HEMEL OF HEL? MAAK JOU KEUSE! (5)

Ds AE vd Berg

Lees reeks by HEMEL OF HEL? MAAK JOU KEUSE!

WAARSKU MENSE BETYDS!

Skrif:  Eseg.33:1-9

“En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (:7).

Wie gee God die reg om mense hel toe te stuur?  Hyself.  God oordeel alleen as Hy seën of straf uitdeel.  “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand.4:12).   Elkeen word geoordeel volgens wat hy met Jesus doen.  Wie die regte ding doen, gaan hemel toe en wie die verkeerde ding doen, gaan hel toe.

Gevolglik is Pilatus se vraag aan die skare wat hy met Jesus moes doen, ‘n universele vraag wat elkeen homself moet afvra: Wat doen ek met Jesus?  Die antwoord daarop bepaal ons ewige eindbestemming.  Ons erf nie die hemel deur goeie werke nie.  Waar jy die ewigheid gaan deurbring, hang alles af van wat jy met Jesus in jou lewe doen.

Daarom is dit gelowiges se plig om ongelowiges oor God se komende oordeel te waarsku.  Benewens die blye Evangelie behoort leraars ook gereeld oor die hel te preek en die volle raad van God verkondig.  Nie net die heerlikheid van die hemel nie, maar ook die aakligheid van die hel!   Ongelukkig laat die Satan baie gelowiges daaroor swyg en kry die mense wat dit die nodigste het, nie die boodskap nie: “sodat die verligting van die Evangelie van die heerlikheid van Christus... op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor.4:4).

Sou dit nie beter wees om die Evangelie liefs nie te verkondig nie?   Want as mense dit hoor en verwerp gaan hulle hel toe, maar as hulle dit nie hoor nie, kan God hulle mos nie veroordeel nie?   Hulle het mos nie geweet nie!   Luister na Jesus se laaste opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies ....” (Mt.28:19). Waarom?  Omdat geen mens sonder geloof in Christus in die hemel kan kom nie.

In Joh 14:6 sê Jesus aan Filippus: “.... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”  Jesus is die enigste Brug tussen God en mens.  Daar is geen ander pad nie.  Wie die bekering in Jesus nie smaak nie, sal nie in die hemel kom nie, maar in die hel beland.  Daarom moet die Evangelie baie dringend aan almal verkondig word!

Gaan daar baie mense in die hemel wees?  Nee, relatief min. ”Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei; en daar is min wat dit vind” (Mt.7:14).  Daarom is ons verplig om Jesus se opdrag uit te voer ongeag hoeveel mense luister. “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2).  Onverskilliges het geen verskoning nie!

Ons moet nie net van God se liefde en genade getuig nie, maar ook van sy oordeel en ewige straf.   Wie dit nie doen nie, is soos die wag op die stadsmuur wat die gevaar sien, maar nie alarm maak nie.   Wie oor God se oordeel swyg, ontneem die Evangelie van sy wese.  Dis ‘n onvolledige beeld.   Die teksvers roep ons juis op om hard en dringend met mense oor hul sieleheil te praat.   As ons hulle nie waarsku nie, is ons liefdeloos en beantwoord ons nie aan die liefdesgebod nie.

God geniet dit nie om te straf nie.  Hy wil dat almal gered word: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot ‘n kennis van die waarheid kom” (1 Tim.2:3,4).  “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh.4:10).

Die bloedsweet op die voorhoof van ons Verlosser in Getsèmané, die doringkroon, die spykers, die spies, die spot en hoon dui hoe ernstig Hy daarna verlang het om mense van die hel te red.  Sy goddelike liefde en besorgdheid oor mense se sieleheil word in Eseg.33:9 opgeteken: “Waarom wil julle sterf?”  God het elke moontlike versperring in die pad gelê om te verhoed dat sondaars hulself in die vlamme van die hel werp.

Die hel is ‘n onbeskryflike verskrikking.  Mattheus gebruik die uitdrukking ‘n 'gekners van tande' om die woede, pyn en frustrasie van ‘n benoude persoon te beskryf.   Lukas gebruik dieselfde uitdrukking om mense se moordlus te beskryf.   Let op die skare se reaksie op Stefanus se op-die-man af prediking.  “En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte  en het teen hom op die tande gekners” (Hand.7:54).  Net daarna het hulle hom gestenig.

Wie Jesus verwerp, onderskryf in werklikheid sy dood, al is dit nie met soveel woorde nie.   Waarom?  Omdat so ‘n persoon Satan as meester het wat Jesus dood wou sien!

Alle haters van God gaan op ‘n dag in die hel byeenkom.  Dit sal egter geen gesellige byeenkoms wees nie, maar een van ongekende ewige droefheid.   God, die Almagtige, gaan hulle daartoe dwing!   Daarom gebruik Mattheus die woord 'gekners' saam met 'geween'.   Ja, dit spreek van ‘n ongekende droefheid oor die besluit wat verlorenes oor Jesus geneem het.   Hulle kon in die paradys gewees  het, en kyk waar sit hulle nou!

Desnieteenstaande glo baie mense nie in die hel nie omdat niemand nog daarvandaan teruggekeer het om mense te waarsku nie.   Nee, niemand het nog daarvandaan teruggekeer nie, want niemand kan nie!   Ons het net God se Woord wat ons waarsku.  Wil ‘n sondige, onvolmaakte mens met ‘n volmaakte God daaroor redekawel?

Desondanks bly die mens na tasbare dinge soek om in te glo.  Daarom het Israel by geleentheid selfs ‘n goue kalf aan die voet van dieselfde berg waar God vir Moses die wet gegee het, gemaak.   Watter les leer ons hieruit?   Om jou godsdiens nooit aan jou eie siening te onderwerp nie.   Want as dit gebeur, begin jy jou eie sondes goed te praat.   Daarom is daar net een goue reël vir gelowiges om te volg – terug na die Bybel!   As ons verstand ons verhouding met God moes bepaal het, sou ons nooit ‘n verhouding met Hom gehad het nie: “Deur die Here word die gange van ‘n man bevestig, en Hy het ‘n welbehae in sy weg” (Ps.37:23).

Is daar nie dalk ‘n tweede kans om, indien iemand sonder Christus sterf, die saak met Hom in die hiernamaals reg te maak soos wat die Jehovagetuies glo nie?   Nee, daar is beslis geen tweede kans nie!   Nêrens in die Skrif is daar selfs ‘n vae moontlikheid van so ‘n moontlikheid nie.   Nog minder dat daar aan die hel ‘n einde gaan kom.

Niemand sal in die hel beland wat dit nie verdien nie.   Elkeen wat weier om hom tot Christus te bekeer, sal die ewigdurende, jammerlike gevolge daarvan dra.  God is liefdevol, regverdig en sagmoedig.  Hy is nie ‘n sadis wat hom in ander se leed verlustig nie.   Daarom stuur God nooit ‘n persoon hel toe wat nie daar wou wees nie.  Dit sal beslis nie met sy liefde strook nie!

Dit sou erg genoeg gewees het as verlorenes in hierdie verlore toestand ingedwing is.  Wie in die hel beland, wou daar wees.  Dis hul eie keuse teen die waarskuwings en pleidooie van gelowiges in.  Hulle het hulself daarheen gestuur.  Dis hul verdiende loon.  “...die goddelose is verstrik in die werk van sy eie hande” (Ps.9:17)   God is regverdig in sy oordeel.  Niemand kan voor Hom staan en sê dat hy nie die hel verdien nie.  Dis ons normale koers.  Ons verander slegs deur die bekering van koers!

Niemand kan ‘n goeie indruk op God maak en sodoende sy guns bekom nie.   In die oordeel gaan dit nie om ons verdienste nie, maar om Jesus se verdienste.   Daarom kan ons nie met God oor ‘n plek in die hemel kibbel nie.  Ons het geen geregtigheid van ons eie nie.  Dit gaan uitsluitlik oor wat ons met Jesus in ons lewe gedoen het.

As jy Jesus as Verlosser aanvaar het en weet dat die hemel op jou wag, sal jy nie soveel as moontlik mense saam met jou hemel toe wil neem nie?   Hoe liefdeloos sal dit nie wees om toe te sien dat mense oor die afgrond van die ewigheid in ‘n vlamme-hel stort nie!   Sien jouself soos ‘n Esegiël van ouds as wag op die muur - waarsku!  Moenie dat mense deur jou onverskilligheid die hel binnegaan nie!  Luister wat sê God vir Kain: “... Wat het jy gedoen?  Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af” (Gen.4:10).  Wil jy ook ‘n verwytende stem hoor?

In die Noorde van Skotland was daar ‘n treinbrug oor ‘n diep kloof met ‘n rivier wat onderdeur gevloei het.  Een nag het ‘n hewige storm die middelste pilaar van die brug beskadig.   ‘n Herder-seun het dit vroeg die volgende oggend ontdek en geweet dat ‘n trein in aantog was.   Toe die trein nader kom het hy sy baadjie uitgetrek en op die spoor gaan staan en dit angstig geswaai.   Die masjinis het die seun gesien en die fluit geblaas.  Toe hy besef dat die seun nie gaan beweeg nie, het hy rem aangeslaan, hom getref en ‘n paar meter voor die beskadigde brug tot stilstand gekom.  Toe die passasiers die skade aan die brug sien, het hulle besef dat as daardie seun nie in hulle plek gesterf het nie, hulle almal sou omgekom het!

Dis wat Jesus vir ons gedoen het.   Gaan staan op die spoorlyn van die lewe en waarsku die mense in Jesus naam