Ds. A.E van den Berg
“Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Mt.25:41).
Inleiding
Skrifgetroue leraars wat oor die hel en ewige verdoemenis preek, word soms verwyt dat hulle mense daarmee wil bang maak. Die Bybel is egter baie duidelik dat die hel wel bestaan en ʼn plek in die Evangelieprediking moet kry. Sulke prediking mag egter nooit van dié van versoening geskei word nie.
Nogtans word die bestaan van die hel dikwels bevraagteken deur mense wat reken dat dit met God se barmhartigheid bots. As God liefde is, hoe kan daar dan 'n hel wees? Ongelukkig verdwyn die hel ook al hoe meer buite die gesigsveld van talle ontspoorde hoofstroomkerke.
1.Nie van hierdie wêreld
Die Bybel gebruik vreesaanjaende taal om die hel en die pyniging daarin te beskryf. God het al dikwels mense met fisiese vuur gestraf soos met die verwoesting van Sodom en Gomorra. Gedagtig aan die pyn wat fisiese vuur ʼn liggaam aandoen, is die vlamme van die hel baie erger en feitlik onmoontlik om dit te beskryf omdat dit nie van hierdie wêreld is en nie in aardse taal uitgedruk kan word nie.
Die meeste mense glo verkeerdelik dat die hel ʼn fisiese vuur is. Indien dit so is, wat dan van die gevalle engele wat nie fisiese liggame het nie maar ook in die hel gewerp en gepynig gaan word? Nee, die vuur van die hel is geestelik en nie fisies nie en die poel van vuur ʼn dramatiese metafoor wat van diep, geestelike worstelinge spreek.
Hierdie vuur kan nie letterlik opneem word nie omdat dit met die duisternis waarvan Jesus praat, sal bots.
“En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mt.25:30).
Die geween dui op ʼn gemis en die gekners van die tande op wroeging.
“En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie” (Mark.9:43-46).
Die ewige vuur en buitenste duisternis sluit mekaar uit. Die vuur waarvan Jesus praat, is die beeld van God se straf na buite en die wurm die beeld van sy strafgerig na binne. Die wurm dui op die innerlike wroeging wat onophoudelik bly knaag. Dit sterf nie en die vuur word nie geblus nie en is ʼn ewige straf.
2. Lukas 16
In Luk.16 vertel Jesus van ʼn bedelaar en ʼn jongman wat kort na mekaar gesterf het, maar waarvan die siele steeds lewendig is. Die jongman se siel is dors:
“ En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam: (:24).
Siel, vuur en water is in die hiernamaals aanwesig. Die vuur is egter geestelike vuur en dus anders. Fisiese vuur maak ʼn liggaam seer en word deur water geblus. Geestelike vuur maak die siel seer en is onuitblusbaar. Uit Luk.16 is dit duidelik dat siele geestelike vingers het wat in geestelike water gesteek kan word. So ook geestelike oë en ore. Siele kan praat en onthou!
Die vuur van die geesteswêreld verteer nie siele nie, maar behou dit. God het vir hulle ʼn vuur bestem wat met iets anders as aardse vuur onophoudelik brand. Dis ook nie ʼn plek waar Satan en sy demone verlorenes pynig nie. Satan is nie God se stoker nie.
3. Die tweede dood
In Opg.20 word die hel as die tweede dood beskryf. Dis ʼn ewige verlies aan toegang tot God en ongelowiges is vir ewig van God se teenwoordigheid uitgesluit. Dis die uiteindelike gevolg van sonde - om geheel van God afgesny te wees.
Fisiese lyding is nie noodwendig die ergste lyding nie. Toe Jesus aan ʼn kruis gehang het, was sy lyding bomenslik. Sy uitroep:
“ .. My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt.27:46) het seerder as die dorings, spies en spykers gemaak.
Talle sendelinge het al getuig dat hulle in wêrelddele gekom het waar die geestelike duisternis so dik was, dat dit as’t ware met ʼn mes gesny kon word. Baie ander mense het ook al die aanwesigheid van Satan en sy demone (die magte van die duisternis) by geleenthede duidelik aangevoel!
Die skeiding en afwesigheid van God is die ergste lyding. In Eseg.18:4 beteken “ ... die siel wat sondig, dié moet sterwe” om vir ewig van God geskei te wees. Soos wat die fisiese dood die skeiding van die siel van die liggaam is, is die geestelike dood die skeiding van die siel van God en iets verskriklik. Die jongman smeek:
“Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie (Luk.16:27,28).
Een van die ergste dinge van ʼn ewigheid sonder Jesus is dat verlore siele onthou wat hulle op aarde verbrou het. Hulle onthou hoe hulle na die verlossingsboodskap geluister maar hul nie bekeer het nie of hoe hul ouers vir hul bekering gebid het, maar hulle hul nie daaraan gesteur nie. Siele in die ewigheid onthou!
“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het....” (Luk.16:25).
Ongelukkig vrees die meeste mense die hel in plaas van God. Jesus sê:
“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28).
Die hel gaan in werklikheid nie soseer oor vuur nie, maar oor God:
“Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (2 Thess.1:9).
Slot
Teenoor die ewige verderf staan die ewige heerlikheid wat God vir gelowiges voorberei het en waarvoor hulle Hom nooit genoeg sal dank nie!
“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openb.22:17)