DIE WAARHEID

As die waarheid vertrap word 

Ds Andrè vd Berg

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh.8:32).

In April 1994 is chaos in ʼn bont vlag toegedraai en met behulp van verraderlike kerke op wetsgehoorsame burgers afgelaai.  Almal is ʼn wonderlike nuwe staatsbestel bestel beloof.  Dit was ʼn leuen en die begin van ʼn skrikbewind wat gelowiges tot vandag toe teister.   Elke nuusberig bevestig dit!

Die ontwrigting was egter nie net tot landsake beperk nie; hoofstroomkerke het ook die kluts kwytgeraak.  Kerke het vreemde dinge begin leer wat mense aan die vaste sekerhede van die verlede laat twyfel het.  Lidmate is aangesê om die Bybel anders te lees as wat daarin geskryf staan.  Kerke het hul wys gemaak dat die Bybel nie die bloudruk van God se wil is nie.  Dis mensewerk met foute wat slegs aan die hand van nuwe wetenskaplike inligting verstaan kan word. En lidmate het dit geglo want dominees lieg mos nie!

Ongelowiges het kerke se bollemakiesieslanery oor die Bybel verwelkom.  Dit het hul wêreldse leefstyl, onreine gedagtes en sedelose gedrag soos ʼn handskoen gepas.  ʼn Kerk wat ongeloof  ʼn landingsplek bied, het alle verwagting oortref! 

Paulus skryf aan die gemeente in Rome: “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom.8:7). En aan Timotheüs: “en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess.2:10).

Gelowiges glo baie anders as ongelowiges.  Die Bybel is vir hulle die enigste bron van kennis van die waarheid daarvan en so kosbaar dat dit ten alle koste verdedig moet word: Koop waarheid en verkoop dit nie.....” (Spr.23:23).  

Die Bybel is die enigste fondament waarop die pilare van die kerk gebou.  Dis ʼn onwankelbare rots: “... die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ʼn pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim.3:15).

Tydens Jesus se verhoor vra Pilatus vir Hom:Wat is waarheid” (Joh.18:38).  Alhoewel sy vraag sinies was, is dit ʼn belangrike vraag omdat ʼn mens se verstand nie sonder kennis van die waarheid reg werk nie.   Om die regte dinge in die lewe te doen, moet jy weet wat reg en wat verkeerd is.  En dit leer die Bybel ons.  Die waarheid bly die waarheid al glo niemand dit meer nie en die leuen bly ʼn leuen al glo almal dit. 

Daarom het die waarheid niks te doen met die aantal mense wat dit glo nie, maar wel wat God as waar ag en in die Bybel laat opteken het.  Die Bybel is die Bron van die waarheid; niemand durf daaraan verander nie. Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deutr.32:4).  “sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid....” (Jes.65:16).

In Joh.14:6 maak Jesus ʼn grondige aanspraak as Hy sê dat Hy die waarheid is.  Daarmee betuig Hy sy goddelikheid; die waarheid wat vlees geword het (Joh.1:1).  Daarna sê Hy baie duidelik dat die Woord van God die waarheid is: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh.17:17).

Die Bybel bevat nie stukkies van die waarheid soos wat valse kerke verkondig nie.  Dit belig elke gesigspunt van die waarheid.  Ongelowiges soek al lank na waarhede buite die Bybel sonder om daarin te slaag.  Hulle sal ook nie! Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Rom.1:20).

Wie die Bybel wil verander, wil God speel en word gestraf:  Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel” (Deutr.4:2).  Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.  En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb.22:18,19).

Waarom hou ongelowiges nie van die Bybel nie?   Omdat dit op tone trap van voete wat in die verkeerde rigting loop!   Die Bybelse waarheid is so naak, dat hulle dit gedurig met leuens wil bedek.  Dit raak soms so erg, dat God hulle later aan hul boosheid oorlaat:  “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:28).

Johannes skryf aan gelowiges in die verstrooiing: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Joh.3:19,20).

Om dit wat God as gruwels in die Bybel laat aanteken het te wil ontsondig, is vermetel.  Wie hul hieraan skuldig maak, kry hul nooit in die modderwater van leuens gespieël nie.  Alles bly troebel.   Dis God se straf, soos met VIGS.  Dis nie bloot sy straf op homoseksualisme as sulks nie, maar ook op gemeenskappe wat dit verdra: ” mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).

Die groot probleem van ons volksgenote is blind-lojale mense wat nie vir hulself dink nie. Hulle is met tweedehandse inligting tevrede.  Hulle gaan stel nie vas of dit wat vanaf hul kansels gepredik word die Bybelse waarheid is nie.  Wat die dominee sê, is reg en alles vir soetkoek opgeëet.  Lukas skryf van die gelowiges in Berea: “ hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).

Die meeste kerkgangers besef nie dat hulle in die sleurstroom van dwaalleer verkeer nie.  Hulle vertrou kerk-etikette blindweg.  Die Bybel waarsku dat alles wat godsdienstig lyk nie noodwendig van God is nie.  Satan is ʼn nabootser; suiker lyk net soos sout!

Die probleem van die vroeë kerk met dwaalleraars is weer met ons: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. (2 Kor.11:13-15). 

Die kerkgeskiedenis sluit af soos wat dit begin het – met godsdiensmisleiding.  Satan bind mense deur diegene wat by waarheidskerke was na leuenagtige kerke weg te lok.  Voorts bind hy ook mense wat blind-lojaal hul lidmaatskap in ontspoorde kerke voortsit.  Hulle weet dat die kerk verkeerd loop en gaan maar saam met die stroom; die weg van die minste weerstand.  Dis gebondenheid!

God het geen behae in gebondenheid nie.  Hy wil hê dat ons vry moet wees. “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh.8:32). Net die waarheid maak mense vry want dit verdryf die donkerte van die leuen. “Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!”