LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (10)

HOE WEET EK DIS DIE REGTE LEIDING?

(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)

J.A. Loubser

Omdat ons as mense sekere beperkinge het, soek en volg ons dikwels leiding oor 'n verskeidenheid aangeleenthede . Jongmense wil graag leiding hê in verband met hulle toekomstige beroep, die keuse van huweliksmaats en ander sake. Sakemanne soek leiding in die neem van sakebesluite, die inrigting van hulle bedryf ensovoorts. Politici soek leiding oor landsake. Daar is niemand wat nie soms hande in die hare sit en wens dat hulle oor meer wysheid beskik het nie.

As 'n mens nadink oor dié soort leiers wat suksesvol is, besef jy dis nou maar eenmaal so dat mense maklike leiding wil hê. Die meeste mense is traag om diep te dink en geduldig op 'n antwoord te wag. Hulle verkies kortpaaie. Daar is 'n popliedjie wat hierdie houding raak uitdruk: "Talking is cheap/ People follow like sheep/ Although there is nowhere to go..."

Verder wil mense konkrete leiding hê. Hulle soek sigbare leiers soos in die tyd van Samuel toe die Israeliete nie tevrede was met God as hulle enigste koning nie. Daarby is hulle geneig om leiers te volg wat hulle vlei. Hulle luister graag na leiers wat hulle na die mond praat. 'n Leier wat van mense noodsaaklike opofferings vra is selde gewild. Mense is maar te geneig om verkeerde leiding makliker te volg as goeie leiding. Hulle sien soms leiding in dít wat geen leiding is nie.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ons die belofte van leiding deur die Heilige Gees reg moet verstaan. Watter ontsaglike belofte is dit nie dat die Gees die gelowige in alle waarheid sal lei nie! Maar dan moet ons hierdie belofte van nader bekyk om seker te maak dat die tipe leiding wat ons van die Here verwag nie maar net dít is wat van menslike leiers verwag word nie.

Die leiding van die Gees is in die eerste plek 'n belofte aan die kerk – soos ons in vorige hoofstukke reeds gesê het. Die "julle" met wie Jesus in Johannes 14-16 gepraat het oor die gawe van die Gees, was die dissipels as verteenwoordigers van die kerk van Christus. Ons moet onthou hierdie kerk is groot en wyd versprei. Dit bestaan uit almal wat daadwerklik van hulle sonde bewus is en nogtans hulle volkome op die genade van God in Jesus Christus verlaat. Alleen in solidariteit met die universele liggaam van Christus, kan ons staatmaak op die leiding van ons universele Hoof.

'n Verdere gesigspunt is dat die Heilige Gees die kerk lei deur hom aan Christus te verbind sodat Hy verheerlik word. 1 Johannes 16:14 sê: " ... wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig." Dit is so, want die leiding wat die kerk ontvang deur die Heilige Gees, is 'n herinnering aan alles wat Jesus gesê en gedoen het, en pas 'n fyn instelling toe op dít wat Hy op hierdie oomblik besig is om te doen.

Verder is dit deur middel van die Woord wat ons gelei word. Die Bybel is die neerslag van dit wat God deur Jesus Christus gespreek het. In 2 Tim 3:16 word gesê die hele Skrif is "theopneustos" (deur God geadem) en is nuttig tot lering, weerlegging en onderwysing (en dis nog maar die Ou Testament waarvan hier gepraat word).

Uit wat tot sover gesê is, blyk die volgende: Iemand wat leiding soek oor 'n bepaalde saak moet homself afvra:
a.  wat die kerk se advies oor die saak is;
b.  hoe Jesus se saak deur sy versoek geraak word; en
c.  of die Bybel enige lig op sy probleem werp.

Antwoorde op hierdie vrae word nie verkry deur kliniese ondersoek nie maar in 'n gees van gebed en meditasie.

Voordat 'n Christen ernstig oor die saak begin bid (en vas) moet hy eers vra watter oplossing die meeste sal bydra tot die eer van God se Naam. As hy verskillende moontlikhede oorweeg moet hy homself ook afvra of dit tot heil van sy naaste is, en of dit die gemeente van Christus opbou of afbreek.

Dis leersaam om daarop te let hoe die apostels na die Hemelvaart van Jesus leiding ontvang het. Hulle het in die vaste wete geleef dat die opgestane Jesus self die leiding neem. Lukas vertel ons deurgaans in Handelinge hoe die Gees letterlik die sendingpoging van die kerk van stapel gestuur het en van baken tot baken vooruitgegaan het. Dit was die Gees wat deure oop en toe gemaak het vir die apostels.

In Handelinge 13:1,2 verneem ons dat profete en leraars gebid en gevas het om leiding te soek in verband met die uitbreiding van die koninkryk van God. Die antwoord van die Gees was dat hulle vir Paulus en Barnabas moes afsonder vir sendingwerk.

In Handelinge 16:6 lees ons dat Paulus en Timoteus deur Galasië en Frigië gereis het omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die Woord te verkondig. In Handelinge 16:9 lees ons hoe Paulus in 'n naggesig 'n Masedoniër gesien het wat vir hom sê: "Kom oor na Masedonië toe en help ons." Verder in Handelinge verneem ons dat die Heilige Gees Paulus gebind het en hom na Jerusalem gestuur het; in elke stad met die Gees kragtig getuig dat boeie en verdrukkinge op Paulus wag (Hand 16:20, 22,23.)

Uit hierdie voorbeelde is dit duidelik dat die leiding van die Heilige Gees heeltemal uniek is, en heel anders is as die tipe leiding wat mense gewoond is om te volg:

Die leiding van die Here is beslis nie 'n "maklike leiding" nie. Dit sluit nie ons selfwerksaamheid uit nie. Van 'n Christen word verwag om sy huiswerk deeglik te doen. Hy moet homself op hoogte bring van alles wat hom kan help. Hy kan vir hom byvoorbeeld 'n lys maak van al die verskillende moontlikhede wat hy kan volg. Verder word van hom verwag om die saak deeglik met al die betrokke instansies uit te klaar.

Goddelike leiding is ook nie "vleiend" nie. Dit gebeur soms dat 'n mens presies die teenoorgestelde leiding kry as waarop jy dalk onbewustelik gehoop het. In hierdie verband kan ons die voorbeeld van 'n sendeling noem wat maar net 'n paar keer beroepe aanvaar het. Elke keer wat hy 'n beroep aangeneem het was die nuwe werk meer en die salaris minder. Dit was vir hom die teken dat hy moes gaan.

Een van die voorvereistes vir die ontvangs van ware leiding, is dat 'n gelowige tot op dié punt sal kom waarop hy homself volkome bereid verklaar om die leiding van die Here te aanvaar – wat dit ook al mag wees. Hy sal soms ook die Here moet vra om hom te verhinder indien dit wat hy uiteindelik besluit teen God se wil is. As hy dan'n antwoord kry, moet hy dit volg.

'n Mens sal selde 'n antwoord ontvang wat nie ook iets van die kruis in het en egte opoffering vra nie. In hierdie geval is die gebed: "Lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die bose" van besondere belang. Die gelowige kan egter groot bemoediging put uit die woorde van Paulus in Filipense 4:6-7: "...maak in alles julle begeertes... met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."