SOOS ‘N AREND IN DIE GELOOF

Ds A.E. van den Berg

“...wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend”(Ps.103:5).

Van alle voëls is die arend een van die indrukwekkendste. God gebruik selfs van die arend se eienskappe om ons te leer om Hom te vertrou. Gen.5 vertel van ʼn sterk gelowige – Henog. Hy was die vader van Metusalag wat 969 jaar oud geword het en ʼn arend-gelowige:

“En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem” (Gen.5:24).

Om met God te wandel, is om aan Hom vas te hou al vergaan die wêreld om jou. Henog het in ʼn goddelose tyd net voor die sondvloed geleef waarna God nie lank daarna nie die wêreld met water laat vergaan het.

Hoe kan ons in goddelose tye ook geloofsarende wees? Kyk vir ʼn wyle na die wêreld van voëls en begin by die Indiese Maya en vleiloerie; beide aggressiewe voëls wat ander voëls boelie. Hulle laat ʼn mens aan die ongeskikte mense in die lewe dink wat egosentries is en by wie goeie menseverhoudings ontbreek.

Dan is daar die koekoek en Piet-my-vrou wat nie graag werk nie maar eerder ander voëls uitbuit. Hulle bou nie hul eie neste nie, maar lê hul eiers in ander voëls se neste wat dié moet uitbroei en die kuikens grootmaak. Dis die mense wat op ander teer en wie se begroetings altyd begrotings is.

Dan is daar die kakelaars. Vir hulle is die lewe ʼn fees en neem niks ernstig op nie. Alles is ʼn grap. Dan is daar die papegaaie wat baie praat en ander na aap.  Dis mense met kop-kennis maar wat in geen egte verhouding met Jesus verkeer nie. Hulle praat baie goed, bid mooi, maar dis al – hulle siel is verlore.

Dan is daar die pelikane - groot voëls, baie lui en met ʼn onversadigbare aptyt. Hulle eet omtrent alles wat voorkom.   Dis die mense wat kragtige werktuie vir God kon wees, maar weens gemaksug niks vir die saak van die Here beteken.

Dan kry ʼn mens ook die aasvoëls wat alles wat vuil en verrot is, vreet. Dis die mense wat tot die aas van die lewe aangetrokke voel – onsedelik en korrup. Soos wat aasvoëls met hul skerp bekke karkasse uit mekaar skeur, ruk hulle mense se lewens met hul skerp woorde en optrede uitmekaar. Hulle geskinder en beswaddering laat die reuk van die dood aan hulle vaskleef.

Die pou is weer die mooiste van die voëlsoorte en pronk gedurig. Daar is ook sulke mense; pronkerig, aanstellerig en uitspattig. Hulle dink net aan hulself en beskou hul soos die Fariseërs belangriker as ander. Hulle stel net in hul eie welvaart belang en voel vere vir ander mense.

Dan is daar ook kraaie. Hulle is slu en verpes gedurig die ander voëls. Dis is ʼn vuil voëlsoort wat dit geniet om ander voëls se kuikens dood te maak. Hulle laat jou aan diegene dink wat gedurig ʼn ander se lig probeer doodmaak net om hul eie beter te laat skyn. Sulke mense staan altyd gereed om die pik van die dood toe te dien.

Dan is daar die hokvoëls; mooi om na te kyk, maar lewenslank in ʼn hok. Hulle laat ons aan mense met baie moontlikhede dink maar wat in ʼn hok van slegte gewoontes opgesluit is – drank, dwelms en pil-misbruik. Hulle is hul eie strafregters en sterf agter die tralies wat hulle vir hulself gebou het.

Dan nog net ʼn laaste voëlsoort voordat ons by die arend kom – hoenders. Hulle bereik geen hoogtes nie, raak gou ontsteld, klap vlerke maar kom beswaarlik van die grond af. Hulle laat ʼn mens aan diegene dink wat die weg van die minste weerstand bewandel. Hulle vind geen genoegdoening in die lewe nie en is soos hoenders met ʼn eentonige gesoek na kos. Die lewe gaan by hulle verby.

Dan is daar die arend, ʼn edele voëlsoort met asemrowende eienskappe. Hulle is vinnig, akkuraat en maak hul kleintjies op hoë rotswande groot. Desondanks is hulle toegewyde ouers en eerbare lewensmaats. Hulle trotseer die storms van die lewe en met hul ongelooflike skerp oë en sterk vlerke styg hulle bo enige dreigende gevaar uit.

Die moeder-arend bly op haar nes en pluk van haar eie vere uit om die nes mee uit te voer waarna sy 2 tot 3 eiers uitbroei terwyl die mannetjie vir genoeg kos sorg. Na verloop van tyd pik die kuikens deur die dop. Dis ʼn godgegewe instink wat jong arende later in staat stel om die versperrings en gevare van hul omgewing die hoof te bied.

Die arendkuikens geniet vir ongeveer 12 weke die veiligheid van die nes waarna die moeder-arend die nes uitmekaar begin pluk. Sy weet instinktief dat haar kleintjies moet leer vlieg want as hulle dit nie bemeester nie, gaan hulle nie oorleef nie. Daarom neem sy een vir een kleintjie in haar bek, vlieg hoog en laat hom val. Die kleintjie verstaan uiteraard nie haar bedoeling nie en val vry. Net voordat hy hom te pletter teen die grond val, duik sy onder hom in en dra hom terug na die nes. So herhaal sy die oefening totdat die vlerkies sterk genoeg is om self te kan vlieg.

Daarvandaan word hulle al hoe sterker, staar al hoe meer gevare in die gesig, maar deur hierdie ervarings ontwikkel hulle daardie eienskappe waarvoor arende bekend is; toewyding, dapperheid en krag.

Ons het baie met arende in gemeen. God skud ons soms so uit ons gemaksones dat dit voel asof die wêreld om ons vergaan en dit die einde is. Dis egter nie sy bedoeling nie. Hy leer ons om die geestelike lewensvlerke wat Hy vir ons gee, te gebruik. Dawid skryf:

“Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my” (Ps.23:4).

Jesaja skryf:

“...maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jes.40:31).

Soos wat arende hulle volle lewensvervulling deur hindernisse, teenstand en ongunstige omstandighede bereik, so bereik die arend-gelowiges hulle s’n in die stormweer van die lewe want God is daar en help hulle om hul nie op die rotse van wanhoop te pletter val nie.

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand” (Jes.41:10).

God keer soms ook ons lewensneste om, nie omdat Hy vir ons kwaad is nie, maar om ons soos die moeder-arend die krag van ons geestelike vlerke te laat ontdek en suksesvol te gebruik. Dinge val vir ons soms uitmekaar voordat groot dinge in ons lewe gebeur.

Ons het een groot troos – niks gebeur met ons waarvoor God ons nie krag gee nie. Hy is soos die arend-moeder wat haar kuikens baie goed oppas. En as Hy ons op klipperige paaie laat loop, voorsien Hy ons van die regte skoene daarvoor. Gevolglik roep ons in tye van beproewing soos ʼn Paulus van ouds uit:

“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil.4:13).

Watter een van die voëlsoorte beskryf jou lewe?