“As julle My liefhet, bewaar my gebooie .... As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar” (Joh.14:15; 23).
Jesus het die woorde in Joh.14 net voor sy inhegtenisname in die dissipelkring uitgespreek om hulle vir die toekoms te bemoedig omdat dit ʼn toekoms sonder Hom sou wees. Hy was op pad na sy hemelse vaderhuis. Die dissipels was ontsteld want wat sou van hulle sonder Hom word?
Christendom was ʼn nuwe geloof. Hoe sou hulle sonder Jesus ooit daarin kon volhard? Jesus antwoord in die teksverse hierop. Daar is net een manier om te volhard: “bewaar my gebooie”. Wie God se bevele bewaar (sy eie maak) en uitvoer, struikel nie op die geloofspad nie.
Salomo het ook hierdie waarheid onderstreep:
“ Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spr.3:5,6).
Wat beteken “bewaar my gebooie”? Om na Jesus se leer en opdragte te luister en uit te voer. En dit geskied deur vir Jesus diensbaar te wees soos ʼn boom wat vrugte dra.
“ En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:3).
Jy is of diensbaar of nutteloos.
Wie vir God diensbaar is, kry voortdurend goddelike bystand om sinvolle in ʼn godvyandige wêreld te leef. Salomo skryf tereg:
“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spr.3:6).
Let wel in al jou weë.
Om vir Jesus diensbaar te wees, moet ons die waarheid liefhê en dit gehoorsaam soos wat die Bybel ons leer. Hoe gehoorsamer, hoe diensbaarder. Daarmee bewys ons ons liefde vir God. Baie mense en kerke sê dat hulle vir Jesus lief is, maar verkondig en verdedig nie die Bybelse waarheid nie. Hulle verdraai selfs die waarheid/Skrifgedeeltes om hul dwaalleer te pas, soos dit vandag in baie kerke gaan. Dit wat mense graag wil hoor, word as Bybel se leer verkondig.
Paulus waarsku:
“Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
Die dissipels het hul liefde vir Jesus deur ʼn ontsteltenis oor sy voorgenome weggaan probeer toon.
“Here, kyk hoe lief het ons U. Ons wil nie hê dat U moet weggaan nie!”
Jesus wys hulle daarop dat ʼn liefde vir Hom anders lyk. Dis ʼn gehoorsaamheid aan sy Woord. Wie Hom liefhet, doen wat Hy vra soos wat kinders deur gehoorsaamheid hul liefde vir hul ouers toon. So ook met God.
Gehoorsaamheid aan Jesus word nie in die geheim beoefen nie. Dit is sigbaar. In Joh.21 vra Jesus vir Petrus:
“het jy My waarlik lief? en sê dan: “Laat my lammers wei” (:15).
Gelowiges se lewe is aan ʼn lewe vir en met Jesus verbind. In Joh.15 vergelyk Jesus dit met ʼn wynstok en lote.
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (:5).
Liefde vir Jesus is gehoorsame vrugte dra.
Gelowiges moet ook Jesus se opdragte bewaar deur toe te sien dat daaraan nie gepeuter word nie.
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).
Die Bybel is die bron van waarheid. Wie daarvolgens wandel, struikel nie:
“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps.119:9).
“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (:105).
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Die Bybel moet nie net in mense se kop nie, maar ook in hul harte wees. Kop-kennis van die Bybel besorg geen saligheid nie. Jy gaan nie hemel toe omdat jy die Bybel goed ken en selfs sekere tekste kan opsê nie. As die Bybel nie deur jou hart spoel nie, sal jy nooit die ewige lewe beërwe nie.
By geleentheid sê ʼn ongelowige vir ʼn gelowige:
”Ek is al ʼn paar maal deur die Bybel en voel nog dieselfde. Dit het nie my lewe verander nie”het hy gesê. “Ja, maar is die Bybel al eenmaal deur jou?”vra die gelowige.
Pas ook op vir godsdienstige opwelling wat geen Bybelse begronding het nie! Jesus waarsku in die Bergrede:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23).
Jesus se opdrag om sy Woord te bewaar, eis van ons dat ons Bybelse waarhede sal verkondig en verdedig. En dis in vandag se lewe uiters noodsaaklik. Dwaalleer neem oorhand toe. Gelowiges durf dit nie gelate aanvaar nie! Die Bybelse waarhede moet verdedig word. Ons is God se soldate!
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:11-13).
Baie mense probeer hul verskoon deur te sê dat hulle nie genoeg Bybelkennis het om dwaalleer teen te staan nie. Dis g’n verskoning nie! Waarom het hy nie genoegsame Bybelkennis nie? Omdat hy nie tyd daarvoor maak nie. Die Bybel is vir hom nie belangrik genoeg om tyd daaraan af te staan nie. Tydelike dinge is baie belangriker!
Wat maak jy met jou tyd? Dink aan die Gelykenis van die Talente. Dis die gelykenis wat mense die meeste misverstaan. Dit handel nie oor natuurlike talente nie maar geleenthede wat Jesus ons gee om iets vir Hom te doen soos om die Bybel deeglik te bestudeer.
Om Jesus lief te hê, vereis ʼn opregte soeke na sy wil en ʼn vreugde in sy Woord. Die Here is lief vir sulke mense:
“Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind” (Spr.8:17)
.Daar is geen beter manier om die toekomsin te gaan as om ʼn gunsgenoot van God te wees.
“Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees” (Ps.103:13).
Liefde vir Jesus en gehoorsaamheid aan dit wat die Bybel sê, kan hoogstens onderskei maar nooit van mekaar geskei word nie. Die een veronderstel die ander. Liefde is die wortel van die geloof en gehoorsaamheid die vrug daarvan.
Die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders. Vir ʼn sinvolle Bybelstudie is ʼn liefdevolle verhouding met die Skrywer onontbeerlik. Ongelukkig sal mense enigiets met die Bybel doen behalwe om daarvolgens te leef. Dit sluit ook kerke in. Die Bybel is vir sondaars geskryf om hul lewens te verander; nie om dit te moderniseer en na eie sin te verander nie.
Oral waar liefde vir Jesus is, sal sy guns ook wees. Waar dit ontbreek, word mense ontrou aan Hom. Jesus sê;
“Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie...” (Joh.14:24).
Sulke mense gee tevergeefs voor om Jesus lief te hê. Hulle dade en leer weerlê dit. Wie die waarheid nie liefhet nie, kan Jesus nooit liefhê nie!