul geestelike wortels op soek na die vog van God se genade afgesak. Hulle geloof het onder die grootste druk gegroei!
Daarom skryf Jakobus: “Ag, dis louter vreugde my broeders, wanneer julle in allerhande versoekings val…” Hy simpatiseer nie met hulle nie, maar groet hulle op ’n vrolike noot en verheug hom daarin dat dit onder omstandighede goed met hulle geloof gaan want agter hulle lyding was God se leiding.
God gebruik dikwels beproewing om afgedwaalde mense tot inkeer te bring. Dink aan die Verlore Seun wat eers tussen die varke moes beland voordat hy tot inkeer gekom en na sy vader teruggekeer het. Ja, die mens se verleentheid is so dikwels die Here se geleentheid!
Peter Marshall was baie jare gelede die kapelaan van die Amerikaanse Senaat. By geleentheid het hy as volg voor die Senaat gebid: “Here, as ons te vinnig beweeg, druk maar’n gaatjie in ons wiele sodat dit kan pap raak en ons moet stilhou!” En dis wat die Here dikwels met teenspoed doen; Hy bring ons tot stilstand sodat ons die oë net op Hom moet vestig.
Beproewing is nie altyd sleg nie. Dis dikwels die sout wat ons nodig het om die lewe teen smaakloosheid te beskerm. God laat gelowiges selfs struikel om te verhoed dat hulle ernstig val. Soos wat ’n skerpmaker ’n potlood wat stomp is, skerp maak, gebruik God selfs beproewinge om ons wat in die geestelike lewe afgestomp het weer vir Hom skerp te maak.
Hoe dikwels het dit nie gebeur dat gelowiges in die vallei van beproewing sterk vlerke gekry het nie. Jou geloof word aan die beproewing wat jy verduur, gemeet. Jy bereik dikwels niks groots sonder beproewing en behou niks groots sonder oorwinning oor beproewing nie.
In Dan.3 lees ons van Daniël se drie vriende wat in die vuuroond beland en koning Nebukadneser wat vier manne in die oond gesien het. Baie gelowiges wat al in die vuur van beproewing beland het, het daarna getuig dat God met hulle in hul beproewing was.
Dank God dat gelowiges geen beproewing het waarvan Jesus nie weet nie. Niks gebeur met ons waarvoor God ons nie die nodige krag tot aanvaarding en selfs oorwinning gee nie.
Beproewing maak mense geestelik ryp. Hoe meer die priëel gesnoei word, hoe groter druiwe dra dit. Ja, hoe moeiliker die lewe, hoe beter die mens. Jakobus sê vir sy lesers dat die gehalte van ’n Christen se geloof in tye van beproewing op die proef gestel word. God hang dikwels swaar gewigte aan dun draadjies, altans so voel dit baie keer vir ons, maar daardie draadjies breek nie.
Jesus sê in die Bergpredikasie dat gelowiges lig van die wêreld moet wees. Ons moet lig verskaf en skyn! Om lig te verskaf, moet ons hitte kan hanteer. Dink hieraan: As daar geen hitte was nie, was daar ook nie diamante nie. Ook nie in geestelike sin nie!
As dinge vir jou verkeerd loop, het God miskien ’n doel met jou. Moenie oor die salm-haaie kla nie. Hulle dien ’n goeie doel. Ons is in die pylvak van Jesus se wederkoms. Die laaste hoofstuk in die kerkgeskiedenis word soos die eerste een afgesluit – vol beproewing vir gelowiges. Ons weet egter dat ons pad van beproewing na ʼn paleis van heerlikheid lei. Laat ons eerder saam met God in ons teenspoed as sonder Hom in ons voorspoed leef.