Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom is ons bang vir die dood as ons weet dat ons geliefdes op ons wag? Om met hierdie wete te sterf, is in werklikheid ʼn wonderlike avontuur!
GOEIE BURGERS, GOEIE REGERING
Ds A.E. van den Berg
"Naas oorlog is swak regerings die skadelikste vir ʼn land. Die belangrikheid van ʼn kundige kieserskorps kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie en bepaal staatkundige voor- of teenspoed. Ongelukkig kies dwase gereeld leiers wat eens voorspoedige lande tot bankrotskap omskoffel soos bv. met Suid-Afrika en Zimbabwe gebeur het."
“Godsdiens en sedelikheid is onmisbaar vir enige goeie regering” (George Washington).
Inleiding
Sommige mense glo dat politiek vuil is en die Bybel gevolglik niks daaroor sê nie. Dis onwaar. Die Bybel handel interessant genoeg net 30% oor geestelike sake en die res oor politieke sake soos bv. gemeenskap- en regsake. Politiek is ʼn heilige saak wat ordelike samelewings wil skep en God is ʼn God van orde:
“Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor.14:40).
Jesus het tydens sy aardse bediening talle geestelike beginsels neergelê om ʼn ordelike samesyn en ʼn gesonde gemeenskap te laat verwerklik. Alle mag kom immers van God. Jesus sê vir Pilatus:
“...U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie ...” (Joh.19:11).
Burgerlike gesag is deur God ingestel om wetsgehoorsame burgers te beskerm en oortreders te straf:
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).
Jesus het telkens die OT wette teen moord, diefstal en egbreuk herbevestig. Ook dié oor oneerbiedigheid teenoor ouers en meineed (Mt 15:4;19:18). Hy het ook die reg op die privaatbesit van eiendom, vryemarkstelsel en winsneming onderskryf (Mt 20:1-15; 25:14-30).
1. Dienaars
Magshebbers is nie veronderstel om despote te wees nie, maar dienaars:
“En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien” (Luk.22:25,26).
Die ontwerp van burgerlike regering as dienaar is eie aan die Christendom en op Bybelse beginsels gegrond. Wie oplossings vir gemeenskapsprobleme buite die Bybel soek, loop telkens ʼn bloutjie. Oplossings word nie met nuwe wette of ingrypende veranderings aan gemeenskapstrukture verkry nie, maar slegs in gehoorsaamheid aan Bybelse beginsels.
Jesus leer dat as sondaars se harte en verstand nie vernuwe word nie, niks aan die toedrag van sake verander nie:
“Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak...” (Mt.15:18-20).
Ware vryheid kom van slegs van binne die mens. Alles daarbuite is kunsmatig en karikature van vryheid. Daarom moet ʼn volk wat vry en voorspoedig wil wees, wedergebore leiers hê wat as getroue rentmeesters van openbare bronne nougeset nakom en nie steel nie.
2. Eerbare leiers
Naas oorlog is swak regerings die skadelikste vir ʼn land. Die belangrikheid van ʼn kundige kieserskorps kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie en bepaal staatkundige voor- of teenspoed. Ongelukkig kies dwase gereeld leiers wat eens voorspoedige lande tot bankrotskap omskoffel soos bv. met Suid-Afrika en Zimbabwe gebeur het.
Om voorspoed te verseker, moet ʼn kieserskorpsgoed ingelig wees en, soos in die ou Attiese state waar demokrasie sy ontstaan gehad het, altyd gekeur word. Om bloot net koppe te tel, is doodsake. Koppe moet by wyse van spreuke altyd geweeg word.
Eerbare leiers is vir ʼn land meer as minerale rykdomme werd. Hulle stel ʼn voorbeeld vir burgers om eerlik, verantwoordelik, hardwerkend en pligsgetrou te wees. Waar dit ontbreek, gaan ʼn land ten gronde. Wie hulself nie kan beheer nie, moet nooit regeer nie(Spr.16:32).
3. Sleutelbeginsels
God het in oud-Israel 10 sleutelbeginsels vir ʼn ordelike burgerlike regering neergelê:
(i) ʼn Geskrewe grondwet (verbond) wat op God se Woord gegrond is en die mag van ʼn burgerlike regering omskryf asook beperk het.
(ii) ʼn Skeiding van mag en funksies met drie vertakkings – ʼn uitvoerende (koning of regter), wetgewende burgers (die Raad/Sanhedrin) en geregtelike persone (ouderlinge of regters) in elke gemeenskap.
(iii) ʼn Onafhanklike regstelsel en die reg op ʼn regverdige verhoor (2 Kron.19: 5-7).Deut. 19:15-19 spel laasgenoemde duidelik uit. ʼn Aangeklaagde is onskuldig totdat hy skuldig bevind word. Getuies moet die beskuldigde persoonlik konfronteer en ʼn saakdeur twee of drie getuies aanhangig gemaak word. Regters moet onpartydig wees.
(iv) Daar moet ook ʼn nasionale wetgewer (wetmakende instelling) wees met twee huise. Een daarvan moes uit verkose verteenwoordigende regters of amptenare bestaan wat verkies is(Deut.1:13–17).
“Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien” (Ex.18:21).
(v) ʼn Tweede huis het uit twee ouderlinge van elk van die 11 stamme van Israel saam met die 24 priesters uit die stam van Levi en twee skrifgeleerdes uit elk van die 12 stamme bestaan en is die Sanhedrin genoem.
(vi) Dan was daar ook ʼn uitvoerende beampte (regter of koning) wat deur gebed tot God verkies en deur ouderlinge goedgekeur is (Deut.17:14-20; 1 Kron.11:3).
(vii) Voorts was daar ʼn plaaslike regering wat verantwoordelikhede en sekere magte na die gesin en enkelinge afgewentel het om die vorming van ʼn eenheid-staat te verhoed. Let daarop dat die saambondeling van mag in ʼn eenheidstaat heidens van oorsprong is soos in oud Egipte en Babilonië die geval was.
(viii) ʼn Weermag wat uit deeglik opgeleide burgers bestaan het, was gereed om ter verdediging van die burgers, gesinne, gemeenskappe en volk as geheel op te tree (Num 1:2-3; Rig 3:2).
(ix) ʼn Vryemark-ekonomie wat op privaateienaarskap van eiendom en vrye ondernemings geskoei was, het ekonomiese vooruitgang bevorder. Enige belasting hoër as 10% is as onderdrukkend beskou. Erfenisbelasting was ook taboe. So ook onregmatige mate (inflasie) en gewigte (valuta) (Ex. 20:15,17; Deut.19:14; Spr. 10: 2-4; 1 Sam 8:10 – 18 en 1 Kon 21:3).
(x) ʼn Onderwysprogram wat deur ouers met behulp van die kerk en staat onderhou is, was noodsaaklik (Deut. 6:7; Esra 7:23,24; Mt 28:19; Efes.6:4 en Kol 2:8).
4. Die Tien Gebooie
Die Tien Gebooie verskaf nie net die grondslag vir goeie gemeenskapsorde nie, maar ook vir talle ander regte. Elke gebod handel oor ʼn sekere lewensgebied: God, aanbidding, spraak, tyd, gesag, lewe, liefde, eiendom, waarheid en die gewete. Dit spreek gelowiges se verantwoordelikheid teenoor God, ouers en ander mense aan en gehoorsaamheid daaraan het vir eerbied aan God, mense en eiendom gesorg.
Elke gebod bevat ʼn verbod soos bv. “Jy mag geen gode voor my aangesig hê nie” wat afgodery en ateïsme verbied. Wanneer die derde gebod godslastering, valse profesieë en goddeloosheid verbied en die negende een meineed, skinder of lastering verbied, lê dit die enigste beperkings op vrye spraak.
Behalwe om afgodsdiens in die tweede gebod te verbied en gierigheid en selfsug in die 10de, is daar ook vryheid van gewete. Die sesde gebod verbied moord, selfmoord, aborsie en genadedood wat die reg op lewe gebied. Die sewende gebod verbied onsedelikheid en beskerm die heiligheid van die huwelik. Die agtste gebod verbied diefstal en bedrog en beskerm die reg op privaateiendomsbesit.
5. Slegte wetgewing
Goeie wette sorg vir gehoorsame burgers, iets waaraan Suid-Afrika toenemend mank gaan. Wet en geregtigheid is nie meer dieselfde as in die verlede nie. Sommige van die nuwe wetgewings is so onbillik en beperkend dat burgers sukkel om dit te gehoorsaam en selfs omseil.
Swak regerings maak van enige land ʼn misdaadparadys. Misdaad word nooit hokgeslaan deur wetsgehoorsames aan bande te lê nie. Wie dit doen, los nie probleme op nie maar herrangskik dit eerder en verstop die pyplyn van nasionale voorspoed.
Wanneer die wet dit vir burgers moeilikmaak om hul behoeftes te bevredig, ontstaan swart markte wat selfs gevaarlike produkte verskaf. Dit skep ook geleenthede vir misdadigers om voordele wat normaalweg nie moontlik sou wees nie, daaruit te trek. Dit wat beweeg, word belas en dit wat ophou beweeg gesubsidieer.
Reuse maatskaplike voordele vir luiaards en hoë belastings vir yweriges skreeu aan die suidpunt van Afrika ten hemel. Dit maak misdaad makliker en vervolging moeiliker. Klein diewe word opgehang en grotes vereer. Dis soos spinnerakke wat klein insekte vang maar grotes deurlaat.
Vervolgings is dikwels stadig en onseker en laat oortreders makliker skotvry van misdaad afkom. Reg wat uitgestel word, is reg wat geweier word.Verhore is dikwels onredelik en regters bevooroordeeld. Daarbenewens veroorsaak die wettiging van teenproduktiewe maatstawwe ernstige frustrasie en wantroue in die wet.
Slot
Die dodelike verbintenis van politieke onstabiliteit en ekonomiese verval, maak van oorlewing ʼn nagmerrie. Gelowiges smag na ’n bedeling waar God en sy gebod geëer en burgers teen booswigte beskerm word:
“Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort ... Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom” (Amos 5:15,24).
.