WAAROM VIER ONS MORE HEMELVAART?

HEMELVAART

Ascensionis Domini (Latyn vir Hemelvaart)

Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar ..."

Op Hemelvaartdag herdenk Christene dat Christus ná die kruisiging en opstanding na die hemel opgevaar het en woon talle van hulle deesdae weer 'n herdenkingsdiens by.

Hemelvaart beteken in die Christendom die terugkeer van Jesus van Nasaret na sy Vader in die hemel. Die Lukas-evangelie  en Handelinge van die Apostels vertel die verhaal van hoe Jesus ná die Opstanding verskeie kere aan sy apostels en volgelinge verskyn het. Ná veertig dae styg Hy na die hemel op en word die sig daarvan dan deur 'n wolk belemmer terwyl sy volgelinge toekyk.

Hemelvaartdag vind altyd op die veertigste dag plaas gereken vanaf Eerste Paasdag, vandaar dat die datum elke jaar verskil. Hemelvaartdag is wél altyd op 'n Donderdag. Hemelvaartdag is tien dae vóór Pinkster.

Reeds uit die geskrifte van die Apostoliese Vaders blyk die gebruik om Hemelvaart te herdenk (Polycarpus van Smirna, Justinus die Martelaar en Irenaeus van Lyon). Die hemelvaart van Jesus word ook gemeld in die geloofsbelydenisse van Nicea en dié van Konstantinopel.

In baie lande, waaronder België, Colombia, Denemarke, Duitsland, Finland, Frankryk, Groenland, Haïti, Ysland, Indonesië, Liechtenstein, Luxemburg, Madagaskar, Namibië, Nederland, Noorweë, Oostenryk en Switserland, is Hemelvaartsdag 'n vakansiedag in die middel van die week. Daarom word die Vrydag daarna ook "Vaak Vry" genoem. Baie Christene in ander lande sal ook 'n kerkdiens of mis besoek op hierdie dag. In ander lande, byvoorbeeld Hongarye, Italië, Pole, Portugal en Spanje, gaan mense kerk toe op die Sondag ná Hemelvaart.

In Suid-Afrika begin ware Christene nou weer meer bewus raak van die belangrikheid van Hemelvaart ná 'n tydperk waarin daar nie genoeg aandag aan geskenk was nie.  Predikante van behoudende kerke hou op Hemelvaart 'n diens waar Christene hulle in dankbaarheid kan gaan verootmoedig vir die groot geskenk van Jesus toe Hy vir ons sonde aan die kruis gesterf het, weer op te staan en lewendig na die hemel gevaar het waar Hy aan die regterhand van sy Vader wag vir die Wederkoms om sy kinders te kom haal.  Luister wat sê die twee engele vir die dissipels na afloop van die Hemelvaart in Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar ..."