GEBED VIR DIE NAWEEK

Here, ek bid vir vrede in my ontwrigte land. Die vrede wat die heidene voorstaan, is doodsake vir my volk! Hulle saai verwoesting en noem dit vrede. Om vrede met geweld af te dwing, slaag net so min as om heuning uit ʼn slang te probeer verkry. ʼn Vrede ten koste van vryheid is nie ʼn winskopie nie. So ook nie ʼn slegte vrede nie. Dis erger as oorlog!

Here, gryp in ons land in want sonder U kan geen vrede stand hou nie. U Woord leer dat vrede net kan heers waar die mag van die liefde die liefde vir mag vervang het.Waar dit gebeur, is daar liefde en waar liefde is, is vrede.

Ek bid vir volksgenote dat hulle eerstens vrede in hul eie huise sal hê alvorens hulle elders daarna soek. Wie vrede in sy huis het, is gelukkig ongeag of hy ʼn koning of ʼn kneg is. Wie dit nie het nie, soek tevergeefs elders daarna. Vrede in ʼn huis bring orde in ʼn gesin en ʼn ordelike gesin bring rus in ʼn volk.

Laat ons egter nooit vrede ten alle koste begeer nie, maar slegs daardie vrede wat op Bybelse beginsels en geregtigheid geskoei is. Begeester ons so dat ons eerder engele van vrede en nie regters oor vrede sal wees nie!

Amen