GELOWIGES EN VERVOLGING

ʼn Onvermydelike werklikheid

Ds. A.E van den Berg

Inleiding

Nie alle mense neem met die verkondiging van die waarheid van God se Woord genoeë nie. Dis vir talle ʼn hindernis wat liefs uit die weg geruim moet word. Die gevolg is dat Evangelie-verkondigers van meet af aan vervolg en in baie gevalle selfs gedood is. Jesus eindig sy saligsprekinge met:

Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Mt.5:12).

In Stefanus se verdediging voor die Joodse raad sê vir hulle:

Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie?...” (Hand.7:52).

Jesus sê:

“Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg” (Luk.11:49).

Die haat vir waarheidsverkondiging sal tot die wederkoms van Christus voortduur.

1. Die profete van die Bybel

Die OT gee relatief min besonderhede oor hoe die Bybelse profete vervolging beleef en hanteer het. Jeremia sien homself as ʼn mak lam wat ter slagting gelei is (Jer.11:9).

Die profete is op twee maniere vervolg; eerstens deur hul boodskap summier te verwerp en tweedens met fisiese geweld. Eersgenoemde het met spottery en verkleinering gepaard gegaan soos Elisa ervaar het:

En daarvandaan het hy opgegaan na Betel; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!(2 Kon.2:23).

Jeremia kla:

“ .... ek was ’n belagging die hele dag, almal saam spot met my” (Jer.20:7).

Jesus moes ook spottery vir sy amp verduur:

En die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan. En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en gesê: Profeteer wie dit is wat U geslaan het” (Luk.22:63,64).

Die Joodse Kerklui het by geleentheid Jesus se wonderwerke selfs aan die werking van die satan toegeskryf en hom later as ʼn valse profeet laat kruisig.

Vervolgers het die geskrewe sowel as gesproke profetiese woord by talle geleenthede verbied en selfs vernietig:

“Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jes.30:9-11).

“En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ’n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was” (Jer.36:23).

“Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As ’n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie!” (Miga 2:6).

“Maar julle het ... aan die profete bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie! ... Maar in Betel mag jy verder nie meer profeteer nie...” (2:12; 7:13).

“Toe sê Amasia vir Amos: Gaan weg ... Jy mag nie teen Israel profeteer nie...” (Amos 7:12,16).

Profete het tweedens ook fisiese geweld ervaar. Miga is bv. aangerand:

“Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Hoe dan het die Gees van die HERE van my af weggegaan om met jou te spreek?” (1 Kon.22:24).

“Toe het Pashur die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit....” (Jer.20:2). 

“En die vorste het vir Jeremia baie kwaad geword en hom geslaan en hom in die gevangenis gesit in die huis van die skrywer Jónatan; want hulle het daar ’n gevangenis van gemaak ... en baie dae gebly ...”

Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak” (Jer.37:15,16; 38:6).

“Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het, nadat Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, hom vrygelaat het uit Rama deur hom te laat haal, terwyl hy met kettings geboei was ... “ (Jer.40:1).

Sommige profete is doodgemaak:

“Toe het die Gees van God Sagaria, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.  Daarop smee hulle ʼn sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die Here” (2 Kron.24:20,21).

Die NT meld dat Johannes die Doper deur koning Herodes vervolg en onthoof is omdat hy die moed gehad het om hom oor sy ergerlike lewe te berispe.

Jesus gee alle rede om te glo dat baie meer mense waarvan die name nie bekend is nie, ook ter wille van hul profetiese woord vervolg en gedood is:

“ ... Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg, sodat van hierdie geslag geëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af” (Luk.11:49,50).

 

2.   Probleemareas

Profete het met drie groot probleemareas te kampe gehad. Eerstens probleme met mense, tweedens om God se opdrag vreesloos uit te voer en derdens om as mens met hul eie gemoedstoestand te worstel. Elia is ʼn sprekende voorbeeld van laasgenoemde:

“ ... En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie” (1 Kon.19:4).

Een van die onaangenaamste ervarings van ʼn profeet is teenstand deur eie volksgenote. Sulke profete word selfs as moeilikheidmakers gebrandmerk:

En net toe Agab Elia sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel” (1 Kon.18:17).

Daarom sê Jesus:

“’n Profeet is nie geëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis” (Mt.13:57).

Profete het soms opgesien om God se opdrag onverskrokke uit te voer:

“.... want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek” (Jer.1:7).

Mense probeer profete deur die eeue heen te manipuleer en die boodskap ter wille van groter aanvaarbaarheid af te water:

“Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jes.30:10,11).

Paulus waarsku dat sulke versoekings aan die einde sterk gaan toeneem:

“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3).

Profete moes dikwels God se boodskap herhaaldelik oordra:

“En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg ... Maar julle het geen gehoor gegee en na My nie geluister nie” (Jer.35:15).

“...verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2).

Profete moes geduldig op die vervulling van God se beloftes wag:

Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het... Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jak.5:10,11).

Vervolging het die vroeë kerk wel verstrooi maar nie vernietig nie:

“... En daar het in dié tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria, behalwe die apostels”(Hand.8:1).

Profete ontvang loon in die hemel:

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” (Mt.5:10,11).

Toe sommige profete die dood in die gesig gestaar het, het God selfs sekere mense bestem om hulle te help. Obadja, koning Agab se paleisbestuurder, het byvoorbeeld 100 profete in twee grotte versteek en versorg (1 Kon.18:3). ʼn Welgestelde vrou het weer vir Elisa ʼn eie blyplek ingerig as hy in die omgewing was (2 Kon.4:8-10).

Jesus het ʼn goeie woord vir sulke mense:

Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die loon van ’n profeet ontvang...” (Mt.10:40.41).

3.   Die sin van vervolging

Die verkondiging van God se Woord is veral in tye van godsdiensafvalligheid ʼn rewolusionêre daad wat teenstand en selfs vervolging moet verwag. Mense wil nie aan hul verkeerde lewensstyl en oordeel van God herinner word nie soos wat Stefanus ondervind het:

Maar hulle het met ’n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm” (Hand.7:57).

Dat verlossing alleenlik deur die soenverdienste van Christus geskied, is vir baie mense onaanvaarbaar. In Galasië het sommige gemeentelede geglo dat hulle steeds die insettinge van Moses moes onderhou, veral die besnydenis. Die rede hiervoor was dat hulle bang vir vervolging was en derhalwe die waarheid ter wille daarvan opsy geskuif het:

“Almal wat ’n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie” (Gal.6:12).

Wie hul met die verlossing in Christus vereenselwig, moet vervolging verwag:

En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan.Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand.5:40-42).

Toe God vir Ananias na die pas-bekeerde Paulus gestuur het, sê Hy vir hom:

Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand.9:16).

Christene sal vervolg word omdat hulle waardes, gedrag, gedagtes en leefstyl anders as die sondige wêreld is:

Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh.4:4-6).

Wêreldlinge haat andersheid:

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh.15:18,19).

Dit sal aan die einde van die tyd baie toeneem:

Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (Mt 24:9).

Vervolging is niks vreemds vir die kerk nie.

En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim.3:12).

Die Hebreër-briefskrywer sê dat nie net die gelowiges nie maar ook hul naasbestaandes geteister word:

“...gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ’n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ’n toestand verkeer het” (Hebr.10:33).

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pet.4:12).

4. Vervolging en getuienis

Alhoewel die waarheid van God se Woord vir sekere mense onaanvaarbaar is, het die mensdom desondanks ʼn behoefte daaraan. Vervolging is ʼn lewende getuienis van die krag van die Evangelie. Die kerkgeskiedenis getuig van hoe vervolging sekere ongelowiges tot bekering laat kom het.  

Die woord martelaar kom van die Griekse woord wat getuie beteken. Dis deur die vroeë kerk gebruik vir mense wat vir hul geloof gely en gesterf het. In die dieptes van beproewing het baie gelowiges al lesse geleer wat hulle nooit op die hoogtes van hul lewe sou vind nie. Hulle het getrou aan God gebly en geweier om die waarheid te verloën:

“Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond... word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit...”(1 Kor.4:11-13).

“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Kor.4:8,9).

Soms is dit ook nodig om vir vervolging te vlug, nie weens ʼn gebrek aan geloof of lafhartigheid nie, maar die gebruik van gesonde verstand:

“En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe...” (Mt.10:23).

5.   Anderse mense

Vervolging leer gelowiges dat die lewe nie net uit wêreldse dinge soos gemak, luukshede, voordele of aanvaarding bestaan nie. Gelowiges is burgers van ʼn ander wêreld wat na die heerlikheid daarvan smag:

“Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom.8:18).

Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het” (Hebr.10:34).

Gelowiges weet dat vervolging nie God se straf is nie, maar dat om vir Hom te ly, eerder ʼn eer is wat Hy vir sekeres bestem:

“Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly” (Hand.5:41).

“...ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie... ” (2 Kor. 4:9).

6.   Geloofsgemeenskap

Gelowiges glo dat God in tye van vervolging altyd in beheer van sake bly en hul nie in die steek laat nie:

So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade” (1 Pet.4:19).

God laat gelowiges soms deur diep waters gaan, nie net om hul geloof te versterk nie, maar ook om hul onderlinge geloofsgemeenskap uit te brei en die kerk te verenig:

“...wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween” (Rom.12:15).

“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus” (Gal.6:2).

Vervolging bring gelowiges in ʼn besondere verhouding met Jesus wat Self gely het. Paulus skryf dat hy begeer om hom op soortgelyke wyse met Jesus se lyding en verheerliking te vereenselwig:

“...sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil.3:10).

“ ... want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam (Gal.6:17).

God berei ʼn beloning vir sulke gelowiges voor:

As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën” (2 Tim.2:12).

“ .... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).

7.   Die valse kerk

Net voor die wederkoms van Christus sal die valse kerk die ware kerk baie ernstig vervolg.

“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:21,22).

In 1962 het Paul Adair, ʼn brandbestryder, groot opspraak verwek toe hy ʼn oliepyplynvuur wat maande lank in die Sahara buite beheer was met plofstof geblus het – vuur met vuur. Satan gaan aan die einde van die tyd die ware kerk met die valse kerk blus deur gelowiges op grootskaal te vervolg. Sy aanslag sal so subtiel wees, dat min mense dit sal agterkom:

... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4).

Die plaaslike en internasionale kerktoneel lê alreeds so met die wrakstukke van mislukte proefnemings besaai, dat mense kerke by die duisende verlaat en dit lyk asof die Donker Eeue weer opwagting gemaak het. Al hoe meer kerke weerspieël die algemene gedagtegang van die godvyandige wêreld en kan maklik as instrumente in die laaste vervolging bruikbaar wees.

 

8.   God slaap nie

In Openb.6 sien Johannes ʼn skare van martelare in die hemel wat God om optrede vra. Vir hulle word gesê:

“ ....dat hulle nog ’n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees” (:11).

God is ten volle van die lyding van sy kinders bewus en is ʼn aantal gelowiges daarvoor bestem. Sodra hierdie getal vol is, sal Hy teen die goddeloses optree.

“Die Here is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ’n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (Ps.11:4-7).

 

Slot

Gelowiges moet hul vir die laaste vervolging gereed maak; veral dié uit kerkgeledere. Kerke kan selfs dink dat hulle goed, maar in werklikheid werktuie van die satan is. Paulus is ʼn sprekende voorbeeld hiervan:

“Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring” (Hand.9:1,2).

Voor sy bekering was hy daarvan oortuig dat hy die kerk van sy tyd gehelp het om van ʼn sekte in hul midde ontslae te raak en Christene as ketters vervolg. Daarom het hy die stem gehoor:

“ ... Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Hand.9:5).

God laat in sy eindelose liefde, genade en kennis toe dat sekere gelowiges vir hul geloof ly. Wie vervolging ervaar, is beslis deel van Jesus se kudde. Hy vergeet hulle nie. Ons moet ook nie!

Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ’n liggaam het” (Hebr.13:3).