GEREGVERDIG, GEHEILIG EN VERLOS!

Dr Danie Theron

Rom 10:4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid van elkeen wat glo.

As ons die Woord van God nie hoor nie, nie lees nie, kan ons kwalik in geloof groei. Is geloof dan nie ‘n vaste vertroue in God nie? En hoe kan ons God vertrou as ons Hom nie ken nie? ‘n Kind vertrou sy ouers omdat hy hulle ken en hoe beter die ken, hoe groter die vertroue. Jy kan alleen in iemand glo as jy hom ken.

En watter openbaring is dit nie as mens die Woord van God intens bestudeer nie. Ek loop iemand raak wat my vlugtig vra oor regverdigmaking en heiligmaking. Weliswaar kan ek ‘n kort en kragtige antwoord gee, juis omdat ek dit kort vantevore gelees het, maar sulke kragtige begrippe vereis verskeie navorsing. En waar begin mens om dit te verduidelik? Wel, kom ek probeer.

Ons weet dat vanweë die sondeval die hele wêreld in die mag van die Bose lê (Joh 5:19, Matt 4:9, Luk 4:6, Op 11:15). Maar ons glo dat Christus ons met sy bloed uit die mag van die sonde “weggeruk” het (Kol 1:13).

Hoe het dit gebeur? God die Vader het sy Seun na die dode gestuur om vir ons sondes te sterf. Waarom? Omdat deur die sondeval in die paradys die mens ongehoorsaam aan God was, het die beeld van God of die kindskap van God verval.

Boosheid was die gevolg van ongehoorsaamheid. Gevolglik is wette daargestel (waaronder die Tien Gebooie) om gehoorsaamheid te verseker. Algaande het Israel hulle verlossing afhanklik gemaak van wetsongehoorsaamheid. Hulle het uit die oog verloor dat dit verbondswette was; altyd geldende sedewette. God het daarom sy Seun as gawe na die aarde gestuur om aan die kruis ‘n eenmalige offer te bring vir die sondes van mense wat steeds, te midde van die wet, toegeneem het.

Deur hierdie daad is die mens geregverdig; dws vrygemaak en vrygestel van die skuld van die sonde (Rom 3:24). Daarin lê geen verdienste nie. Ons sonde is dus deur sy bloed bedek en weggeneem.

God se genade was dus die grondoorsaak van die regverdiging. Ons is dus vrygespreek.

So? Eindig dit dan alles daar? Hoef ons dan verder niks te doen nie? Nee. Ons moet steeds glo. Deur te glo kan ons hierdie regverdigmaking vir onsself toeëien. Ons is nou net verlos van die heerskappy van die sonde, maar nou juis geroep tot geloof.

Op regverdigmaking volg heiligmaking (1 Kor 1:30). Die mens behoort na siel en liggaam aan God en moet dus sy liggaam aan God as ‘n lewende, heilige en welgevallige offer stel. Ons lewens moet dus aan God toegewys wees (Rom 12:1). Ons moet deur die werkling van die Heilige Gees besiel word deur ‘n welbewuste en dankbare toewyding aan God. Ons lewe moet hervorm word deur in geloof en vertroue te groei.

Wat beteken heiligmaking dan? Deur in geloof te groei, groei jy ook in heiligmaking. Gelowiges trek nie in dieselfde juk saam met ongelowiges nie (2 Kor 6:14) juis omdat geregtigheid en ongeregtigheid geen deel aan mekaar het nie.

Daarom sonder gelowiges hulle af van ongeloof. Afsondering beteken heiligmaking. As tempel van God waarin die Heilige Gees woon, is heiligmaking die natuurlike verdere stap nadat die gelowige weet hy geregverdig is en so geroep is tot die geloof. In ‘n sekere sin beteken heiligmaking vereensaming juis omdat dit afsondering is. Maar die “prys” daarvan lê in die toekoms – die verlossing. Hoe groter die geloof, hoe groter die verwagting op die ewige toekoms. Ons vertroue is vas (Heb 12:1),niks kan dit van spoor bring nie.

Nou terug by die oorspronklike vraag: Hoe sal ons hierdie dinge weet as ons nie die Bybel lees nie? En hoe kan ons ruimte skep vir die Heilige Gees om in ons te werk en die geloof vir ons tot stand te bring?

Daar moet dus ‘n bereidheid wees om die Woord te hoor en te lees. En daardie bereidheid wek, hoe later hoe meer, ‘n groei in die geloof en ook ‘n honger na die Woord.

Geloof groei nie sonder die Woord en die oordenking daarvan nie. Ja, ons geloofsvertroue sal eenmaal oorgaan in aanskoue!

1 Pet 1:15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle lewenswandel heilig word.