Ds A.E. vd Berg
1. Die Europese Unie
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Europeërs ernstig na eenheid gestreef om die gruwelvorm van nasionalisme wat hulle beleef het te genees. Dit het Robert Schumann en ʼn paar vooraanstaande politici ʼn gesamentlike verklaring in Mei 1950 laat uitreik - die Schumannverklaring waarvolgens ʼn tussen-staatsorganisasie geskep sou word om Europa te herorganiseer.
ʼn Jaar later het die ESSG (Europese Steenkool en Staalgemeenskap) met die Verdrag van Parys tot stand gekom. Dis deur België, Frankryk, Italië, Nederland, Wes-Duitsland en Luxemburg onderteken wat in 1957 tot verdere samewerking met die ondertekening van die Verdrag van Rome gelei het.
Die Verdrag van Rome was die geboorte-uur van die Europese Unie (EU) wat Europa berekend in die rigting van strukturele eenheid begin dryf het. Die EU is ʼn internasionale organisasie van etlike lidlande wat onderlinge ekonomiese, politieke en geregtelike samewerkingsooreenkomste vir Europa beding.
Dit het daarna talle Europese- en aanliggende lande in ʼn administratiewe magsblok saamgesnoer. Dit het ʼn eie geldeenheid wat deur 16 van die lidlande as geldeenheid gebruik word. Op handelsgebied is die EU ʼn enkel mark met gemeenskaplike handelsooreenkomste wat ʼn Europa sonder grense nastreef.
Die Verdrag van Maastricht het ʼn algemene Europese burgerskap geskep en die grondslag vir samewerking op die gebied van buitelandse sake, landsveiligheid en regspleging gelê. Verskeie ander verdrae is later gesluit.
Die Verdrag van Lissabon (2007) het wel enkele paaie vergemaklik, maar in werklikheid geen nuwe horisonne bewerkstellig nie. Baie Europeërs was verontrus oor die grondwetlike patriotisme van ʼn vorige verdrag wat bloot in die nuwe een voortgesit is.
Grondwetlike patriotisme is ʼn filosofie wat ontwerp is om nasionalisme met internasionalisme te vervang. Daarom moedig die EU lidlande aan om hul eie nasionalisme opsy te skuif en hul vir ʼn federale staat te beywer ten einde Europese ryksburgers te kweek.
2. Wie swaai die septer?
Net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het invloedryke Duitse sakelui en Nazi militariste geheime vergaderings met Roomse bankiers gevoer om die oorlog te help befonds. Die Roomse Kerk(RK) het ingestem.
Die ideologie van die oppermagtige mens het miljoene Duitsers begeester en Hitler aangespoor om die droom van ʼn Derde Duitse ryk te verwesenlik. Dit het tot ʼn oorlog gelei waarin nagenoeg 50 miljoen mense hul lewe verloor het!
Na die beëindiging van hierdie oorlog is Duitsland gedemilitariseer. Dit was egter van korte duur. Met die aanvang van die Koue Oorlog het die Weste gevrees dat Rusland Wes-Europa kon binnedring en is Duitsland se straf opgehef en in die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) opgeneem om Amerika in die prentjie en Rusland daar uit te hou.
Duitsland het geleidelik van haar na-oorlogse verdraagsame vredesvoorkoms en boetedoeninghouding wegbeweeg en weer vir wêreld-leierskap begin beywer. Sy maak sedertdien van alle denkbare metodes gebruik om haar doelwit te bereik, selfs van kanale waarin niemand ʼn Duitse jakkals verwag nie!
Die vrees vir Duitsland is terug. Sy het tans meer mag as ooit sonder om een skoot te skiet. Die EU is die enigste gesagsliggaam wat haar moontlik kan bedwing. Dit sal nie gebeur nie omdat die EU ʼn Duitse ontwerp is en Duitsland se rol te groot is. Die EU is vir praktiese redes Duitsland en Duitsland die EU.
Die EU dwing gedurig sy standaarde op die wêreld af. Sy opspraakwekkende oorwinning oor Microsoft ʼn paar jaar gelede het die verhoog vir ʼn verenigde Europa begin regskuif. Benewens die magsvertoon op die wêreldverhoog, was dit ook ʼn bedekte oorlogverklaring teen Amerika - die EU skryf die reëls vir die besigheidswêreld voor!
Besighede wat met Europa handel wil dryf, moet aan die reëls van die EU gehoor gee. Die EU skryf nie net aan internasionale besigheidsondernemings voor nie, maar deel ook soos ʼn skeidsregter links en regs strafskoppe uit. En omdat sulke ondernemings nie kan bekostig om die Europese mark te verloor nie, val hulle by die EU se reëls en regulasies in.
3. Die Europese huis
Propaganda maak dikwels van metafore gebruik. Die Europese huis is so ʼn een om Europeërs by internasionale politiek te betrek. Europa word as ʼn huis wat gebou en voltooi moet word voorgestel. Duitsland het die eerste verdieping gebou en ander lidlande moet volg. Die huis staan egter op Duitse bodem. Gevolglik bly dit wat gebou word, in werklikheid Duits.
Die EU is die eerste nie-imperiale ryk in wording. Ander ryke het met dwang onder ʼn sentrale regering tot stand gekom. Baie lidlande besef dat Europa voor die deur van ʼn nuwe orde staan wat vernietigende politieke- en ekonomiese gevolge gaan hê. Wanneer hierdie ryk gevorm is, gaan Europeërs tot hulle skok ontdek dat daar nie meer ʼn Frankryk, Nederland of Poland is nie, maar slegs ʼn Duits georkestreerde wêreldryk!
Gevolglik is die EU die mees ondemokratiese organisasie ter wêreld. Margaret Thatcher het die EU jare gelede skerp gekritiseer en lidlande gewaarsku om hul regeermag te beskerm ten einde te verhoed dat hul in ʼn groter geheel verdwyn.
Die Nazi’s het nooit van die toneel verdwyn soos wat algemeen geglo is nie. Dit het net ondergronds gegaan. Hulle het met verloop van tyd ʼn wêreldwye netwerk van besigheidsfronte op die been gebring wat deur buitelanders befonds is. Die ooreenkoms tussen die EU se doen en late en die Nazi’s se doelwit om Duitsland as oppergesaghebber in Europa te vestig, is ooglopend.
Die EU is niks anders as ʼn gematigde weergawe van die eertydse Sowjetunie nie. Hul meer as 80,000 bladsye van reëls en regulasies kom op niks anders as staatsbeheer neer nie. Dis onbeskaamd sosialisme. Die EU is stelselmatig besig om demokrasie te vernietig en is in werklikheid ʼn wisselvorm van sosialisme waar ʼn groep uitgesoekte burgers die politiek beheer.
4. Die Roomse Kerk
Die wêreld is op die vooraand van ʼn verenigde Europa wat tot die grootste mensevervolging in die geskiedenis gaan lei. Al wat ontbreek, is ʼn samebindende ideologie. Daarvoor gaan ʼn beproefde resep gebruik word wat heersers deur die eeue ongekende mag besorg het - Roomse Katolisisme!Laasgenoemde is besig om baie veld te wen. Almal wat Europa in die verlede staatkundig wou verenig, was Roomsgesind; van Karel die Grote tot by die Franse Rewolusie en van Napoleon tot by Von Bismarck.
Die Roomse Kerk (RK) se vingerafdrukke kom oral op die EU voor. Alle invloedryke posisies word deur Roomsgesindes beklee. Al wat nog vir ʼn verenigde Europa ontbreek, is ʼn krisis en daarvoor sal die RK sorg. ʼn Eertydse Belgiese sosialis Paul-Henri Spaak het gesê dat Europa net ʼn baie sterk leier benodig. Hy moet egter so invloedryk wees, dat hy almal se steun sal geniet, ongeag of hy ʼn engel of ʼn duiwel is!
Die EU het die RK nodig om al die los stukke aanmekaar te werk. Daarsonder sal die EU uitmekaar val en die pous weet dit al te goed. Daarom dring hy gedurig daarop aan dat Europa na Roomse Katolisisme moet terugkeer om die lont van hoop vir die wêreld aan te steek. Dit gaan bitter gevolge inhou. Elke tree wat die Vatikaan gee, is gevaarlik!
Nogtans word Europese leiers herhaaldelik opgeroep om na hul geestelike wortels van oorsprong terug te keer. Min van hulle weet dat hierdie wortels in bloedgrond staan - ʼn doodsakker van moord, verdrukking, marteling en politieke onderwerping. Geen staatshoof het al ooit by samewerking met die RK gebaat nie.
Die RK laat in werklikheid Europa se donker eeue herleef. Die Vatikaan dwing haar wil toenemend op lidlande af. Die EU se EUROPARL TV wat in 20 tale uitsaai, is deurtrek van Roomse Katolisisme.
5. Die laaste herlewing
Die sewe heuwels van Rome versinnebeeld die sewe herlewings van die Heilige Romeinse Ryk (HRR). Die eerste herlewing was tydens die bewind van keiser Justinianus toe hy o.a. Rome in 554nC herbou en dit ryksherbou genoem het.
Die tweede herlewing was onder Karel die Grote (800nC), die derde onder Otto die Grote (962nC) en die vierde onder Karel V. Die vyfde herlewing was onder Napoleon. Hitler en Mussolini se skrikbewind was die sesde herlewing.Die laaste herlewing is voor die deur –ʼn unie van 10 volkstate.
Tien nasies gaan uit die gebied van die ou Romeinse ryk ʼn magsgroep vorm wat die ganse mensdom gaan onderwerp. Hulle kom almal uit EU geledere. Op die oomblik verhoed die samevoeging van swak en sterk lidlande doeltreffende optrede. Die EU kan selfs weens sy eie gewig ineenstort indien ʼn oplossing nie gevind word nie. Gevolglik is hergroepering die enigste uitweg.
Die Verdrag van Maastricht wat as die verdrag van Europese eenheid gehuldig word, maak met paragraaf 7 ʼn gevaarlike deur oop. Dit laat ʼn beperkte aantal lidlande (minimum agt) toe om sonder meerderheidstoestemming versnelde samewerking te bewerkstellig.
Die EU Observer (24/3/2010) rapporteer dat 10 van die lidlande besig is om reëls vir so ʼn versnelde samewerking op te stel. Ander lidlande sal gedwing word om by een van die 10 groepe in te val al is dit nie in meerderheidsbelang nie.
6. ʼn Bybelse vervulling
Openb.17 is besig om in vervulling te gaan. Die vrou wat Johannes in hierdie visioen sien, is ʼn stad. Rome staan as die stad op sewe heuwels bekend. Dis baie duidelik dat Roomse Katolisisme net voor die wederkoms van Christus ʼn bose houvas op die mensdom gaan verkry. Sy word as ʼn vrou met ongekende mag versinnebeeld (:1) en een wat almal verlei (:2).Haar verleidingsmag word met hoerery en dronkenskap versinnebeeld. Sy gaan magshebbers bedwelm om aan haar wil te voldoen.
Feitlik elke land in die wêreld het nie net ʼn ambassadeur in Rome nie, maar ook in die Vatikaanstad. Amerika moes selfs van haar grondwet afwyk om ʼn ambassadeur daar aan te stel!
Johannes sien dat die vrou op ʼn skarlakenrooi dier sit en oor groot rykdom beskik (:3,4). Skarlaken en rooi was die amptelike kleure van die Romeinse keisers en versinnebeeld die regeermag waaroor die vrou beskik. Die laaste kerk gaan ʼn onheilige kerkstaat-eenheid wees.
Johannes sien dat die bloed van gelowiges haar rasend opgewonde maak. Die RK het vir 1,260 jaar godsdienstig oor Europa geheers (538-1798) en miljoene teenstanders laat doodmaak. Tydens die Roomse Inkwisisie is meer as 3 miljoen mense in Spanje alleen vervolg en van die kerk ʼn duif met roofvoël instinkte gemaak!
Hoe meer van die RK se bedenklike geskiedenis kennis geneem word, hoe duideliker word Openb.17:
En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openb.17:12,13).
Die EU gaan binnekort ʼn samestellingsverandering ondergaan met 10 groepe elkeen onder leiding van ʼn kommissaris. Dit sal op ʼn konfederasie van state uitloop. Alhoewel hulle nie noodwendig konings met koninkryke gaan wees nie, sal hulle hul mag van die Antichris ontvang om die Inkwisisie van ouds te laat herleef.
Slot
Die Antichris, die dier uit die see (Openb.13:1-10) kom uit EU geledere en word deur die RK as die valse profeet en dier uit die aarde (Openb.13:11-18) gerugsteun. Al lyk dit asof die EU met slakkepas beweeg, is dit besig om die grootste staatkundige mag ter wêreld te word – die ryk van die Antichris!