GEBED VIR DIE WEEK

Here, vervul my asseblief hierdie week met lewensvreugde, nie omdat die lewe as sulks goed is nie, maar omdat U in my lewe goed is. Maak my sterk in teenspoed sodat die wanhoopsdampe van ontnugtering nie die helder lig van die hemel in my lewe sal verdring en ek ongeloof uitspit waar U geloof geplant het nie.

Dankie dat U die storms in gelowiges se lewens stilmaak, maar soms ook laat aangaan om ons stil te maak.

Leer my Here, dat as ek in beproewing beland, U my nie wil ombring nie maar eerder nader aan U wil bring. Laat my nooit wanhopig word nie en onthou dat ek ʼn God aanbid wat Hom in moontlikhede verlustig.

Ek dank U ook vir moeilike tye in my lewe waarsonder ek nooit my geesteskrag sou leer ken het nie. Maak my opreg dankbaar vir alles wat ek van U ontvang en laat dankbaarheid die koning van al my deugde wees. Maak my rustig in onrustige tye en weet dat my lewe in die hande van Een is wat die ganse heelal gemaak het.   Daarom wil ek eerder saam met U in my teenspoed as sonder U in my voorspoed wees!  

Amen