GEBED VIR DIE WEEK

Here, wees my genadig en bewaar my van versoeking wat so maklik by deure inkom wat opsetlik oopgelaat is. Soos wat geen sandkorrel te klein is om ʼn horlosie te beskadig nie, so ook nie ʼn sonde om my siel te skaad nie.

Sonde neem ʼn mens na plekke waar jy nie wil wees nie en hou jou langer as wat jy wil bly. Dit kos jou ook meer as wat jy bereid was om te betaal. Help my Here, dat sonde nie verder as ’n bekruiper in my lewe gaan nie. Gee dat ek gereeld hand in eie boesem steek en my oortredinge bely.   Laat niks my groter genoegdoening gee as om versoekings te weerstaan en op die satan se mees gehate lys te beland.

Laat my my siel met die nuwe lewe in Christus opbruis en dat ek hierdie week liefde sal betoon asof niemand my ooit te na gekom het nie, u lof besing asof niemand my hoor nie en leef asof die hemel alreeds hier op aarde verwerklik het. Aan U al die eer!

Amen