DIE WEDERKOMS VAN CHRISTUS

Jesus kom gou!

Ds Andrè van den Berg

Skrif: Openb 22:6-21

Teks: “En kyk, Ek kom gou….” (:12).

Wees versigtig met Openbaring!  Kyk maar net hoe sukkel mense nie daarmee!  Waarom?  Omdat hulle nie verstaan dat dit in simboliese taal geskryf is nie. As jy Openbaring letterlik wil opneem, word dit nooit ‘n openbaring nie, maar bly dit eerder ‘n geslotenheid.   Nee, die beelde in hierdie laaste boek van die Bybel kan  nie letterlik opgeneem word soos wat die Jehowagetuies bv.met die getal 144,000 van Opg.7 doen nie. Hierdie dwaalgeeste beskou dit as die letterlike getal van al die gereddes, net 144,000 gaan hemel toe.

Nee, hierdie getal is ‘n simboliese getal wat ‘n ontelbare skare aandui. Johannes werk hier met die getal twaalf - 12 X12 X1000.  Dis die 12 stamme van Israel, die 12 dissipels en 1000, die getal wat volheid aandui.  Hierdie 144,000 is slegs die simboliese getal van alle gereddes. Daar gaan miljoene der miljoene gereddes wees. As ons wil verstaan wat God vir ons in die Bybel sê, moet ons eerstens weet dat Hy nie in enkel sinne met ‘n mens praat nie.  Ons praat dan nie eens in enkel sinne met mekaar nie! God praat altyd in paragrawe, hoofstukke, boeke en selfs groter gehele soos die OT en NT.  Hy praat ook nie kort nie, maar lank sodat ons maar goed moet luister na wat Hy sê - veral oor die eindtyd.

Die verkeerdste ding om te doen, is om ‘n teks uit sy verband aan te haal en ‘n sekere betekenis daaraan te koppel wat jou standpunt moet ondersteun.  Neem Mark 16:16 as vb.waar daar staan: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word, maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”.  Hierdie teks word deur die voorstanders van die grootdoop uit sy verband aangehaal om die kinderdoop as verkeerd te bewys.  Indien dit egter in sy verband gelees word, sien ‘n mens wat dit werklik bedoel.  Markus het sy evangelie vir die Romeine geskryf.  As ‘n Romein tot bekering gekom het, het hy hom laat doop – uiteraard as volwassene.  Die teks roep die heiden-Romeine tot bekering op en om die doop as verbondsteken te ontvang.   

Die Bybel is ‘n aangrypende verhaal wat vir ons vertel wat God in die verlede vir sy kinders gedoen het.  Dis egter ook die wonderlike verhaal van wat Hy vandag nog steeds vir sy kinders doen en ook in die toekoms sal doen.  Die Bybel omspan die verlede, die hede en die toekoms. Daarom bly dit altyd nuut!

Die Bybel is eintlik ‘n baie maklike verhaal om te verstaan.  God praat nooit met ons in raaisels of deur geheime kodes soos die wankoersige skrywers van die omstrede boek The Bible Code beweer nie.  God praat eerder in alledaagse taal soos wat ons met mekaar praat – reguit en sonder omhaal van woorde.  Ons moet net reg luister!   Verwarring ontstaan wanneer mense nie luister na wat God werklik vir hulle sê nie!

Wanneer dit by die dinge van die eindtyd kom, is tyd een van die hoofoorsake van verwarring. In die tyd van die Bybel het mense baie anders as ons oor tyd gedink. Veral oor die toekoms. Hulle was nie so erg in die toekoms geïnterreseer soos ons Westerlinge vandag nie.  Daarom moet ons nie met ‘n Westerse bril na die Bybelse uitsprake oor die eindtyd probeer kyk nie.

Die mense van die Bybeltyd het meer belang by die verlede gehad.   Lees gerus Ps.77 wat vir ons vertel hoe die gelowiges van 3000 jaar gelede na die oplossing vir hul probleme gaan soek het.  Hulle het teruggekyk na God se groot dade in die verlede en vir mekaar gesê: “As Hy dit destyds kon doen, kan Hy dit vandag ook nog doen”.

Die gelowige Asaf sê: “Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd…U het U volk met ‘n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef”

Johannes die sendbriefskrywer, gebruik dieselfde resep.  Die gelowiges in die verstrooiing het so swaar gekry dat sommige selfs aan God se liefde begin twyfel het.  Hulle het geredeneer dat indien God liefde is, Hy nie sulke slegte dinge oor hulle sou laat kom het nie.  Baie het dan ook die geloof verlaat..

Johannes draai hulle as’t ware om met hul gesigte na die verlede en wys hulle op Christus se kruisdood en die redding wat daar vir mense gekom het.  Dit is God se liefde.  Ja, op Golgotha word die antwoord op die vraag na God se liefde glashelder.  Gelowiges moes terugkyk om ‘n antwoord te kry.

Die verlede is baie belangrik. Daarom is daar ‘n vak soos Geskiedenis. Eerstens leer dit jou om nie ‘n fout te herhaal nie en tweedens help dit jou om die toekoms in fokus te bring.  As iemand onverskillig teenoor sy geskiedenis staan, sal ook met die hede en die toekoms sukkel.

Die Bybelse mense het, so anders as ons moderne mense, die toekoms nooit tot in die fynste besonderheid beplan nie.  Daarom moet ons baie versigtig met die Bybel omgaan en weet dat Bybelse profesieë nie uitsluitlik handel oor gebeure wat honderde of duisende jare later vir die eeste maal in vervulling sou gaan nie. Dis die groot fout wat Hal Lindsay bv.maak!

Vir die mense van die Bybelse tyd was tyd nie aan horlosies of kalenders gekoppel nie. Tyd was eintlik ‘n relatiewe begrip. ‘n Koning kon bv.nooit vir ‘n afspraak laat wees nie. As daar laat weet is dat hy op ‘n sekere dag ‘n sekere stad sou besoek en hy daag eers ‘n paar dae later op, was hy nog steeds betyds.  Die tyd was eintlik eers reg sodra hy opgedaag het.  Mense moes maar net geduldig wag.

Teen hierdie agtergrond moet ons die Gelykenis van die Tien Maagde en die bruidegom wat getalm het verstaan.  As Jesus in die tweede laaste vers van die Bybel sê: “Kyk, Ek kom gou” en dit neem 2000 jaar of langer, kom Hy nog steeds gou!

Wanneer Jesus dus oor die wederkoms praat, is HY nie besig om wederkomsdatums uit te deel nie.  Hy skerp eerder sy kinders op om gereed te wees.  Hy kom nie op ‘n datum wat deur mense bepaal is nie, maar op sy eie tyd.  Die groot Koning se onderdane moet geduldig wag!

ONS WÊRELD VAN KOMPROMIEË

Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë 

Ons beginselloosheid

In die moderne tyd waarin ons leef is Sondae vir die meeste mense 'n dag van inkopies, pret en plesier, ook in Suid-Afrika. Nie net nooddienste soos vroeër is beskikbaar nie maar die meeste winkels en besighede floreer veral Sondae want, meen die man wat in die week werk, nou het hy geleentheid om sy inkopies rustig te doen. Wat sou die verskil maak dat ons Sondae vroeër geheilig het as die dag van die Here, ons besighede gesluit en die dag deurgebring het soos Hy van ons vra, en dat dit toe reg was, teenoor wat ons vandag met Sondae aanvang, en dat dit dan ook nou reg is? Wie het verander? Die Here? Sy gebooie? Of is dit die mensdom wat verander het?

'n Beginselvaste mens dwing selfs vandag groot respek af. Die beginselvaste gees van die Olimpiese naelloper Skot Eric Liddell het in die film Chariots of Fire bekendheid verwerf. Liddel het maande lank geoefen om aan die 100 meter tydens die 1924 Olimpiese Spele in Parys deel te neem. Sportskrywers oor die hele Brittanje het voorspel dat hy sou wen. Maar toe die programme aangekondig is, het Liddell ontdek dat die uitdunne vir sy item op 'n Sondag gehardloop sou word. Omdat hy geglo het dat hy die dag van die Here sou ontheilig deur op 'n Sondag deel te neem, het hy geweier om vir die wedloop in te skryf.

Liddell se aanhangers was geskok. Mense wat hom in die verlede geprys het, het hom nou 'n dwaas genoem. Maar hy het voet by stuk gehou. Professor Neil Campbell, 'n medestudent en -atleet, beskryf Liddell se besluit:

 "Liddell was die laaste persoon wat 'n drama oor daardie soort van ding sou maak. Hy het bloot gesê: 'Ek hardloop nie op ’n Sondag nie' punt. En hy sou baie ontsteld gewees het as daar 'n groot bohaai daaroor gemaak is. Ons het gedink dat dit volkome eie aan hom was, en baie van die atlete was heimlik beïndruk. Hulle het gevoel hy is iemand wat bereid was om op te staan vir dit wat hy glo reg is, sonder om dit op enigiemand anders af te dwing en sonder om dogmaties te wees." (Sally Magnuson, The Flying Scotsman [New York: Quartet, 1981], 40)

Anders as in die film waarin daar baie vry met die waarheid omgegaan word, het Liddell maande voor die Olimpiese Spele geweet hoe die uitdunne-rooster lyk. Hy het ook beleefd geweier om aan die 4x100- en 4x400-aflos waarvoor hy gekwalifiseer het, deel te neem omdat daardie uitdunne ook op 'n Sondag gehardloop sou word. Aangesien hy so 'n gewilde atleet was, het die Britse Olimpiese Komitee hom gevra of hy nie aan die 400 meter wou deelneem nie - 'n afstand waarin hy voorheen goed gevaar het, maar nooit ernstig oorweeg het nie. Hy het besluit om daarvoor te oefen en ontdek dat hy 'n natuurlike aanleg vir daardie afstand het. Sy vrou, Florence, het die volgende van sy besluit gesê: "Die wonderlikste was toe Eric besluit het om by sy beginsels te hou en geweier het om die 100 meter te hardloop, en hy ontdek het dat die 400 meter eintlik sy item was. Hy sou dit nooit andersins geweet het nie" (Magnuson, 45).

Liddell het uiteindelik die 400 meter gewen en in die proses 'n wêreldrekord opgestel. God het sy beginselvaste gees geëer. Maar wat was daar aan Eric Liddell wat hom die vasberadenheid gegee het om ondanks die druk van die sportbeheerliggame en die pers by sy besluit te bly?

Die filmmakers van Chariots of Fire het onwetend die antwoord verskaf in 'n toneel waarin die Britse Olimpiese Komitee Liddell probeer oortuig het om aan die 100 meter deel te neem.  Ná hulle onsuksesvolle poging maak een van die mans die opmerking: "Die seun is 'n beginselvaste man en 'n ware atleet. Sy spoed is 'n blote verlengstuk van sy lewe - sy krag. Ons het probeer om hom en sy hardloop van mekaar te skei." Ondanks die skrywer se etikettering van God as 'n generiese "krag", is die stelling waar. Die Christelike lewe kan nie los van God gelewe word nie. Om dit te doen, sal beteken dat jou lewe self 'n kompromie word.

Dis waar die krag van integriteit begin. Dis eers wanneer my en jou bestaan in ons verhouding met Christus geanker is dat ons soos Hy kan lewe, soos Hy kan ly, soos Hy in teëspoed kan staande bly en soos Hy kan sterf - alles sonder om kompromieë aan te gaan.

Die hart en siel van Christenskap is ons verhouding met Chris­tus. Ons redding begin by Hom, ons heiligmaking gebeur saam met Hom en ons verheerliking eindig by Hom. Hy is die rede vir ons bestaan en is dus waardevoller vir ons as enigiemand of enigiets anders.

Die apostel Paulus het goed geweet dat die Christelike lewe in wese die kultivering van 'n intieme kennis van Christus is. Dis waarom hy gesê het: "Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde" (Fil. 3:8). Dit was sy passie sowel as sy "doel" (v. 14,1953-vertaling).

Wat was die "alles" wat Paulus as waardeloos beskou het? Onder andere was dit die uitmuntende getuigskrifte van die werke-godsdiens wat Paulus aangehang het voordat hy Christus leer ken het.  "Ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseer, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik" (v. 5-6). Volgens die destydse konvensionele godsdienstige wysheid het Paulus die regte rituele uitgevoer, het hy aan die regte ras en stam  behoort, die regte tradisies nagekom, die regte godsdiens met die regte hoeveelheid ywer aangehang en die regte wet met eiegeregtige ywer onderhou.

Maar toe hy op 'n dag na Damaskus toe op pad was om nog Christene te gaan vervolg, het Paulus vir Jesus Christus ontmoet (Hand. 9). Paulus het Christus in al sy heerlikheid en majesteit gesien, en hy het besef dat alles wat hy as kosbaar beskou het eintlik waardeloos was. Dus sê hy: "Wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus; as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry" (Fil. 3:7-8). In Paulus se gedagtes het sy bates laste geword - in so 'n mate dat hy hulle as verwerplik beskou het. Waarom? Omdat hulle nie vir hom kon bring wat hy gedink het hulle kon nie - hulle kon nie geregtigheid, krag of volharding voortbring nie. En hulle kon hom nie die ewige lewe en heerlikheid bied nie. Paulus het dus al sy godsdiensskatte verruil vir die onskatbare voorreg om Christus intiem te ken.

Dit is die kern van ons verlossing - die omruiling van iets waardeloos vir iets kosbaars. Jesus het die ruiling soos volg beskryf:

"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land. Met die koninkryk van die he­mel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.  ...As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel." - Matteus 13:44-46

Hierdie twee mans het iets ontdek wat baie kosbaarder was as enigiets anders wat hulle besit het. Vir hulle was dit 'n maklike besluit: verkoop alles wat hulle as kosbaar beskou vir iets wat werklik kosbaar is.

Dit is wat met mense gebeur wat deur God na sy koninkryk gebring word. Iemand wat na God toe kom, is bereid om te betaal wat God vra, maak nie saak hoe hoog die prys is nie. Wanneer hy in die lig van die heerlikheid van Christus met sy sonde gekonfronteer word - wanneer God sy oogklappe verwyder - besef die berouvolle sondaar skielik dat hy aan niks waardevols wil vashou as dit beteken dat hy Christus gaan verloor nie.

Jesus Christus is ons skat en ons pêrel. Iewers in ons lewe het ons ontdek dat Hy baie waardevoller is as enigiets wat ons gehad het - hetsy dit besittings, roem of begeertes was. In vergelyking met Christus het alles waardeloos geword. Ons het dit alles weggegooi en Hom as ons Redder en Here aangeneem. Hy het die liefde van ons lewe geword. Nou is dit ons begeerte om Hom te ken, lief te hê, te dien, te gehoorsaam en soos Hy te wees.

Geld dit nog steeds vir jou? Is daar enigiets in jou lewe wat met die Here meeding? Is daar enigiets in die wereld wat 'n groter aanspraak op jou trou, toewyding en liefde maak? Wil jy Hom nog net so graag ken soos toe jy Hom die eerste keer ontmoet het? Indien nie, het jou verhouding met Hom in gedrang gekom en is jy besig om met die vullis van die wêreld te flankeer. Dit is die gevaar wat kompromieë inhou.

As jy nie jou verhouding met Christus nougeset beskerm en bewaar nie, kan die vreugde en toewyding van jou eerste dae saam met Jesus stadig maar seker in selfvergenoegdheid en onverskilligheid ontaard. Uiteindelik word jou liefdevolle gehoorsaamheid deur koue ortodoksie vervang, en die gevolg is 'n skynheilige lewe waarin daar toegewings aan sonde gemaak word.

Genadiglik het God ons van sekere hulpmiddels in sy Woord voorsien om ons geneigdheid tot sonde te bekamp en ons verhouding met Christus te herstel. Die apostel Paulus help ons hiermee deur met ons te deel wat ons alles gekry het toe ons die wêreld vir Christus verruil het. Ons het 'n nuwe lewe en 'n nuwe verhouding ontvang. Beskerm dit met jou lewe, jy kry net een daarvan!