VERKEERDE OUERVOORBEELD

Ds AE vd Berg

Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees....!” (Gen.27:13)

Hoe nader die einde van die wêreld kom, hoe meer gaan godsdiens, kultuur, volkswaardes en die gesinslewe agteruit. Die gehalte van ʼn volk se lewe hang ten nouste van sy gesinsleweaf. Waar dinge in ʼn gesin verkeerd loop, word dit nie sommer daarbuite reggestel nie omdat die gesin die smidswinkel is waar lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word.

By geleentheid het ʼn direkteur van ʼn Amerikaanse maatskappy afgetree en geweet dat ʼn klompie jong bestuurders sy pos beny het. By sy afskeidsfunksie het hy gesê: “ My dogter is verlede week getroud. Toe ek met haar na die kansel loop, het ek met ʼn skok besef dat ek nie eens die naam van haar strooi-meisie geken het nie. So ook nie die naam van die laaste boek wat sy gelees het of wat haar gunsteling kleur was nie. Dis die prys wat ek vir hierdie werk betaal het. As julle bereid is om dieselfde prys as ek te betaal, kan julle dit gerus kry!”Ja, die prys van welvaart ten koste van gesinslewe is altyd te hoog!

In Des. 2002 het The Readers Digest ʼn opname in Amerika gemaak en kinders gevra wat hulle graag vir Kersfees sou wou hê. “Meer tyd saam met ons ouers!”was die oorweldigende antwoord! Niks is kosbaarder as ʼn gesonde geestelike- en gesinslewe nie en dit kos nie geld nie. Let op: Die goeie dinge in die lewe is gewoonlik gratis. As mense dit maar net wil gebruik!

In die Bybel ontmoet ons mense wat na aan God geleef het, maar ons lees nooit van een enkele voorbeeldige gesin nie. Gelowiges is nie outomaties goeie gesinsmense nie. Adam en Eva was skaars uit die Tuin van Eden toe die een seun sy eie broer doodslaan. Sem, Gam en Jafet moes hul vader se dronkenskap aanskou. Jakob en Esau het nie oog tot oog gesien; ook nie Josef en sy broers nie. En wat vrouens en kinders betref, het die ongeluk Dawid behoorlik gery. Al was hy ʼn man na God se hart, was sy gesinslewe bedenklik!

Gen. 27 vertel die verhaal van ʼn gesin wat soos die duiwel gewerk het om God te probeer dien. Die gesin van Isak en Rebekka was ʼn sprekende voorbeeld van swak gesinsverhoudings. Hy en sy vrou het elkeen hul persoonlike doel met hul gesin probeer verwerklik sonder om God se wil in berekening te bring.

Alles het om die verkryging van die eersgeboortereg gegaan; destyds ʼn kosbare erfenis. Rebekka wou dat Jakob die seën van Isak ontvang en nie Esau nie en het nie geskroom om die gesinslewe daarvoor te ontwrig nie. Sy was ʼn luistervink en het gevolglik alles van Isak se gesprekke met Esau geweet; ook om hom te seën. Daarom het sy haar eie plan gemaak.

Sy het geweet dat Jakob uitverkies was. Toe die ongebore tweeling teen mekaar stoot, het God vir haar gesê dat daar twee nasies in haar was en Esau vir Jakob sou dien. Isak het dit ook geweet. Desondanks wou hy ook sy wil laat seëvier. Miskien wou hy nie dat ʼn vrou hom voorsê wat om te doen nie en het gevolglik sy eie wil op sy gesin afgedruk.

Dis verstommend hoe Isak God se wil veronagsaam het!   Hy het dan as kind gesien hoe daarmee omgegaan is toe sy vader hom op God se bevel wou offer en hy daarna die reddende uitkoms met sy eie oë aanskou het. Met sy eiesinnige optrede het hy sy gesin despoties oorheers en oneindige skade berokken!

Moenie dieselfde fout as Isak maak nie. Hy wou nie God se wil vir elkeen van sy seuns insien nie. Wat was so erg daaraan dat Esau nie die seën sou ontvang nie? Dit was nie ʼn skande nie!   God het met elkeen ʼn doel gehad. Isak wou dit nie insien nie en het God se plan in die wiele probeer ry en bittere wrywing onder sy seuns en in sy gesin gebring.

Ouers wat God se wil eerste stel, is kosbaar!   Met Isak se gesin was dit andersom. Hy het ʼn vete met mekaar laat ontwikkel. Rebekka en haar kombuiskuiken het soos die duiwel baklei om te verseker dat hul plan uitgevoer sou word.   As gesinslede hul eie selfsugtige doelwitte nastreef, is dit klaar met die gesinslewe

Esau was deeglik bewus daarvan dat Jakob die seën sou ontvang.   Dis immers waaroor al die bakleiery in die huis gegaan het. Toe hy sy eersgeboortereg aan sy broer vir ʼn kooksel lensiesop verkoop, het hy iets verkoop wat in werklikheid nie syne was nie. Sy optrede was waarskynlik aan sy pa se houding te wyte.

En Jakob? Waarom het hy die eersgeboortereg op hierdie wyse verkry as hy tog van God se voorsegging geweet het? Sy ma het sekerlik vir hom daarvan vertel. Watter ergernis het hy hom nie daardeur op die hals gehaal nie; hy moes vlug en iewers in die gramadoelas met sy kop op ʼn klip slaap! Ek wonder hoeveel kinders het nie al weens ouers se foute uit hul ouerhuis moes vlug nie?!

Die eindresultaat - daardie gesinslewe was ʼn vervreemding tussen ʼn man en sy vrou.   Dit het van Jakob ʼn bedrieër gemaak omdat sy vader hom nie geleer het om op God alleen te vertrou nie. Dit het ook van Esau ʼn heiden gemaak omdat hy geweier het om God se wil vir sy lewe te aanvaar. Ja, die bos wat jy geplant het se dorings steek die seerste en wie die bron vergiftig moenie vars stroompies verwag nie. Modderige bronne het altyd vuil stroompies!

Ouers wat kinders aanhits om hul eie selfsugtige doelwitte te bereik, betaal ʼn baie duur prys. In Isak en Rebekka se geval het dit daartoe gelei dat die een broer die ander wou doodmaak! En dis waar ʼn mislukte gesinslewe begin – by ouers wat nie na God luister nie en dink dat hulle beter as Hy weet!

Stukkende gesinne vergiftig ʼn volk. Ons volkslewe gaan nie herstel alvorens ons die gesinslewe herstel nie.   En daarvoor het ons Jesus nodig wat juis gekom het om stukkende verhoudings heel te maak.

Hoor wat sê die Bybel vir vroue: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here” (Efes.5:22). En vir mans: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het” (:25). En vir kinders: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. En vir vaders as hoof van ʼn huishouding: En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efes.6:1,4).      

Kom ons ondersoek ons gesinslewe, ma, pa, ouma, oupa: maak reg wat verkeerd is. Rebekka sê vir haar seun: “Laat jou vloek op my wees...” Nee, dit kan en mag nooit wees nie!   Vaders, moeders, oupas, oumas, moenie dat julle kinders en kleinkinders se vloek ooit op jou rekening staan nie!