Ds Andrè van den Berg
“En hy het daar in ʼn spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elia?” 1 Kon.19:9
In die OT was Elia een van die kragtigste instrumente in God se hand, ja, so kragtig dat God hom die dood gespaar en lewend in die hemel opgeneem het. Ons weet eintlik niks van Elia alvorens hy met ʼn oordeelsboodskap van God voor die goddelose koning Agab kom staan het nie: “... So waar as die Here, die God van Israel leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Kon.17:1). Na hierdie onverskrokke aankondiging neem God hierdie onbekende profeet soos klei in sy hand en maak van hom ʼn meesterstuk in sy diens.
Ná Elia se roemryke oorwinning oor die Baalprofete by Karmel tuimel hy van ʼn geestelike hoogte tot in die diepte wanneer hy op ʼn plek beland wat hy nooit sou kon droom hy ooit sou sien nie – onder ʼn besembos - soos ʼn verskrikte dier in afwagting op die dood! En hiervoor was Elia alleen te blameer. Toe hy van donkerte sy gids maak het wanhoop sy leier geword!
Toe alles vir Elia verlore gelyk en niks meer sin maak nie, sou hy kwalik kon glo dat God se plan met hom skaars begin het! Die selfde ding het eeue tevore met die Josef gebeur. Wie sou kon dink dat die verkoopte slaaf die onderkoning van Egipte sou word - van ʼn tronksel na opperbevel!
God tel die mismoedige Elia met ʼn boodskap van hoop en bemoediging in genade op, maar konfronteer hom ter selfde tyd: “Wat maak jy hier, Elia?”. Wanhoop is ʼn lelike ding! Dis soms so bedwelmend, dat dit mense op plekke laat beland waar hulle nie wil wees nie. Kyk maar net wat met Elia gebeur het! Hy was op ʼn plek waar hy nie veronderstel was om te wees nie – ʼn geloofsheld onder ʼn besembos. Bid jou aan!
Dit gebeur ook met mense soos ons. Ons word bv. erg ontmoedig, deur familielede benadeel, deur vriende in die rug gesteek of verloor ʼn stryd. Was jy al in so ʼn situasie? Ek glo dat ons almal al in so ʼn situasie was of tans in verkeer. In sulke tye vra God jou dieselfde vraag: “Wat maak jy hier?”
Let op die twee hoofmomente in Elia se lewensdrama - hoe hy in hierdie situasie beland het en hoe God hom hieruit gered het. Watter omstandighede het Elia lamgelê? Eerstens het hy die verkeerde dinge gesien, tweedens die verkeerde dinge gesoek en derdens die verkeerde dinge gesê. Vers 3 lui: “Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan...” Dis gevaarlik wanneer jy na dinge en nie na die Here kyk nie.
Kyk wat het met Israel gebeur toe die Egiptenare hulle in die woestyn agterna gesit het. Hulle was bang en Moses verkwalik dat hy hulle uitgelei het. Die Israeliete het net gevaar gesien; Moses het God gesien: “Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenare vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in der ewigheid nie” (Ex.14:13). Eeue later kyk Israel weer na dinge: “Maar toe die manne van Israel die man sien, vlug hulle van hom weg, want hulle was baie bang” (1 Sam.17:24). Dawid kyk anders na Goliat. Hy kyk in die geloof en vel die reus neer.
Wat sien jy vanoggend in jou lewe? Wat behoort jy te sien? “...die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof...” (Heb.12:2). Elia het vir ʼn wyle die verkeerde dinge gesien – Isebel wat hom wou doodmaak! Elia het skoon vergeet wat God kan doen, en dit komende van ʼn man wat pas gesien het hoedat God vuur uit die hemel laat kom het!
Die tweede fout wat Elia gemaak het, was om die verkeerde uitweg te kies; hy het vir sy lewe gevlug en later gewens om te sterf. Hy was eerstens oor sy eie veiligheid begaan en tweedens wou hy self sy ellende uitsorteer. Dit het vir Elia primêr oor sy eie wil en eie weg gegaan. Dit gebeur as jy toelaat dat jou probleme jou lewe oorheers! Jy plaas jou wil/oplossing voor God s’n. God wil juis hê dat ons Hom eerste moet plaas: “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg:” (Mt.16:24).
Die derde fout wat Elia gemaak het, was om verkeerde dinge te sê. As jy te lank in die donker staar, beland die donkerte later in jou. En dis presies wat met Elia gebeur het. Hoor hoe praat hy in vers 4: “ ... Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie”. Geen mens sê vir die Here hoe lank hy wil leef nie. Al is die nood hoe groot, bly dit God se besluit.
Let op God se reaksie. Hy weet van Elia se nood; sy verkeerde lewensuitkyk, sy soeke na die verkeerde uitweg en die verkeerde dinge wat hy gesê het. “... en kyk, daar raak ʼn engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!” (:5). Geen verwyt nie; slegs tere aanraking. “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps.103:14). “Want ons het nie ʼn hoëpriester wat net met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is...” (Hebr.4:15). In plaas van oordeel, verleen God aan Elia genade.
God voorsien graag in gelowiges se fisiese behoeftes. “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? (Rom.2:4). Hy gee vir Elia in sy nood voedsel en water.
Hierdie man wat onder ʼn besembos wou sterf, sou nooit in sy wildste drome kon dink dat hy nooit die dood sou smaak nie, maar lewend na die hemel sou vaar! Ja, hoe verskil ons planne dikwels nie radikaal van God se plan met ons lewe nie! “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ʼn hoopvolle toekoms te gee” (Jer.29:11).
God konfronteer Elia: “En hy het daar in ʼn spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elia?”(:9). Hy was nie bestem om in ʼn grot weg te kruip nie, maar om ʼn kragtige getuie vir God Hom te wees. God wil nie hê dat sy kinders troostelose lewens lei nie, maar eerder om vrede en vreugde te ervaar: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Fil.4:6).
God maak egter ook ʼn regstelling aan Elia se foutiewe aanname. Toe God hom ʼn tweede keer vra wat hy daar maak, antwoord hy: “... Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare, want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (:14). Elia aanvaar dat hy die enigste oorblywende gelowige in Israel is; ʼn foutiewe aanname. In vers 18 gee God sy mismoedige dienskneg die bemoedigende versekering dat daar 7000 in Israel was wat die knie nie voor Baäl buig nie.
Elia het na sy ellendige omstandighede gekyk en geglo dat dit klaar met kees was. Hy was gereed om te sterf. God herinner hom dat Hy nog groot planne met hom het. Elia het nie net ʼn verlede en hede gehad nie, maar ook ʼn toekoms met God as sy Reisgenoot.
Laat ons maar versigtig met aannames wees. Sulke aannames hou dikwels nie rekening met God se optrede nie. Toe dit vir Elia voel asof alles met hom klaar was, was God nog lank nie met hom klaar nie.
Bevind jy jou dalk in ʼn situasie waarin jy nie wil wees nie? Praat met God daaroor. Moenie dat ongunstige omstandighede jou getuienis lamlê nie. Gelowiges moet nooit toelaat dat ellendes hul geestelik van koers druk nie. ʼn Kind van God is daarbo verhewe en styg bo hul omstandighede uit om te doen wat reg is en God te behaag. Gevolglik is wanhoop teoreties onmoontlik vir ʼn gelowige want hy aanbid ʼn Helper wat almagtig is.
Laat ons maar versigtig wees vir wanhoop. Dis sonde en die toppunt van selfbeheptheid. Wanhoop is eintlik ʼn samevoeging van selfbeheptheid en selfkastyding. Jy kry selfs mense wat hul rug op hulp draai, net om hulle in die sieklike genot van selfbejammering te verlustig. Dis die sg. smartvrate.
ʼn Mens is geneig om sy probleme, maar nie sy seëninge te tel nie. Moenie toelaat dat slegte omstandighede slegte dinge in jou lewe laat groei nie. Pasop vir selfbejammering. Moenie na ʼn 100 redes kyk om te stop nie, maar eerder na die 1000 om aan te hou.
Mag God ons geestelik optimisties maak want geestelike optimisme is die ruitveërs van die siel. Hou jou oë op die sterre al staan jy ook met jou voete in die modder. ʼn Stormsee raak later ook stil al is dit ook hoe groot. Taai dinge hou nie vir altyd nie, maar taai mense wel!
Ons is maar almal wurms. Mag dit God behaag dat ons, wanneer dit donker om ons word, soos glimwurms skyn. Laat mense kennis neem van iemand wat na God se hart geleef het. Met Christus in jou lewe, het jy al die moontlikheid!
Die Here kom ook vanoggend en vra vir jou: “Wat soek jy hier?” En as Hy hard met jou praat, is dit tyd om na Hom te luister!
Amen.