Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Miskien het jy vir my gebid; miskien het jy net stil gesit. Miskien het jy terwyl jy werk gehoop ek word weer sterk. Maar altyd is jy iewers daar waar jy vir my 'n tydjie spaar. Met groot verstaan en woorde min bly jy maar my GOUDVRIENDIN.
STEL DIE DOODSTRAF WEER IN
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Die skrikwekkende toename in plaasmoorde en ander geweldsmisdade eis ʼn spoedige herinstelling van die doodstraf in Suid-Afrika. ʼn Eerbare regering skuld sy burgers immers ʼn vreedsame bestaan wat slegs deur doeltreffende wetgewing moontlik is en die doodstraf noodsaak.
1.Eerste voorskrif
Die eerste Bybelse voorskrif rakende die doodstraf word al so vroeg as in Gen.9:6 gevind:
“Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak”.
God motiveer dit self,iets wat by geen ander godsdiens gevind word nie. Omdat die mens na die beeld van God geskape is, is moord eerstens ’n vergryp teen God self. Hy gee lewe sodat die mense sy Beeld kan vertoon. Hierdie bepaling is lank voor die ontstaan van Israel gegee wat sê dat God dit vir alle tye gebied. Nadat Israel dit later in haar amptelike regeringsbeleid opgeneem het, is dit vollediger omskryf.
2. Doodstrafoortredings
Die wette wat God vir Israel gegee het, het 21 oortredings bevat waarvoor die doodstraf opgelê kon word en in vier basiese groepe verdeel:
- misdade waarby mense gedood is
- godsdienstige misdade
- etiese misdade en
- seremoniële misdade.
By eersgenoemde is die vergeldingsreg van krag; soos wat jy aan ’n ander een doen, moet aan jou gedoen word - ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand en ’n lewe vir ’n lewe. Die Bybel eis dat moord nie ongestraf gelaat mag word nie; ’n taak wat God uitsluitlik aan die staat oplê. In oud-Israel was daar talle plekke waar vermeende oortreders ’n regverdige verhoor kon verkry en is dit vrystede genoem. Indien so ʼn persoon wel aan ʼn moord skuldig bevind is, is hy tereggestel.
Wie aan godsdienstige misdade soos sataniese rituele skuldig was of God gevloek het, is ook tereggestel. Israel moes weet dat God ’n heilige God was. Sy hoogheid mag nie bespot, geminag of belaster word nie.
Onder etiese misdade is die slaan of vloek van ouers ter sprake (Ex.21:15,17). So ook die koppigheid van ’n seun (Deut.21:18-21). Verskeie vorms van verbode geslagsomgang is ook hieronder gereken (Deut.22:13-30). God het aan Israel baie duidelike heiligheid- en reinheidswette gegee om hulle van die heidene te onderskei:
“En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Ex.19:6).
Om eredienste met heidenelemente te besmet, is as seremoniële misdade beskou wat die doodstraf verdien het. Lev.10 vertel die verhaal van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron, wat vreemde vuur (heidense reukwerk) geoffer het. God het self as teregstellings-beampte opgetree en hulle met vuur uit die hemel verteer.
God het soms beveel dat stede en hul inwoners uitgewis moes word. Hy het selfs die Farao hardkoppig gemaak wat tot die dood van die eersgeborenes gelei het. Dit was God se wraak en ʼn vorm van ʼn doodstrafvoltrekking omdat die Farao die Joodse babas laat vermoor het.
Die Bybel praat ook van moordenaars wat nie tereggestel is nie. Kain het sy broer doodgeslaan en Moses ’n Egiptenaar. Dawid het Uria, die man van Batseba, laat ombring. Daar word egter nie gesê waarom hulle nie vir hul oortreding aan die pen gery het nie.
3. Die owerheid
Die voltrekking van die doodstraf vir moord moet in die lig van Gen.9:6 reg verstaan word. Omdat die opdrag voor Israel se ontstaan gegee is, bly dit universeel en is nêrens in die Bybel opgehef nie. Die NT is wel duidelik dat alleenlikdie staat die doodstraf mag oplê en voltrek en nie enkelinge nie:
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte….want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad dien, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).
Dat die owerheid die swaard dra, skets sy bevoegdheid om oortreders tereg te mag stel. Onthoofding deur die swaard was ’n algemene eertydse teregstellings-metode. Lukas skryf dat Herodes die apostel Jakobus met die swaard laat teregstel het (Hand.12:2).
Paulus stel dit egter baie duidelik dat die staat sy mag van God ontvang en dus ’n dienaar van God is. Die doodstraf moes wetteloosheid bekamp. Elke land wat dit afskaf, hetmet groter wetteloosheid te kampe gekry. Suid-Afrika is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Gevolglik is dit elke owerheid se goddelike plig om die doodstraf uit te voer. Wie weier, is nie ’n dienaar van God nie!
Jesus het selfs Pilatus se wetsgesagas ’n Godgegewe gesag erken. Toe Pilatus sê:
“...Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10) antwoord Hy hom: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11).
Toe Paulus later voor Festus staan, sê hy:
“…Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word….as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11).
Hy het die owerheid as gesagstruktuur van God eerbiedig.
Geen mens durf in ’n persoonlike hoedanigheid wraak neem nie. Dis God se alleenreg:
“Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom.12:19).
God oefen sy wraak o.a. deur owerhede uit wat doodvonnisse voltrek. Daarom word die owerheid ’n wreker genoem. Die doodstraf is ʼn afskrikmiddel (Rom.13:3,4). Vrees vir vervolging weerhou mense inderdaad van misdaad. Gevolglik is die doodstraf as beskermingsmaatreël ʼn samelewing ten goede.
4. Geen voorskrifte nie
Die NT het geen voorskrifte vir die oplegging van die doodstraf soos wat in die OT voorkom nie. Die Joodse Raad kon dit vir oortredings van godsdienstige of sedelike aard met steniging voltrek. Stefanus is juis op ’n klag van lastering gestenig (Hand.7). Jesus het egter verhoed dat die skare Hom by geleentheid wou stenig en later ook ʼn owerspelige vrou (Joh.8:3-7).
Uit sy optrede teenoor hierdie vrou blyk dit tog dat Hy in gevalle van godsdienstige en sedelike oortredings ’n ander uitweg as dié van doodstraf aangewys het nl. dié van berou en bekering. Dit wil voorkom asof die doodstraf vir godsdienstige en etiese oortredings geleidelik uitgefaseer is.
5. Afskrikmiddel
Om te sê dat die doodstraf nie ʼn afskrikmiddel vir misdaad is nie, is onwaar. Rom.13 sê dit dan juis! Wie glo dat die doodstraf barbaars is en nie in moderne beskawings tuis hoort nie, kan hul op geen Bybelse gronde beroep nie. Hoe kan dit barbaars wees as God dan self die opdrag gee?
Die Bybel sê dat die doodstraf misdaad verminder:
“En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ’n verkeerde ding by jou doen nie” (Deutr.13:11).
“ ....dié man moet sterwe. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.En die hele volk sal dit hoor en vrees en nie meer vermetel handel nie” (Deut.17:13).
“Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan” (Deutr.19:13).
In Eseg.23:44-49 beveel God dat Ohola en Oholiba doodgemaak moet word om as waarskuwing te dien.
Die sg. Bevrydingsteologie span die kroon van onsinnigheid as dit sê dat die doodstraf onvanpas is omdat die verkeerde party kwansuis gestraf word. Hulle glo dat bosesamelewings bose burgers kweek en sulke samelewings eerder aan die pen moet ry. Hierdie siening was gewild toe die eertydse apartheidsbeleid die slaansak van die internasionale gemeenskap was!
Regerings wat hul goddelike plig versaak, is eerder die probleem van toenemende wetteloosheid. ʼn Staat wat God gehoorsaam en die doodstraf voltrek, verseker sy burgers van veilige verblyfsomstandighede en is nie aan die bloed van onskuldiges wat dalk mag vloei, skuldig nie. ’n Regering wat egter nie teen misdaad optree nie, is self wetteloos (Deut.21:1-9).
6. Die ander wang?
Redenasies teen die doodstraf stem geensins met die Skrif ooreen nie. Een van die gewildste is dat daar nie wraak geneem mag word nie en beweer dat Jesus met sy uitspraak in Mt 5:38,39 die gedagte van ʼn oog vir ’n oog tot niet verklaar het:
“Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe”.
Hierdie verse moet reg verstaan word en is uitsluitlik op individue van toepassing. Mense moet eerder vergewe as om wraak te neem. Die mening dat Jesus in Joh.8 teen die doodstraf gekant was toe hy vir ’n vrou wat in owerspel betrap is in die bresse getree het, is foutief. Die Fariseërs wou Jesus probeer uitlok. Hy wou nie sê dat doodstraf verkeerd is nie, maar eerder dat die gesindheid van die Fariseërs dubbele standaarde weerspieël het. Waarom wou hulle net die vrou stenig as die man ook betrokke was? Beide kon gestenig word!
Slot
Die groot redenasie teen die doodstraf is dat dit strydig met menseregte (die mens se reg op lewe) is. Menseregte is’n stel reëls wat uitgedink is sonder om die Bybel in ag te neem. Alhoewel baie van die menseregte-sake met God se Woord ooreenstem, kom alles nie daarmee ooreen nie. Nêrens in die Bybel word iets van menseregte gemeld nie. Die mens het geen regte nie; slegs voorregte.
Daar word verder ook geredeneer dat baie dinge soos die doodstraf vanaf die tyd van die OT na die NT verander het. Dit is so, maar sonder enige aanduiding dat doodstraf een daarvan was. As Jesus dit afgeskaf wou hê, sou dit duidelik in die Bybel gestaan het. Vrae daaroor het eers met die koms van humanisme ontstaan.
Onthou dat die God van die OT ook dieselfde van die NT is. As die doodstraf vir Hom in die OT aanvaarbaar was, sal dit ook vir Hom in die NT aanvaarbaar wees. Die beginsel van ’n oog vir ’n oog is nie in Mt.5:38 tot niet verklaar nie en bly steeds deel van God se karakter.
ʼn Lewenslange vonnis vir moord is buite verhouding met die oortreding self en begunstig slegs die oortreder. Daarenteen gee die doodstraf afsluiting aan bedroefde gesinne en word geregtigheid beter gedien. Om moordenaars slegs lang gevangenisstrawwe op te lê, is onbillik. As hulle na baie jare vrygelaat word, kan hulle weer moor, soos al telkens gebeur het. Om moordenaars jare lank in ’n gevangenis op belastingbetalers se onkoste aan te hou, is net so onbillik.