JONGMENS, JY HET NET EEN LEWE

Ds Andrè van den Berg

Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?  Deur dit te hou na u woord” - Ps.119:9

Wie Ps.119 geskryf het, weet ons nie.  Al wat ons weet, is dat hy baie tyd gehad het.  Om ʼn Psalm met 176 verse te skryf, is geen grap nie!    Die digter vra in vers 9 ʼn vraag: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? en beantwoord dit self:  “Deur dit te hou na u woord”.

Dis belangrik dat sondaars vrae vra.  Dis immers die eerste stap om gered te word.   Christus vra Paulus ʼn vraag: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Hand.9:4).  Paulus antwoord terug met ʼn vraag: Wie is u Here?” waarop Jesus hom antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg” (:5).  Toe vra hy weer ʼn vraag: “Here, wat wil U hê ek moet doen?” (:6).

As ʼn sondaar ernstig oor geloofsekerheid word, begin hy vrae te vra soos met die tronkbewaarder van Filippi gebeur het: “Menere, wat moet ek doen om gered te word? “ (Hand.16:39).  Geen sondaar word kind van God sonder om vrae te vra nie.

  Daarom begin die teksvers ook met ʼn vraag. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?...”

 

God wil dat alle siele gered word; ook kinders en jongmense.  By geleentheid sê Jesus vir sy dissipels wat ʼn klompie moeders en hul kinders van Hom wou wegkeer: “... Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God” (Mark,10:14).  Daarmee sê Jesus dat kindertjies ook tot bekering kan kom.  Daar is duisende van hulle op hierdie oomblik by Hom in die paradys.

Die Bybel praat met kinders, klein en groot: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie...” (Pred.12:1).   In Genesis lees ons van Sara wat haar diensmeisie en dié se seun in die woestyn verdryf het.   Hagar kon haar kind nie van honger en dors sien sterf nie en hom derhalwe neergesit en weggeloop.

Dan lees ons iets baie mooi - toe die seuntjie huil, het God hom gehoor.  Ismael, die latere vader van die Islamiete, was nie eens deel van die verbondslyn nie.  God het Hom in sy algemene ontferming oor kinders na die desperate vrou neergebuig en van voedsel en water voorsien.

God gee vir kinders om.  Hy wil Hy hê dat hulle sy Woord en wil van jongs af moet leer ken.  Want hoe anders sal ʼn jongmens sy lewenspad skoon hou?   God gee in Ps.119:9 aan jongmense raad wat uiteraard ook vir ouer mense geld.   In hierdie teks neem jongmense die sentrum van aandag in omdat statisties bewys is dat die meeste mense tydens hul jeugjare tot bekering kom.  Jongmense se harte is gewoonlik sag en teer.  Met ouer mense is dit nie altyd die geval nie.   Soos wat mense ouer word, verhard hul harte dikwels.  En as hulle baie oud word, soms so hard soos klip.

Moenie dink dat mense met verloop van jare al hoe heiliger word en nader aan die Here leef nie.  Sommige raak selfs harder as ooit tevore!  Gaan kyk maar net hoe goddeloos sommige mense in ouetehuise en aftree-oorde leef!  ʼn Mens sal dink dat hoe nader hulle aan die graf staan, hoe ernstiger sal hulle oor hul sieleheil wees.  Moenie glo nie; baie word ook oud in hul sondes!

Talle van die groot Bybelfigure het as jongmense gelowig geword.  Samuel is miskien die treffende voorbeeld in die OT.  Hy het as ʼn  klein seuntjie wat pas gespeen was, in die tabernakel by Eli, die hoëpriester, kom woon en so in die huis van God groot geword.  God het hom op ʼn baie jong ouderdom tot sy diens geroep.  Dis wonderlik om so jonk tot bekering te kom, want jou hele lewe lê voor jou om God mee te dien.  ʼn Kind wat sy hart aan Jesus gee, lei gewoonlik ʼn geseënde en sinvolle lewe.

Die Psalmdigter vra: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?  Deur dit te hou na u woord”. Die woord suiwer beteken in Hebreeus “om met iets wat vuil is, reg te handel”.   Ons word as sondaars gebore en is derhalwe vuil.  Om kind van God te word, moet Hy ons skoonmaak anders kan ons nie hemeltoe te gaan nie!

Ons leef net eenmaal op die aarde en nie weer nie.  Die lewe is soos ʼn valskermsprong – ons moet dit die eerste keer regkry!   Wat maak ons met ons lewe as gawe van God?   Ons wil net die beste daarvan maak.  Daarvoor het ons hulp nodig; ʼn handleiding wat vir ons sê wat om te doen.

God se Woord help ons om reg te leef.   Die Bybel roep jongmense gereeld tot bekering en daarna tot heiligmaking op.  Wie sy lewe oppas, pas ook sy siel op.   Niemand kom tot bekering sonder om Bybel te lees of na prediking te luister en dit in hul lewe toe te pas nie.   Die Bybel sê dat wie so luister en doen, wys is: “Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spr.1:7).  Die Bybel is ons padkaart in die lewe.

Jongmense wie se hartstogte en versoekings groot in vergelyking met hulle gebrek aan ervaring is, is des te meer van God se leiding afhanklik.  Hulle behoort strenggesproke baie meer as ouer mense Bybel te lees.  Ps.119 is waarskynlik deur ʼn heelwat ouer persoon geskryf; iemand wat oor baie lewenswysheid beskik het.  In hierdie Psalm kyk hy terug op sy jeug wat toe al lankal verby was.  Hy is nie spyt oor die foute wat hy gemaak het nie, maar dankbaar vir dit wat hy bereik het.

Die belangrikste vraag wat ʼn jongeling kan vra, is: Hoe kan ek die beste van my lewe maak?  Dit geld uiteraard vir almal, maar die heel meeste vir jongmense.   Jou jeug is die wonderlikste tyd van jou lewe want alles in die lewe is kraakvars en die opwinding om ʼn greep op alle nuwe vreugdes te verkry, is oorweldigend.

Dis ʼn jongmens se voorreg om vorm aan sy lewe te gee en die pad wat jy wil stap, te kies.  Ongelukkig kom daar ook versoekings op ʼn jonge se pad; veral wanneer hy die grens tussen kindskap en jeug oorsteek.  Want dan word die bande van ouerleiding skiet gegee en die lewensgordel losgemaak sodat hy die lewenstorms alleen moet trotseer.

Sommige jongmense beland op glibberige plekke.   Baie val en kry seer.  Daarna besef hulle dat dit geensins die moeite werd was om hul lewe te besoedel  nie.   Moet nooit die eerste helfte van jou lewe so benadeel dat jy vir die res van jou lewe daaronder ly nie.  Kyk wat amper met die verlore seun gebeur het!

Die teksvers sê dat daar net een manier is waarop ons die lewenspad skoon kan hou en dis die pad wat God se Woord ons leer.  Paaie kan net hou indien dit deeglik in stand gehou word.  So ook die lewenspad – wie dit reg wil loop, moet waaksaam daarna omsien.   Kyk na die wêreld van vandag.   Dis so maklik om verkeerd te leef.    Duisende jongmense lê weens verkeerde keuses vandag onder die grond!   Daarom kan ons nooit waaksaam genoeg wees nie.  Petrus waarsku: “Wees nugter en waaksaam want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.5:8).

Die lewe is soos ʼn stoomskip.  Die struktuur leen hom daartoe om vuur in te maak en die masjiene volstoom te laat loop.  Nogtans sal dit sonder die nodige stuurapparaat geen vaste bestemming bereik nie.  Dit moet ʼn kaptein agter die skeepstuurwiel hê om die koers te bepaal deur die roer te beheer.

Jesus Christus is ons hemelse Kaptein, en sy Woord ons navigasieplan sodat ons reg op die Nuwe Jerusalem afstuur.  Die Bybel leer hoe om daar uit te kom. Ongelukkig steur die meeste mense hul nie aan God se navigasieplan nie en loop hulle gereeld teen die riwwe van hul eie onverskilligheid vas, dikwels met lewensverlies.

Daar is vir ʼn jongmens niks beter om te doen as om reg te leef nie.  Jy het net een lewe as gawe van God ontvang om dit reg te kry.  Doen dit en jy sal vir ewig lewe!