Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Volk met ‘n gelowige leier is baie geseënd. Sy gees is te edel om die volksvyand te bevoordeel en sy liefde vir sy volk te groot om hulle leed aan te doen. So ‘n leier sterf in werklikheid nooit nie, maar bly vir altyd in die gees van sy volk voortleef.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (4)
083 444 7672
“Ons kan nie vir altyd swerf nie. Een of ander tyd sal ons uit kos en brandstof raak, of onsself in ‘n massa vasloop wat groter is as wat ons kan hanteer.”
“Dit is so. Die probleem is waar sal ons so ‘n plek kry? By jou pa-hulle is dit relatief veilig, maar ek is nie so seker iemand gaan nie een of ander tyd daardie bamboese aan die brand gesteek kry nie. Wat dan?”
“Jong, my pa is ‘n uitgeslape ou kalant. Hy gaan hom nie so maklik laat vang nie. Jy is reg, die bamboesbos, al is dit groen en vol sap, is nie ondeurdringbaar nie en kan sekerlik uiteindelik aan die brand gesteek word, maar dit gaan nie so eenvoudig wees nie.”
“Jy het my nog nie vertel waarom jy so angstig was om saam met my te kom nie. En nou is ons baie ver van die Noorde af, waarheen ons op pad behoort te wees.”
“Moenie so nuuskierig wees nie, Paul. Is ek vir jou ‘n oorlas?”
“Glad nie. Ek vra maar net.”
“Tyd sal leer. Aanvaar dit net, asseblief.”
Paul kyk vir die soveelste keer na Hannie. Al het sy geen grimmering aan nie en haar hare kort meer as net ‘n was met die lyfseep wat sy daarvoor gebruik, is sy baie mooi. Haar donker hare en treffende blou oë, simmetriese gelaatstrekke, binne die volmaak-gevormde beenstuktuur van haar ken, wange en voorkop, die fyn, effens groot, maar reguit en smal neus, lippe wat vol en sag is (al het hy dit een maal gevoel teen syne). Onder ander omstandighede sou sy dalk ‘n briljante loopbaan kon volg in wat sy ookal wou. Sy voel sy oë op haar en kyk ongemaklik weg.
“Hou op om na my te staar.”
“Ek is jammer. Dis net dat ek nog nooit so ‘n mooi meisie geken het nie.”
“Jy voel so omdat daar niemand is wat so oud soos ek is in hierdie groep nie. Wag maar dat ons weer in die beskawing kom, dan sal jy anders voel.”
Paul weet sy is verkeerd en hy weet sy weet dit ook, maar sy steek haar verleentheid so weg.
“Jy praat van beskawing. Dink jy daar gaan ooit weer ‘n beskawing in hierdie land wees? Alles is verwoes of afgebrand of beide. Niemand voel meer iets vir ander nie. Niks nie, behalwe haat en vyandskap. Ek kan my nie indink hoe ons hier gekom het nie, laat staan nog hoe ons hier gaan uitkom. Ek weet die natuur bepaal dat mense wat tussen ander bly later reëls maak waarvolgens hulle kan leef en diegene wat hulle nie daaraan steur nie mettertyd verban word, maar die afgelope jare het die teenoorgestelde gebeur. Diegene wat orde en wette verontagsaam het was aan bewind. Of is dit andersom, dat die wete dat hulle aan bewind is en daarom half onaantasbaar gemaak het dat hulle hulleself bokant die wet geag het? Wat sal moet gebeur dat ons weer in ‘n ordelike saambly kan kom? Op die oomblik geld die wet van die natuur, dat die sterkeres floreer en die swakkeres krepeer. Ek onthoudat Al Capone gesê het: ‘you can get much further with a kind word and a gun, than just a kind word’.”
*
Waar Diek en sy manne sit, is hulle van ver af sigbaar. Hulle het die voetuie op ‘n effense hoogtetjie getrek so ‘n agt kilometer buite Pretoria. Die voordeel van die plekkie is dat hulle ook ver rondom hulle kan sien. Die vroeg-wintergras is droog en word yl, hier is dit die voorstoep van die Bosveld en bied nie juis dekking vir iemand om hulle te bekruip nie.
Die wagte word elke twee ure geruil, sodat niemand oorgerus of moeg word nie. Beide hierdie situasies kan gevaarlik word. Iemand wat te gemaklik is, kan konsentrasie verloor en ‘n man wat moeg raak, kan dit nog makliker doen. Elkeen wat wagstaan weet dat die ander se lewens in sy hande is en daarom neem hulle dit ernstig op. Hulle weet ook dat Diek, wat oor die algemeen baie gemoedelik kan wees, net so moeilik kan raak as dissipline laks raak of as reëls oortree word. Net so beskou hulle dit as ‘n voorreg om saam met hom en die ander te wees en sal niks doen om weggejaag te word nie.
Diek het ook beveel dat elke mens wat binne drie honderd meter van hulle af kom, geskiet sal word.
“Niemand sal oor die kaal veld kom om vriende te wees nie. Elkeen wat nader as dit kom, is hier om moeilikheid te maak.”
Dié wat nie wagstaan nie, is besig met take rondom die kamp. Diek en nog vier ander is klaar met hulle s’n en sit om die vuur, elkeen met ‘n beker koffie.