Ds A.E van den Berg
Die moderne mens het met verloop van tyd sy eertydse vaste vertroue in die Woord van God na die wetenskap en derhalwe menslike intellek verskuif. Dis geglo dat daar verby die era van godsdiens absolutisme gegroei is.
Willard Libby, vader van die koolstofdateringsteorie in 1952 (ook C14genoem), was een van hulle. Volgens hierdie teorie kan die ouderdom van materie wat koolstof bevat, oënskynlik korrek gedateer word. Ten spyte daarvan dat dit ʼn hipotese is, het hy ʼn Nobelprys vir sy “ontdekking”ontvang.
Sy teorie weerspreek die Bybelse verhaal van die skepping en stel dit as ʼn feit dat die aarde eerder miljoene jare oud is. Dis onsin. Luk.3:23-38 beskryf 77 geslagte van Adam tot by Christus wat ongeveer 4000 jaar oorspan. Jesus het ongeveer 2000 jaar gelede geleef. Gevolglik is Adam ongeveer 6000 jaar gelede geskape. In Jesus se eie woorde was Adam aan die begin van die skepping geskape (Mt.19:4; Mark.10:6) en is die skepping derhalwe niks ouer as 6000 jaar nie.
Die sondvloed het ongeveer 1600 jaar later plaasgevind en die aarde vir bykans ʼn jaar met water bedek. Dit as sulks maak die C14 teorie ʼn leuen. Ironies genoeg het talle voorbeelde van lewende materie wat aan C14 onderwerp is, getoon dat dit al duisende jare gelede dood is!
Omdat dit die Evolusieteorie onderskryf, word dit wêreldwyd as ʼn tipe van wetenskaplike evangelie aanvaar. Eersgenoemde is ʼn werktuig van Satan wat ongeloof saai en verwarring maai. Geen dwaasheid is egter so vergesog dat mense dit sal glo nie.
Ongelowiges se aanvaarding van leuens is eie aan die mens. Adam en Eva het in die Tuin van Eden self besluit om God se opdrag te minag en vir hul nageslag ʼn poel van kennis op grond van eiewillige sienings geskep.
Die C14-toets verwerp goddelike openbaring, verheerlik eiewillige sienings wat mense in die vuil water van onverskilligheid laat voortploeter. Dis ʼn verterende blindheid van die siel wat mense blind vir Bybelse waarhede maak en laat ontspoor. Omdat blindes die son nie kan sien nie, beteken dit nie dat dit nie daar is nie. Net so is dit met die Evangelie – as geestelike blindes dit nie sien nie beteken dit nie dat dit nie bestaan nie.
Die Bybel is die enigste bron van objektiewe feite en die wêreld van Bybelse feite groter as dié van mense se misgissings. Om feite met verbeelding te vermeng, kan miskien nog gaan, maar nie om verbeelding met feite te probeer bewys nie. Dis verregaande dwaasheid!