Die toenemende verval in die NG Kerk
Ds. A.E van den Berg
“ ... Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel...” (Jer.6:16).
’n Volk kan geen groter ongeluk oorkom, as om die geloof in Christus te verloor nie. Suid-Afrika het ná die versaking van haar Christen-grondwet in 1996 begin ontspoor om daarna nooit weer op die hooflyn te kom nie. Dit sluit ook hoofstroomkerke in soos aan die verlies van lidmate en die vermindering van leraarsposte gesien word.
Luidens ʼn verslag wat onlangs voor ʼn NG Sinode gedien het, het die kerk sowat 200 predikantposte van 2015-2019 verloor; feitlik een per week. Dit gebeur as ʼn kerk haar van haar Bybelse anker losmaak en in die vaarwater van dwaalleer beland. Die wyse waarop die NG Kerk bv. oor die Bybel praat, kan nie anders as om lidmate se geloof in God se Woord af te breek nie. Sy lê soveel klem op die menslike aandeel in die totstandkoming van die Bybel dat die begeestering van die Heilige Gees buite sig verdwyn. Die Bybel is duidelik:
“...want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet.1:21).
Uit die 2002 Sinodale verslag blyk dat die NG kerk die Bybel as doodgewone mensewoorde met menslike foute beskou. Dit beantwoord dus nie aan die moderne standaarde van wetenskaplike korrektheid en kan derhalwe nie op geskiedkundige korrektheid aanspraak maak nie. Gevolglik moet die Bybel telkens hervertolk word want wat in die een konteks waar is, kan in die ander een ʼn leuen wees.
Die NG Kerk se Skrifbeskouing staan in skrille kontras met Jesus se eie siening van die Woord van God in o.a. Joh.10:35. Jesus haal die OT self 180 keer as die betroubare Woord van God aan. Daarom is die NG Kerk se bedenklike Skrifbeskouing die kernprobleem van haar ontsporing en verval.
ʼn Kerk is soos ʼn liggaam - as die brein skade opdoen, beïnvloed dit alle ander liggaamsfunksies. Daarom trek dinge in die NG Kerk skeef en dryf sy al hoe verder van enige moontlikheid van geestelike herstel af weg.
Let bv. op haar “ontsondiging” van homoseksualisme en goedkeuring van selfde geslag huweliksverbintenisse. Haar parlementêre verteenwoordigers het alreeds so ver terug as Oktober 2006 die staat van die NG Kerk se instemming om met die wettiging van homoseksuele huwelike voort te gaan, verwittig. Haar amptelike verslag wat in Junie 2007 uitgereik is, het gelowiges hewig ontstel en het hulle die kerk terstond verlaat.
Met die NG Kerk se voorlegging aan die parlement is die grondwet as die basis-dokument beskou en nie die Skrif nie. Die NG Kerk het dit haar plig geag om die staat te help om die grondwet ter beskerming van die regte van alle mense reg te vertolk. In die verslag betreur die NG Kerk dat daar groepe en kerke is wat hul aanmatig dat hul Bybelse siening van homoseksualisme belangriker as die grondwet is!
Die wetsontwerp op burgerlike verbintenisse moes, soos alle ander wetgewing wat nie aan die beginsels van die wêreldlike grondwet voldoen het nie, verander word. Die NG Kerk het genoeë daarmee geneem om die woord van die mens (grondwet) belangriker as die Woord van God te ag. Sy glo dat die verskillende menings oor homoseksualiteit op verskillende vertolkings van die Bybel berus en dus nie vir die doeleindes van die herskrywing van die huwelikswet van toepassing is nie.
’n Huweliksverbintenis van mense van dieselfde geslag spot met God se heilige instelling van die huwelik. Daarbenewens het homoseksualisme niks met die gelykwaardigheid van mense te doen nie. Die NG Kerk huldig ʼn onbesonne aanname dat homoseksualiteit geneties is. Geen navorsing kon dit ooit bewys nie.
Homoseksualiteit is wesenlik die gevolg van foutiewe kinderopvoeding. By mans is dit aan te sterk moederbindings en by dogters aan te sterk vaderbindings te wyte. Hierdie gebrokenheid kan wel met die genade van God herstel word. Kerke behoort mense eerder met die herstel te help as om hulle dieper in die dryfsand van onreinheid te laat wegsak!
Die ontsporing in die NG Kerk se teologiese fakulteite is ʼn reuse bron van kommer omdat vandag se katedertaal more se kanseltaal word. In 2005 het Jan Grey en Hennie Stander die NG Kerk se teologiese fakulteite van dwaalleer beskuldig. Daarvan het dadels gekom.
Kort hierna het Ferdie Mulder, ’n teologie-student van Pretoria, drie professore van dwaling oor Jesus se opstanding uit die dood aangekla. Ten spyte daarvan dat die fakulteit van hierdie dwalings bewus was, het die kerk geen vinger verroer om leertug op die teoloë toe te pas nie. Mulder is egter lewenslank uit die fakulteit geskors.
Om aan vrysinnige dosente ʼn vrye hand te gee, kan noodlottig wees. Dit laat hulle glo dat hulle vry van inperkings is en ondergrawe sekere grondliggende geloofsoortuigings onder die denkmantel van byderwetse denke. ʼn Tyd gelede skryf ʼn besorgde Amerikaanse gelowige dat sy land se theological seminaries in theological cemeteries ontaard het!
Waarheen gaan lidmate wat die NG Kerk verlaat? Na charismatiese kerke? Te oordeel aan hoe hierdie kerke uit hul nate bars, kan dit moontlik wees. Ander probeer eers by ander kerkverbande tuis kom, maar omdat hulle aan ʼn Rooms-charismaties bediening in die NG Kerk gewoond was, kom hulle nie hier tuis nie en vat dan maar weer die pad. Dis gewoonlik maar deel van die proses waardeur hulle hul geheel en al van alle kerkgang losmaak.
Die NG Kerk se onuitputlike lus om te verander, spruit uit ʼn aanname dat die kerk net opgelei was om op die tradisionele manier kerk te wees en die moderne mens nie meer aanstaan nie. Die kerk moes aanpas of sterf. Dit blyk vandag aanpas en sterf te wees! Daarom soek sy gedurig na nuwe modelle van kerkwees sonder sukses. Sy het die skulp behou maar die pêrel verloor.
Die probleem met hierdie nuwe modelle is dat daar al hoe verder van God se Woord af wegbeweeg word. Hoe verder, hoe rowwer word die water. ’n Geestelike ontwaking wat mense nie tot ’n nuwe liefde vir die Bybel en die waarheid laat ontwaak nie, maak hulle tevergeefs wakker.
Daar is net een oplossing – keer terug na die ou weë met sy agting vir God se Woord. Dis die kroonrat waarom die hele heropbou van ons volk moet draai. As die kop genees, sal die liggaam ook gesond word.