Ds Andrè van den Berg
“Want sulke mense is vals apostels; bedrieglike arbeiders wat hulself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15).
Martin Luther het in ʼn tyd geleef toe min mense Bybel kon lees.
Destyds was die meeste mense ongeletterd en Bybels aan preekstoele vasgeketting sodat dit vir alle praktiese doeleindes ʼn geslote boek was. Daarbenewens was dit ook net in Latyn geskryf, ʼn akademiese taal wat net geleerde mense verstaan het. Vir die gewone mens was die Bybel ʼn verborge boek en was hulle van priesters afhanklik om te hoor wat God daarin sê.
Kort na die aanvang van die Hervorming is Luther deur die Roomse Kerk (RK) as ʼn ketter veroordeel en voëlvry verklaar. Dit het hom genoodsaak om in ʼn kasteel te gaan wegkruipwaar hy die Bybel in Duits vertaal en laat druk het. Dit was iets wonderlik. Mense wat nooit toegang tot die Bybel gehad het nie, het dit vir die eerste keer in hul lewe in hul eie taal gehoor en kon dit selfs besit. Die gevolg was ʼn geestelike herlewing in Europa!
Mense het toenemend tot die besef gekom dat die RK hulle mislei het om te glo dat die kerk hulle die hemel sou indra. Die Bybel het anderste geleer - sondaars kom slegs deur die bekering tot Jesus Christus in die hemel. Sonder ʼn persoonlike verhouding met Hom, is daar geen toegang nie - beslis nie deur Maria nie!
Die Bybel is vandag in feitlik alle wêreldtale beskikbaar en die boek wat die meeste gedruk en gelees word. Ongelukkig het daar ʼn dwaalbeweging op die kerklike toneel verskyn wat die Bybel weereens uit mense se hande wil neem. Dit word postmodernisme genoem. Hulle gaan baie subtiel te werk en mislei Protestante by die miljoene!
Postmoderniste sê dat niemand die oorspronklike bedoeling van ʼn Bybelteks ken en die Bybel derhalwe nie reg kan verstaan nie. Elke leser besluit self wat die Bybel vir hom persoonlik beteken. Dit kan basies vir elke persoon iets anderste sê. Niks staan vas nie.
Gevolglik is die Bybel nie die Woord van God nie maar ʼn leë boek waaraan elkeen sy eie betekenis kan heg. Die woorde daarin kan enigiets beteken. En as woorde enigiets kan beteken, sê dit in werklikheid niks nie. Dis ʼn leuen! Die Bybel is soos ʼn spieël; as ʼn dwaas daarin kyk, kan ʼn wyse nie daarin terugstaar nie!
Soos wat die Latynse Bybel in Luther se tyd beskikbaar maar in werklikheid onverstaanbaar was, gebeur iets soortgelyks vandag; hierdie keer nie aan taal, maar aan dwaalleer te wyte. Postmoderniste sê dat gewone mense die Bybel nie kan verstaan nie; slegs hoog geleerdes. Gevolglik moet mense maar na hulle verduideliking van die Bybel luister; net soos die ou Roomse priesters.
Kyk wat gebeur hier - die Hervorming word omgekeer en die pous lag al te lekker in sy satynmou! Satan weet hoe om die waarheid te skaad en die getuienis oor redding deur Jesus Christus alleen uit te doof. Hy gebruik mense om die Bybel se waarheid met growwe onjuisthede te vermeng en vertwyfeling by die lesers te saai.
Baie kerklui van hoofstroom kerke betwyfel die waarheid van God se Woord skaamteloos. Vandaar die opspraakwekkende pogings om God se Woord ter syde te stel en die mens se wil te laat geskied. Dink maar net aan die poging om homoseksualisme te ontsondig. Die Bybel is baie duidelik dat dit ʼn gruwel in God se oog is – OT en NT! Desondanks word argumente in Sinodes aangevoer dat dit alternatiewe erotiek is; ʼn flagrante minagting van God se Woord!
Dwaalleraars was al in die tyd van Paulus werksaam: “Want sulke mense is vals apostels; bedrieglike arbeiders wat hulself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke”
Een van die Hervorming se leuses is Soli Scriptura – die Bybel alleen. Dis vir gelowiges ononderhandelbaar. Wie God liefhet, sal Hom gehoorsaam. Jesus sê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15). En dis wat Martin Luther gedoen het. Al 95 stellings wat hy op Sondag 31 Oktober 1517 teen sy kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het, was oor dinge waar die kerkleer nie met die Bybel se waarheid ooreengestem het nie.
Luther het bv. ernstig beswaar daarteen gemaak dat mense by priesters gaan bieg het om van sonde bevry te word en in baie gevalle selfs daarvoor betaal het. Nee, geld bevry niemand van sonde nie.! Die eertydse aflaathandel waar die RK mense geld laat betaal het om gestorwenes uit die sg. vagevuur te bevry, om die Petruskerk in Rome te kon bou, was bedrog en per slot van sake aan onkunde te wyte omdat mense nie ’n verstaanbare Bybel gehad het nie.
Dit wat vandag op die plaaslike kerktoneel aangaan, skreeu ten hemel. Teoloë en leraars vra lidmate om die Bybel nie te ernstig op te neem asof dit volstrek die hoogste gesag dra nie. Mense moet baie meer tegemoetkomend teenoor andersdenkendes wees want elkeen se siening is kwansuis op ’n manier tog maar reg. Hulle redeneer dat omdat niemand met sekerheid kan sê wat God se wil is nie, alle godsdienste iets van die waarheid beet het. Verdraagsaam!
Die Bybel word in Westerse lande geleidelik uit die openbare oog geskuif. Tydens ʼn meningsopname in Amerika is bevind dat baie kerkgangers nie meer aan een van die volstrekte waarhede van die Skrif glo nie. Meer as die helfte van die ondervraagdes kon nie vyf van die Tien Gebooie opnoem nie. Die helfte van die hoërskoolkinders het gedink dat Sodom en Gomorra met mekaar getroud was! Op die vraag wie die Here Jesus gevange geneem het, antwoord ʼn CVO skoolkind nou onlangs: Die valke!
Mense word sonder die Woord van God groot. Daarom struikel hulle op die donker lewenspad. Hulle het nie die lig van die Woord nie: “U Woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Ps.119:105).
Die vyandige media geniet hierdie donkerte. Koerante saai eerder twyfel oor Bybelse waarhede as om die waarheid daarvan te bevestig. Boeke van mense wat die Christendom afkraak, verkoop soos soetkoek. Ja, ons beleef ’n tydperk van openlike vyandigheid teenoor die Woord van God. Vandaar die doodsheid.
Protestante dank Christus dat Hy sy kerk vanuit die hemel regeer en dit deur die eeue beskik dat talle mense en kerklui nog God se Woord eer en gehoorsaam. ʼn Kerklike wat onlangs in Amerika voltooi is, het bevind dat een van die grootste redes vir groei in gemeentes die handhawing van die Woord van God as basis vir gemeentes se beleid, prediking en bestuur is. Die Woord van God gee lewe!
Hervorming herinner ons aan die kerk se bevryding van ʼn duiwelse leer byna 500 jaar gelede. Hierdie bevryding staan as Protestantisme bekend waarmee God die waarheid van sy Woord soos spykers in gelowiges siele vasslaan. As dit nie daarvoor was nie, het ons Sondae soos heidene voor beelde van klip neergeval!
Amen!