Ds AE vd Berg
Lees reeks by HEMEL OF HEL? MAAK JOU KEUSE!
HET JY 'N BRUILOFSKLEED AAN?
"In Milaan is daar ‘n katedraal met drie ingange en drie opskrifte. Bokant die eerste staan daar geskryf ALLES WAT BEHAAG, IS MAAR VIR ‘n OOMBLIK. Bokant die tweede ALLES WAT HINDER, IS MAAR VIR ‘n OOMBLIK. Bokant die hoofingang verskyn die woorde: SLEGS DIT WAT EWIG IS, IS BELANGRIK."
Skrif: Mt.22:1-14
“En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (:12,13).
As die mensdom net besef hoe vernietigend sonde is, sal geen mens die bekering as ‘n opsie oorweeg nie maar as ‘n vereiste beskou! Sonde verteer die mens soos ‘n kanker van binne. Luister wat sê Dawid daaroor: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer .... want u hand was dag en nag swaar op my....” (Ps.32:3,4). “Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos ‘n vuurherd” (Ps.102:4).
Wanneer ‘n dokter jou meedeel dat jy kanker het, het jy net een hartsbegeerte - om daarvan ontslae te raak voordat dit jou lewe eis. ‘n Mens sal enigiets doen om die lewe te behou. Wat ‘n heuglike dag as jy na deeglike behandeling die goeie nuus ontvang dat jy skoon is! Maar wat maak ons met sonde, daardie kanker wat ons siel aanval? Dis veel erger as fisiese kanker. Waarom? Omdat die liggaam sterf, maar die siel leef voort – of in die hemel of in die hel!
Nie alle kankers genees nie. Miljoene mens sterf jaarliks daaraan. Die kanker van die siel kan wel genees. Jesus belowe aan almal wat siele-kanker het en na Hom toe kom, dat hulle genees sal word. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee”(Mt.11:28). Wat beteken hierdie rus anders as genesing? Mal.4:2 sê dat daar genesing onder sy vleuels is.
Daarom moet ons nie al ons hoop op die aardse lewe plaas nie. Dit wat ons hier doen of nalaat om te doen, bepaal wel ons ewigheid. “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Moenie dat sonde jou lewe beheer en jou van ‘n ewige, salige eindbestemming beroof nie. Verkry eerder vergifnis en leef reg. Jy het niks om te verloor nie. Jy wen al die pad! Die goeie nuus is dat God niemand in die hel wil sien nie. “...Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.33:11). Is ons gewillig om sy redding te aanvaar? Hy het die reddingsboei in die stormsee van die lewe ook na jou uitgegooi. Het jy dit vasgryp?
Hoe dwaas dit ook al mag klink, weier mense dikwels om dit vas te gryp. God laat mense selfs groot skrik, sonder dat dit enigsins help. Koning Belsasar het hom oor ‘n mik geskrik toe hy God se hand teen die paleismuur sien skryf. Desondanks het hy hom nie bekeer nie en daardie selfde nag nog in sy sonde gesterf.
God dwing niemand om die reddingsboei vas te gryp nie. Hy dring Hom nie aan ons op nie. Hy gee ons wel die kans om aan ewige straf te ontsnap. Daarom gooi Hy in Christus Jesus die reddingsboei tot teenaan ons. Ons moet net die hand uitsteek en dit vasgryp. As ons dit vasgryp, gaan ons hemel toe. As ons dit los, gaan ons hel toe!
Wie dit vasgryp, word kinders van God. Hierdie kindskap is nie maklik nie, maar ‘n stryd. “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:14). Dis egter die moeite werd want geestelike stryd maai ‘n ewige lewe. Niks klop die beloning nie - ons erf ‘n koninkryk!
Dis die enigste manier om in die hemel te kom. Ons kan dit nie met geweld betree soos die mense van Babel wat met die bou van ‘n toring die hemel probeer bestorm het nie. Om in die hemel te kom, het ons nie oorlogsklere nodig nie, maar feesklere!
In die gelese gedeelte vergelyk Jesus die hemel met ‘n huwelik - ‘n heuglike geleentheid. Vir die ou Jode was ‘n huwelik baie groter as vandag en kon tot sewe dae duur. Om te verhoed dat mense ongevraagd opdaag, het die gasheer elke genooide van ‘n bruilofskleed voorsien. Die Engelse praat van'gate crashing'. Dit was as’t ware die toegangskaartjie. Wie nie een gehad het nie, is uitgegooi en daarvoor het ‘n paar sterk manne by die deure gesorg. Hulle was uitsmyters “bounsers”. Ja, niks is nuut nie!
In Mt.22 lees ons van ‘n persoon wat ongenooid opgedaag het. Omdat hy nie ‘n bruilofskleed aangehad het nie, het hy aandag getrek: “Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En toe hy niks kon antwoord nie, is hy summier uitgesmyt. “Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en sy voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis...” (:13).
Om die hemel in te gaan, sal soos ‘n bruilofsfees wees. Met jou bekering het jy ‘n huweliksuitnodiging (bruilofskleed) ontvang na die huwelik van Jesus met sy Kerk. Die Bybel stel Christus dikwels beeldsprakig as ‘n Bruidegom voor met die kerk as sy bruid. Jesus vertel in Mt.25 selfs ‘n gelykenis hieroor – diè van die 10 maagde wat op ‘n bruidegom gewag het. ‘n Gelowige is dus tegelyk gas en deel van die bruid!
In Milaan is daar ‘n katedraal met drie ingange en drie opskrifte. Bokant die eerste staan daar geskryf ALLES WAT BEHAAG, IS MAAR VIR ‘n OOMBLIK. Bokant die tweede ALLES WAT HINDER, IS MAAR VIR ‘n OOMBLIK. Bokant die hoofingang verskyn die woorde: SLEGS DIT WAT EWIG IS, IS BELANGRIK.
Wat is vir jou die belangrikste? Die tydelike lewe of die ewigheid?
Die Skrif nooi ons telkens om van die lewende water wat God voorsien, te drink. Tydens ‘n loofhuttefees sê Christus aan die Jode: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink” (Joh.7:37). Die slotgedeelte van die Bybel bevat selfs beloftes van ‘n oorvloedige voorraad dorslessende water: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom, en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openb.22:17).
God dwing die hemel op niemand af nie. Net hy wat dit wil hê, ontvang dit. Wie dit nie wil hê nie, ontbeer dit. Wat wil jy hê? Vergifnis en vrede is op aarde byderhand; maar in die hel is dit onbereikbaar! Om die hemel mis te loop, is tragies en om die ewigheid in die hel deur te bring, die grootste ramp wat ‘n mens ooit kan tref!
Jesus kom eersdaags weer. En hy kom as Regter! Die boog van God se toorn is reeds gespan en die pyl lê reg op die snaar. Moet dus nie aan Jesus se verkeerde kant staan nie. Daar is net een asemteug tussen jou en die dood. Jou tyd op die aarde is beperk en miskien korter as wat jy dink. Moenie hel toe wil gaan nie! “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6).