WAT DOEN JY MET JOU VERLEDE?

Ds Andrè vd Berg

Die verlede is ʼn bron van kennis waardeur vertroue vir die toekoms gekweek word. Hoe positiewer daarop teruggekyk kan word, hoe helderder word die uitsig op die toekoms. Ongelukkig val baie mense só eerder in ʼn slegte verlede as, dat die toekoms by hul verbygaan. Dit maak hulle blind vir die mooi van die hede en laat hulle waarde aan dinge heg wat eerder gelaat moes word.

Die verlede is nooit belangriker as die toekoms nie. Daarom moet flaters van die verlede in die verlede gelaat word.   Om dit saam te dra, is soos om ʼn bottel te laat val en die skerwe in jou broeksak te steek wat jou gedurig krap. Om op die treinspoor van die verlede te gaan lê en wag dat die toekoms oor jou loop, is baie dwaas. Al wat belangrik is, is vandag en God wil hê dat jy dit moet geniet:

 

Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps.118:24).

ʼn Slegte verlede kan nooit ongedaan gemaak word nie. Dit mag net nooit jou baas wees nie. As die lewe jou ʼn slegte hand kaarte deel, kan jy dit met die genade van God goed speel. Dis soos ʼn bal wat sleg aangegee, maar goed gevang word. Baie vooraanstaandes het slegte verledes gehad!

ʼn Goeie verlede is nie ʼn voorvereiste vir ʼn goeie toekoms nie. Gelowiges word nie deur slegte verledes veroordeel, vernietig, verhinder of verslaan nie. Sulke verledes is hoogstens ʼn les, maar nie ʼn vonnis nie. Dis selfs “bemestingstof”om jou sterker te laat groei. Ongelukkig laat baie mense toe dat slegte verledes hul toekoms bederf. Hande vol slegte verledes, kan na niks nuuts gryp nie. Om oor dinge agter jou te struikel, is sinloos en nie die rigting waarin die lewe beweeg nie.

Niemand kan ʼn nuwe lewenshoofstuk begin deur die vorige een oor en oor te lees nie.   Die deur na die verlede moet eers gesluit word alvorens die een na die toekoms oopgemaak kan word. Hoe langer jy in die verlede leef, hoe minder toekoms is daar om te geniet. Niemand kan na die begin terugkeer om dinge te verander nie. Slegs die einde kan verander word. Die verlede is net in jou kop, maar die toekoms in jou hande!