Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, dankie vir 'n gesonde sin vir humor, vir die bevryding van 'n skaterlag en die veerstelsel van blymoedigheid. Dankie dat U die mens gemaak het om te kán lag en dat daardie innerlike vrolikheid 'n lig is in donker tye.
BROKKIES UIT DIE BOEK: PANIEKLAND (2)
083 444 7672)
Dis nog donker as hy die eerste skote hoor; veraf - amper onhoorbaar as dit nie was vir die nagwindjie wat dit aangedra het nie. Demas sit regop en spits sy ore, maar dis stil. Miskien het hy hom verbeel…maar nee, daar is dit weer: ‘n dowwe, amper onhoorbare plofgeluid in die vroegoggend se stilte. Gevolg deur ‘n harder klap, en nou is hy seker. Iewers word daar op iemand geskiet deur iemand anders.
Hy maak sy karige besittinkies bymekaar, gryp sy geweer, sit die rewolwer onder sy lyfband en dan loop hy so vinnig hy kan in die donker na die bokant van die hoogtetjie. Gaandeweg is dit duideliker en as hy reg is, na sy linkerkant, maar ver, baie ver.
“Dit het niks met jou uit te waai nie, Demas Barth!” roep hy homself tot orde. Maar daar is niks fout mee nie om net effens nader te beweeg nie, al is dit net om te kan sien wat aangaan, is dit nie?
Die berg is nie ‘n gladde, donkergroen gelyke oppervlak soos wat dit van onder en van ver af lyk nie. Daar is baie gebroke grond, met vlak slote, bosse, natuurlik die baie bome en rotse wat wissel in grootte. Demas is bang hy verswik sy enkel in die donker en loop daarom so versigtig as wat hy kan.
Twee maal moet hy na sy linkerkant en een maal sy regterkant toe beweeg om weg te kom van ondeurdringbare bosse en struike. Na elf minute se stap is daar nou geen twyfel meer nie – dis die plat klapgeluide van ‘n handwapen of ligter kaliber geweer, met die sporadiese geknal van ‘n swaarder kaliber. Hy weet nie genoeg om regtig te kan besluit nie.
Skielik gaan staan hy stil. Reg voor hom is ‘n afgrond; nie baie diep nie, maar hoog genoeg dat hy kan seerkry as hy daar af sou val.
Die ooste het nou begin grys word en daar is ‘n effense lig wat op die een kant van die rotse skyn, met baie lang skaduwees wat in die donker verdwyn. As hy mooi kyk, is daar miskien ‘n moontlike roete skuins na sy regterkant ondertoe, maar hy is nie seker nie. Hy kan wel sien dat die skeur baie wyd is, seker etlike honderde meters en hy moet kies of hy òm dit wil loop, wat lank sou duur, of probeer om onder toe te klim.
‘n Skril geluid dra op die sagte windjie en hy is nou seker dis ‘n vrou wat gil. Hy kners op sy tande om nie oorhaastig net af van die berg te kom nie, maar te wag vir die lig om effens beter te word. Minute gaan verby en uiteindelik is daar genoeg dag gebreek dat hy kan sien waar om te trap, te vat en te versit. Hy is bang hy stamp die geweer se teleskoop. Enige teleskoop, maak nie saak hoe goed en duur dit is nie, kan van zero versit as dit ‘n stamp kry wat hard genoeg is. Hy wens hy het nie nodig om die lang mes in sy hand te dra nie, en oorweeg dit om die ding te bêre en later te kom haal.
Na agt minute is hy onder die lae krans en in die effense gelykte in die klofie. Demas loop so vinnig as wat hy met veiligheid kan doen. Hy ignoreer nou die seer van sy hakskene heeltemal en besef vir die eerste keer in sy lewe is hy is op pad in die rigting van moeilikheid en nie besig om daarvan weg te hardloop nie. Dit is ‘n baie vreemde ervaring en indien hy sou gaan stilsit en die saak heeltemal oordink, sou hy nie ‘n treë verder geloop het nie.
Die skote raak nou meer dringend en hy kan meer as een stem hoor skreeu en gil. Hy kan sweer hy hoor ‘n harde, uitgelate gelag tussendeur. Na ‘n lang halfuur is hy deur die kloof, wat nou ‘n skielike swaai na sy regterkant toe gemaak het.
Ver onder hom, miskien vyf honderd meter horisontaal van hom af en ‘n honderd meter laer, skyn die flou sonnetjie op ‘n dak. ‘n Skraal, regop boompie staan skuins van hom af en daar groei ‘n tak net onder skouerhoogte uit. Hy rus die Winchester se voorarm op die tak en soek vir ‘n oomblik die huis deur die teleskoop. Die kolf is te lank vir hom en hy moet sy nek ver vorentoe buig om ‘n amper-geheel beeld te kry.
Hy stel effens aan die fokus en dan sien hy die mense wat onder in die plaaswerf beweeg. Die knalle het opgehou en hy kan sien hoe mense nader aan die huis beweeg, ingaan en na ‘n minuut iemand uitsleep. Hy sien ook hoe ‘n blink lem op en af beweeg en dan lê ‘n man – hy glo die plaasboer – stil op die grasperk.
Nog iemand word skreeuend en kronkelend uitgedra. Aan die veraf skril gille glo hy dis ‘n vrou. Die twee manne wat haar onder haar arms het, sukkel om hul houvas te behou. Die een wat haar voete het, laat gaan en ‘n ander een neem oor by hom. Dis nie ‘n klein vroutjie nie en aan die manier waarop sy kriewel, hy kan sien sy is sterk en fiks.
Hy kan nie langer wag nie, druk die veiligheidsknip af en lê so goed moontlik aan. Hy het nie ‘n individuele teiken nie, maar skiet na die linkerkant van die bondel, uit vrees dat hy dalk die vrou mag raakskiet.
Die .270 se knal is oorverdowend tussen die rowwe mure van die klofie en vir ‘n sekonde of twee verloor hy heeltemal die teikenprent. Sodra hy die loop weer gesak het en sy oog op die regte plek kry, sien hy die spul het uitmekaargespat, soos wat sou gebeur as jy ‘n klip na ‘n klomp miere gooi. Hy weet nie of hy raakgeskiet het nie; dis nog te ver vir hom om dit te bepaal en die lig is nog nie goed genoeg nie.
‘n Beweging trek sy aandag en hy sien die vrou stadig na haar man kruip en oor sy borskas gaan lê, asof sy hom wil beskerm. Hy haal weer oor, soek weer waar ‘n paar bymekaar staan en trek die skoot af. Hierdie keer is hy seker dis raak en hy hoor selfs die klap, soos sy pa hom toendertyd in die jagveld geleer het.
Hy skiet die magasyn leeg, herlaai en beweeg verder af teen die skuinste, wat nou nie meer so loodreg is nie, maar steeds baie gebroke. Twee maal verloor hy amper sy balans as die sagte, sanderige grond onder hom padgee en hy op sy hakke ‘n ent moet gly om regop te bly. Sy seer hakskene kondig weereens hulle pyn en lyding aan.
Iemand skiet in sy rigting, maar dis baie ver van hom af waar die koeël klap en hy is redelik seker niemand het hom nog gesien nie, maar skiet eerder net in die rigting van waar hulle sy geweer se knalle hoor. Nog twee skote klap, maar dis ook nie naby hom nie.
Skielik is hy onder die hang van die berg en die plaashuis is nie meer as twee honderd meter van hom af nie. Daar is nou nie meer kans vir omdraai nie. Hy staan stil, wag vir sy asem om op te hou jaag en soek dan iets om oor dooie-rus te vat.
‘n Droë, vrotterige stomp na sy regterkant is ‘n bietjie te hoog en hy kan nie heeltemal daaragter kniel nie. Tog is dit laag genoeg dat hy die geweer daaroor kan rus as hy gebukkend staan en onmiddellik soek hy ‘n teiken. Hy maak sy linkeroog oop en gewaar ‘n skielike beweging aan sy linkerkant. Een van die aanvallers is besig om hom te bekruip en dis bloot toevallig, as jy aan toeval glo, dat hy hom raaksien. Die man dra een of ander tipe aanvalsgeweer, Demas is nie seker wat nie, en maak nie tyd om dit te probeer eien nie.
Meer uit instink as vaardigheid swaai hy die loop, rus vir ‘n oomblik die kruishare op die ou en trek die sneller. Hierdie keer is die gil uit ‘n man se keel en nie ‘n vrou s’n nie. Die AK 47 val saam met hom en ‘n vol-outomatiese sarsie skote trek deur die oop lug.
Die kat-en-muis speletjie hou vir minstens ‘n uur en ‘n half aan, waarin daar oor en weer geskiet word. Hy is versigtig om sommer net te skiet na enigiets, nie net omdat hy bang is hy skiet die verkeerde mens nie, maar sy ammunisie is ook beperk.
Demas ruik rook en skielik borrel vlamme by die huis se vensters uit. Nie lank nie en ook die dak is in brand en rook gehul. Waar hy sit, kan hy die hitte van die vuur voel.
Na ‘n halfuur van impasse begin die manne een-een te onttrek. Dis een ding om mense in hulle woning vas te keer en dertig teen een te wees. In so ‘n geval is dapperheid lekker en die oorlog goed, maar as iemand uit ‘n ander rigting begin skiet, al is dit nie altyd dodelik akkuraat nie, is dit nie meer lekker nie. Stadigaan begin die wete posvat dat jy dalk net die volgende ou kan wees wat lê en bloei en dis nie deel van die agenda nie.
Bevelvoerders en leiers van so ‘n losserige militia vind ook gou uit dis makliker om bevel en beheer uit te oefen as daar voldoende dissipline onder jou manne is, maar nie so maklik as jy met ‘n ongebonde bende werk nie. Lojaliteit in so ‘n geval is afhanklik van sukses en om die emmer van bloedlus gereeld te vul met die bloed van die vyand en nie van jou eie nie.
Een vir een begin die manne dros, totdat daar maar ‘n handjievol getroues agterbly. Wanneer nog een van hulle in die stof byt, is dit ook vir hulle te veel en hulle onttrek strategies en beslissend.
Demas sien vir twintig minute geen beweging nie. Sy oë is jonk en skerp en hy hou elke plek dop waar daar ‘n beweging kan wees. Stadig begin hy voel hoe, na die opwinding vanaf voor dagbreek, die ongemak hom tref, daarna die besef dat hy weereens ‘n lewende wese of vyf laat sterf het. Hy is nie hiervoor in die wieg gelê nie!
Hy sukkel om die nou-bekende gevoel van paniek te onderdruk en eers na ‘n paar minute het hy die hele emosie onder beheer.
Hy beweeg na sy regterkant, al tussen die bome en struike, stukke plaasgereedskap en agter ‘n ou Thames Trader-lorrie deur, totdat hy regoor die huis is. Op hierdie manier kan hy die plekke wat skuiling bied, mooi van alle kante sien. Sover hy weet, is die gevaar nou verby en al wat oorbly is om te kyk of hy die twee stil figure van die plaasmense kan help.
Met die geweer oor sy skouer, die mes in sy linkerhand en die rewolwer in sy regter, loop hy versigtig nader aan die twee plaasmense op die grasperk. Noodgedwonge moet hy verby twee ander loop wat hy geskiet het en al is die wonde afgryslik, soos net ‘n mediumkaliber kan doen met ‘n 130 grein koeël wat die loop verlaat teen net meer as 3000 voet per sekonde, pla hom dit nie hierdie keer so baie nie.
Die man; hy sien nou ‘n bejaarde van seker so in sy middel sewentigs, lê op sy rug, sy dooie bruin oë starend na die wolklose, blou hemel van die nuwe oggend. Die vrou wat skuins oor sy bors lê is heelwat jonger, miskien vyftig of vyf en vyftig of so. Haar sterk plaashemp en ‘n gedeelte van haar langbroek is deurtrek met die bloed, wat hier en daar jellierig begin stol.
Demas rol haar versigtig van die man af en sien tot sy verbasing en dalk verrassing dat sy nog lewe. Hy soek na iets om die bloed te stol wat seker uit tien of twaalf diep meswonde vloei.
“Los maar, meneer. Die bloed is klaar uit en ek gee nie om om hier langs my man dood te gaan nie.”
“Maar miskien…”
Sy gryp met ‘n bebloede hand sy arm vas.
“Nee, ek is amper dood. Ek voel dit aankom, moenie my van hom wegvat nie. Dis nie so sleg as ‘n mens dit eers aanvaar het nie.”
“Wat kan ek doen?”
Daar hang ‘n doodse stilte vir ‘n lang minuut of twee. Demas bring sy oor naby haar mond om te hoor of sy opgehou het asemhaal.
“Nee, Seun, ek is nog nie dood nie. Jy vra wat kan jy vir my doen? Jy kan twee dinge doen. Sodra ek gesterf het, kan jy my in Frederick se arm sit. Dis waar ek wil lê. Moenie tyd mors om ons te begrawe nie. Jy weet hy was ‘n baie goeie man vir my. Baie mense het nie van hom gehou nie, want hy was baie reguit en met baie min takt, maar hy het my ingeneem toe ek niks gehad het nie. Hy was baie ouer as ek, meer as vyf en twintig jaar, maar dit het nie saakgemaak nie. Hy was lief vir my en ek vir hom.”
Sy bly weer stil en Demas kan sien sy veg met die pyn.
“Die tweede ding wat jy vir my kan doen is om daardie barbare agterna te sit en uit te roei. Hulle leier is ‘n groot Mosambieker met ‘n kaal kop en sulke uitpeul oë soos ‘n mak seekoeibul, het Frederick altyd gesê. Hy het hier gewerk, maar was baie oorlams. Frederick het hom gevang steel, hoeveel keer, hom weggejaag en gedreig om hom met die sambok by te kom, as hy hom weer sien. Hulle het ons net na vieruur vanogend aangeval en as ons patrone nie opgeraak het nie, sou ons hulle kon wegkry. Sal jy dit vir my doen?”
“Ek sal, Tannie, ek belowe.”
“Tannie?” sê sy en wil lag, maar bloed loop oor haar mondhoeke.
“Ja, ek is oud genoeg dat jy my dit kan noem. Moenie tyd mors om ons te begrawe nie. Of die honde en jakkalse ons eet of die wurms, dit maak nie saak nie. Gee jy om om by my te sit tot ek dood is?”
“Ja…natuurlik.”
“Dankie. Ek sal nie lank vat nie.”