...WEET WAAR JY MET JESUS STAAN
Ds Andrè van den Berg
“ ... gryp na die ewige lewe ...” - 1 Tim.6:12
Om in die Evangeliebediening te staan, is die grootste voorreg op aarde. Dis egter ʼn pad van geen maanskyn en rose nie, maar van spanning, onreg en neerslagtigheid. Daarom gebeur dit dikwels dat leraars aan hartaanvalle sterf en etlike al selfmoord gepleeg het. Ek het etlike van hulle persoonlik geken.
Die eerste jare in die bediening is gewoonlik die swaarste soos wat die jong Timoteus in die veeleisende gemeente in Efese ervaar het. Hy kla by Paulus van ʼn kroniese maagprobleem wat moontlik aan die spanning van ʼn groot verantwoordelikheid vir die gemeente te wyte was. “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ʼn bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldheid” (1 Tim.5:23). Wat ʼn gawe doktersvoorskrif!
Paulus skryf nie net fisiese medikasie voor nie, maar ook geestelike medikasie: Wat het Paulus hiermee bedoel?
Dat die jong predikant as hy so swaar in die gemeente kry eerder na die hemel moet verlang? Of, om dit anders te stel, as mense hom hel op aarde gee, eerder te wens hy was dood? Nee, Paulus wil hom eerder bemoedig – as jy op die aarde swaar kry, dink aan die heerlikheid wat daar in die hiernamaals op jou wag.
Dis feitlik dieselfde boodskap wat Johannes aan die lesers van Openbaring bring. Moet nooit jou oog van Jesus af wegneem nie, want dan sink jy soos Petrus! En dit was nodig vir Timoteus wat toe so pas sy bediening begin het en vir wie daar ʼn baie lang bediening voorgelê het.
Paulus gee aan die jongman ʼn opdrag: “ ... gryp na die ewige lewe ...” Dit staan in die Grieks in die bevelsvorm geskryf. Maar, wat beteken dit? Hoe gryp ʼn mens na die ewige lewe? In die 12 Artikels bely ons dat ons in die ewige lewe glo. Maar, hoe gryp ʼn mens daarna? Hoe kan sondaars dit wat hemels en rein is, gryp asof dit hulle toekom? Dit klink ʼn bietjie rof! Ons is mos nie oneerbiedige hemelbestormers soos koning Nimrod en sy Babelse span bouers nie! Moet ons in alle beskeidenheid nie eerder na die ewige lewe smag of ten minste daarna verlang nie?
Nee, ons moet dit gryp. Dis die opdrag van God; die hele opdrag: “.... gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is” As God roep, moet ons sy opdrag uitvoer. Hy roep ons tot die ewige lewe. Maar hoe weet ons dat ons dit het? Jesus gee met ʼn gelykenis ʼn voorbeeld – die van die Onbeskaamde Vriend.
ʼn Man klop om middernag by ʼn vriend aan om brood te leen omdat hy ʼn onverwagse besoeker gekry en niks gehad het om aan hom voor te sit nie. Was dit nie onbedagsaam van hom om daardie tyd van die nag sy vriend op te klop nie? Dit het almal in daardie huis wakker gemaak. Nee, Jesus gebruik juis hierdie verhaal om aan ons te verduidelik dat ons met groot vrymoedigheid met ons node, hetsy tydelik of ewig, na God kan gaan.
Die kruks van hierdie verhaal lê in Jesus se woorde: “Hoeveel te meer...” Soos wat ʼn aardse vader die vrymoedigheid van sy vriend nie teleurstel nie, sal die hemelse Vader dit des te meer nie doen nie. Hy wil dat jy die ewige lewe deelagtig word. Daarvoor kan ons Hom, by wyse van spreke, in die middel van die nag opklop soos Nikodemus een nag na Jesus gekom en dit ontvang het.
Maar wat is die ewige lewe waarna ons moet gryp? Dis belangrik dat ons dit moet verstaan, want hier maak baie mense ʼn fout. Hulle dink dat dit die lewe is wat aanbreek nadat jy jou laaste asem uitgeblaas het, m.a.w. die paradys lewe. Nee, 1000 maal nee!
Die ewige lewe is daardie nuwe lewe wat jy die dag van jou bekering ontvang. Wie getuig beter hiervan as Paulus self: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). Die nuwe lewe in Christus, ja, die lewe wat met die wedergeboorte aanbreek, is die ewige lewe.
Die gelowige deel nou al daarin. Dis nie iets waarvoor hy moet wag om iewers in die toekoms aan te breek nie. Ons beleef dit alreeds! “En dit is die ewige lewe, dat hulle U kan ken, die enige waaragtige God en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh.17:3). Jesus praat ook met Martha: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh.11:25). Die ewige lewe is nie ʼn nadoodse heerlikheid nie maar ʼn voordoodse belewenis!
Ons lewe sal eendag soos die son agter die horison verdwyn. En dit gaan lyk asof dit weg is. Maar in werklikheid hou dit aan om te skyn. D.L Moody het by geleentheid gesê: “Eendag sal julle in die koerant lees dat DL Moody dood is. Moenie ʼn woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewendig as ooit tevore wees!”
Vir die gelowige wat die ewige lewe het, wag daar ná die dood uiteraard groot vreugde om saam met jou ontslape gelowige voorsate vir ewig voor Christus te wees. Vir die ongelowige, mens minus die ewige lewe, wag die ewige dood.
Een ding moet ons weet: Die hemel is nie daar vir mense wat goed op aarde geleef het en die hel vir mense wat sleg geleef het nie. Daar gaan miljoene goeie mense in die hel wees omdat hulle t.s.v. mooi lewens hul saak met Christus nooit reggemaak en derhalwe nooit tot bekering gekom het nie. Die hemel is die versamelplek van bekeerdes.
Met Paulus se woorde: “ ... gryp na die ewige lewe ...” roep God ons op: Sorg dat hy dit het. Maak baie seker. Twyfel aan enigiets anders, maar net nie aan jou ewige eindbestemming nie. ʼn Mens hoop nie dat jy na jou dood die paal gaan haal nie; jy weet dit! Jesus gee ons deur die Heilige Gees die versekering.
Die mensdom kan in baie kategorieë verdeel word – manlik en vroulik, blank en nieblank ens. Die grootste denkbare verdeling is dié tussen mense wat die ewige lewe het en diegene wat dit nie het nie. Dis ʼn eg Bybelse verdeling wat van ʼn skeiding van die kaf van die koring en skape van die bokke praat.
Hierdie verdeling gaan aan die einde van die tyd baie skerp getrek word. Die name van hulle wat die ewige lewe het, is almal in ʼn boek opgeskryf – die boek van die lewe bedoelende die boek van die ewige lewe. “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen... En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Het jy die ewige lewe? Wat ʼn oneindige troos in tye van beproewing: “Ruwe storms breek in woede, alles om my heen is nag. Tog hou God my in sy hoede, Hy hou oor my heil die wag...” (Ges.361).
Satan het in Paulus se tyd onder gemeentes gemaai. Benewens sy direkte aanslag het hy ook teenstanders in eie midde vir die jong Timoteus verwek met die doel om hom moedeloos en daarna stil te maak. Satan hou nie van die waarheid nie. Daarom Paulus se opdrag om na die ewige lewe te gryp. Hy moes in tye van beproewing hom van die ewige lewe vergewis – hou vas aan hierdie anker.
Efese was dié gemeente in Klein Asië. Hulle het op kerklike gebied die kitaar geslaan. Almal het na haar as die bloudruk van kerklike volmaaktheid opgesien. Desondanks Efese se openbare beeld sê Jesus: “Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openb.2:4).
Mense wat die ewige lewe het, mag nooit aan liefde ontbreek nie. Wie dit nie het nie, het vir seker nie die ewige lewe nie. Jesus sê: “ ... ʼn Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distel nie! So dra elke goeie boom goeie boom goeie vrugte; maar n slegte boom dra slegte vrugte” (Mt.7:17,18).
Satan kan jou van baie dinge beroof, net nie die ewige lewe nie. En dis ons anker hier in die hart van die winter. Maak seker van die ewige lewe – weet waar jy met Jesus in die lewe staan en hou soos 'n Timoteus van ouds daaraan vas al bars die hel aan jou voete los!
Amen!