ELIA EN ELISA (14)

Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA

MEEDOËNLOSE JEHU

Dr JP Botha

Nadat my wonderlike voorganger, die profeet Elia, van Karmel af weggevlug het toe Isébel hom wou doodmaak, het die Here aan hom 'n nuwe opdrag gegee om te gaan uitvoer.

Jehu gesalf as koning

Elia moes vanaf die berg Horeb na Israel terugkeer, en my by Abel-Mehola gaan salf as profeet in sy plek.  Hy moes ook vir Hasael gaan salf as koning van die Arameërs en vir Jehu as koning van Israel.  Toe die groot profeet na die hemel opgevaar het, was die Here se opdrag aan hom oor Hasael en Jehu nog nie uitgevoer nie en moes ek dit gaan doen.

Ek het een van die profete geroep en hom met 'n kruikie olie na Ramot in Gilead gestuur.  Koning Joram was toe al weer in oorlog met die Arameërs, wat hierdie mooi deel van Israel wou afneem.  Joram is daar gewond en was verplig om na sy paleis in Jisreël terug te keer, om te herstel.  Hy het sy offisiere in Ramot agtergelaat.

Die hoof-generaal was Jehu, die seun van Josafat.  Ek het vir die profeet gesê om vir Jehu te gaan opsoek.  "Gaan in, bring hom eenkant, weg van sy mede-offisiere af, in 'n binnekamer.  Vat dan die kruik met olie en giet dit op sy kop uit.  Sê dan:  'So sê die Here, Ek salf jou tot koning van Israel.'  Maak dan die deur oop en vlug onmiddellik."

Ek wou nie die profeet se lewe in gevaar stel nie.  Van die ander offisiere wat vir koning Joram ondersteun, kon hom vang en om die lewe bring indien hulle sou agterkom wat hy gedoen het.

By sy aankoms in Ramot was die generaals besig om samesprekings te voer.  Hy het vir Jehu gesê dat hy vir hom 'n boodskap het en graag met hom vertroulik wil praat.  Hy het saam met die generaal na 'n aangrensende vertrek gegaan, die olie op Jehu se kop uitgegiet en vir hom gesê:  "So sê die Here, die God van Israel:  Ek salf jou tot koning oor Israel, die volk van die Here.  Jy sal die koningshuis van Agab vernietig.  So sal Ek My wreek  op Isébel se bloedvergieting van my profete en die moord op al my ander dienaars.  Agab se hele huis sal tot niet gaan.  Ek sal al sy manlike nakomelinge sonder uitsondering uitroei.  Ek sal met die huis van Agab maak soos met die huis van Jerobeam en soos met die huis van Baesa.  Die honde sal vir Isébel opvreet op die oop stuk grond in Jisreël.  Sy sal nie begrawe word nie."

Hy het toe die deur oopgemaak en gevlug.

Jehu het na die ander nuuskierige offisiere teruggestap.  Hulle het gevra:  "Is alles reg?  Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?"

Jehu het hulle vrae probeer ontwyk en gesê:  "Ag, julle weet mos wat se soort praatjies hierdie mense loop en verkondig."

"Ag, onsin man!  Vertel ons wat het hy gesê."

"Hy het my tot koning oor Israel gesalf."

Jehu het seker nie verwag om so algeheel in sy nuwe amp ondersteun te word nie.  Almal het van hul kledingstukke uitgetrek, dit voor Jehu op die trappe oopgesprei, op die ramshoring geblaas en uitgeroep:  "Jehu is koning!"

Joram se einde

Die nuwe koning het uit die staanspoor die volle ondersteuning van die weermag geniet.  Hy het ook nie gras onder sy voete laat groei nie en met 'n sterk afdeling soldate in die pad geval na Jisreël, die winterpaleis van die konings.

Hier begin nou my verhaal van hoe die Here hierdie man, wat Hy as Israel se nuwe koning deur ons laat salf het, gebruik het om die swaar strafgerig wat Hy oor die huis van Agab uitgespreek het, uit te voer.  Jehu het meedoënloos en sonder om enige genade te betoon, voortgegaan om Agab se nakomelinge uit te roei.

Joram was besig om in Jisreël van sy wonde, wat hy opgedoen het by Ramot in Gilead se gevegte teen die Arameërs, te herstel.  Koning Ahasia van Juda het vir sy oom Joram in Jisreël kom kuier.  Joram se suster Atalia, was Ahasia se moeder.  Agab was Joram se pa en Ahasia se oupa.

Onderwyl die twee konings besig was om by die paleis van Jisreël te ontspan, het die wag op die toring kom sê dat hy 'n klomp mense sien aankom.  Joram het 'n boodskapper daarheen gestuur om te verneem wie dit was en of hulle in vrede kom, maar die boodskapper het nie teruggekeer nie, want Jehu het hom daar gehou.  Toe het Joram 'n tweede boodskapper gestuur wat ook nie teruggekom het nie.

Die twee konings het besluit om self te gaan kyk wat aangaan.  Hulle het hul koninklike voertuie laat inspan en in die rigting van die aankomende groep manne gery en ontdek dat dit Jehu was wat soos 'n besetene voortgejaag het.  Die ontmoeting het plaasgevind op die oop stuk grond waar Nabot vroeër sy wingerd gehad het.

Joram het gevra:  "Kom jy in vrede, Jehu?"

"Wat?  Vrede?  Met al hierdie hoerery en toordery van jou ma Isébel se afgodsdiens?"

Toe pluk Joram sy wa om om te vlug en hy skree vir Ahasia:  "Verraad, Ahasia!"

Maar die arme Joram het nie ver gekom nie.  Jehu het sy boog gespan en hom tussen die blaaie getref.  Die pyl is deur sy hart en hy het daar op sy wa inmekaargesak.  Hulle het hom opgetel en op die stuk grond neergegooi wat aan Nabot behoort het.

Ahasia se einde

Toe koning Ahasia van Juda sien wat met sy oom Joram gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug, maar Jehu het hom agterna laat sit en beveel dat hy ook geskiet moes word.  Hulle het hom op die hoogte van Gur ingehaal en op sy wa raakgeskiet.  Daarna het hy nog tot by Megiddo gevlug en daar gesterf.  Sy troue bediendes het hom op sy wa na Jerusalem vervoer en daar in 'n familiegraf begrawe.

Isébel se einde

Die tyding dat Jehu die twee konings om die lewe laat bring het en op pad was na die koninklike paleis in Jisreël, het die koninginmoeder Isébel bereik.  Toe het sy geweet dat haar dae getel was, maar sy het nogtans gehoop om deur vroulike sjarme gered te word en haar lewe te behou.  Sy het haar oë gaan verf en haar hare mooi gemaak en ewe koketterig vir Jehu en sy manne ingewag.  Maar in plaas van om mooi broodjies te bak toe hulle daar aankom, het sy hom 'n koningsmoordenaar genoem.

Sy het voor 'n groot oop venster op die boonste verdieping gestaan en afkyk.  Toe het Jehu 'n paar van haar kamerbediendes wat agter haar gestaan het, beveel om haar daar af te gooi.  Isébel het haar onder op die marmertrappe te pletter geval.  Haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat.  Hulle het die laaste lewe uit haar getrap.

Jehu en sy manne het die paleis binnegegaan en gaan feesvier.  Toe hulle weer uitkom, het Jehu opdrag gegee dat sy begrawe moes word, want sy was per slot van rekening tog darem 'n koningsdogter.  Maar toe het die honde van Jisreël haar alreeds verskeur en feitlik opgevreet; net die kopbeen, die voete en die hande was nog oor.  So het Elia se voorspelling oor die dood van Isébel letterlik plaasgevind.  Die Here was besig om deur Jehu die strafgerig wat Hy oor die huis van Agab uitgespreek het, te voltrek.

Die dood van 70 prinse

In Samaria was daar 70 prinse uit Agab se geslag.  Om hulle uit die weg te ruim, het Jehu 'n heeltemal ander taktiek gevolg as gewone moord en doodslag.  Hy het aan die hoogwaardigheidsbekleërs, regeerders en amptenare en aan die opvoeders van Agab se nakomelinge in Samaria geskrywe:  "Julle het daar by julle die prinse, die strydwaens en die perde en 'n versterkte stad en baie wapentuig.  Soek nou vir julle die beste en knapste prins uit en sit hom op die troon van sy pa en dan sal julle moet veg vir die behoud van julle koningshuis."

Hulle het nie kans gesien om dit te doen nie, want hulle was bang vir Jehu, wat alreeds twee konings na hul einde gestuur het en laat toe vir Jehu weet:  "Ons wil u onderdane wees.  Ons wil niemand koning maak nie.  Alles wat u ons opdra, sal ons uitvoer.  Doen wat u goedvind."

Toe skrywe Jehu aan hulle 'n tweede brief:  "As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring dan vir my die koppe van al die prinse môre na Jisreël toe."

Die 70 prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad, wat hulle moes grootmaak.  Toe die leiers Jehu se brief ontvang, het hulle die prinse bymekaar gemaak en al 70 doodgemaak en hul koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur.  Hy het hulle in twee hope by die ingang van die poort laat uitstal en vir almal wat daar gekom het, gesê:  "Julle is onskuldig.  Dit is ek wat die koning doodgemaak het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak?  Die Here is besig om alles te doen wat Hy deur sy profeet Elia gesê het."

Ek is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders

Die nuwe koning was toe nog nie klaar met sy "opruimingswerk" in Jisreël nie.  Hy het met die afdeling soldate wat hom vergesel het almal uitgesnuffel wat aan die koningshuis van Agab verbonde was en hulle doodgemaak.  Hy het nie een van die vooraanstaandes, vertrouelinge en selfs priesters laat wegkom nie.

Nadat Jisreël  "skoongemaak" is, het hy met sy manne suidwaarts in die pad geval na Samaria.  Toe hy naby Dotan by Bet-Eked Roïm kom, loop hy daar die broers van koning Ahasia van Juda raak.

"Wie is julle?' vra hy.

"Ons is Ahasia se broers.  Ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma."

Jehu beveel sy manskappe om hulle te vang en dood te maak.  Al 42 van hulle is daar by die put van Bet-Eked om die lewe gebring.

'n Endjie verder kom hulle vir Jonadab, die seun van Rekab, op die pad teë.  Die Rekabiete was in daardie tyd fanatieke aanbidders van die Here en heftige teenstanders van die vrugbaarheidsgodsdienste.  Hulle het so half en half 'n nomadiese bestaan gevoer.

Toe Jehu vir Jonadab sien, vra hy vir hom:  "Kan ek op jou reken, soos jy op my?"  Die antwoord was ja, en daarom het Jehu hom op sy wa laat klim en saamgeneem na Samaria toe, om hom met sy uitroeiingswerk te help.

In Samaria aangekom, het hulle almal wat daar van Agab se geslag nog oor was, doodgemaak.

Die slagting van die Baäl-aanbidders

Jehu het met fanatieke ywer, meedoënloos voortgegaan om baie meer mense as net die manlike geslag van Agab uit te roei.  In Samaria aangekom, het hy die volk beveel om daarheen te kom.  Toe daar etlike duisende bymekaar was, het hy hulle toegespreek:

"Israeliete, julle oorlede koning Agab het vir Baäl maar effentjies gedien.  Ek wat Jehu is, gaan hom met groot ywer en toewyding dien.  Roep en bring nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters.  Daar mag niemand wegbly nie.  Ek wil 'n groot offer aan Baäl bring.  Die een wat wegbly, sal nie bly leef nie."

Toe hulle almal bymekaar was, kondig hy 'n feesdag vir Baäl af.  Hy het met sy boodskappers die Baäl-aanbidders oral in Israel laat opspoor en na Samaria na die Baäl-tempel laat kom.  Op die betrokke feesdag was die gebou naderhand van hoek tot kant gevul.  Hy het vir hulle gesê om seker te maak dat daar nie Jehowa-aanbidders onder hulle is nie.  Om die Baäl-aanhangers uit te ken, het hy hulle van spesiale klere uit die klerekamer voorsien.

Buite die tempel is daar 80 gewapende man opgestel.  Jehu en Jonadab het binnegegaan en die nodige brandoffers en diereoffers vir Baäl behartig en daarna uitgestap en vir die adjudante en hardlopers gesê:  "Gaan in en maak hulle dood.  Daar mag niemand ontsnap nie."

Die groot moord op die Baäl-aanbidders het toe plaasgevind.  Hulle is almal om die lewe gebring en die Baäl-tempel is heeltemal verwoes.

Jehu se koningskap

Die opdrag  wat Jehu na aanvaarding van sy koningskap oor Israel moes uitvoer, naamlik om al die manlikes van Agab se nakomelinge uit te roei, het hy met groot ywer en meedoënloosheid voltooi.  Daarom het die Here hom beloof dat sy nakomelinge tot in die vierde geslag die koningskap van Israel sou besit.  Maar soos ek aangetoon het, het Jehu ook die Baäl-diens uit Israel verdelg.  So het hy die buitelandse Baäl-kultus uitgeroei, maar die binnelandse kalwerdiens laat voortgaan.

Sy ontsettende bloedbad het die lewens van baie mense geëis en die land van Israel 'n groot knou toegedien, maar hy het baie onskuldige mense ook laat doodmaak.  Die straf van die Here daaroor, en oor sy latere afgodediens, het nie uitgebly nie.  Hy het die Siriese of Aramese koning Hasael, wat vir Benhadad III opgevolg het, gebruik om Israel sporadies aan te val en stukke van sy grondgebied aan die oostekant van die Jordaan te verower.  So het die hele Gilead sowel as Basan, van Aroër af aan die Arnonrivier in die hande van Sirië geval, waardeur Israel se grondgebied verklein is.

Gedurende die 28 jaar wat dit die Here behaag het om Jehu as koning van Israel te verdra, kon hy nie daarin slaag om Israel se vroeëre glorie weer te herstel nie, weens die voortdurende teistering van hul tradisionele Aramese vyand.

 

_______________