GEBED VIR DIE WEEK

Hemelse Vader, ons buig hier aan die begin van ʼn nuwe week laag aan u voete, deeglik bewus van ons afhanklikheid van U. Ons weet nie wat die nuwe week vir ons gaan inhou of dit lig of donkerte, vreugde of hartseer gaan wees nie. Help ons as dit donker om ons sou word, om in die geloof aan te hou loop totdat dit lig word en nie ons negatiewe ervarings met ons lot te verwar nie.

Ons dank U selfs vir die minder aangename dinge in ons lewe wat die sout is wat ons benodig om ons lewe teen smaakloosheid te beskerm. Gee dat ons vreugde in ons dagtaak vind en ons optrede nooit ons woorde sal weerspreek nie. Laat ons positiewe optredes mismoediges aanspoor om nie moed op te gee nie en na die dag van more uit te sien. Ons het weens die verlossing in Christus alle rede om van kop tot tone een groot Halleluja te wees!

Maak ons hierdie week liefdevol teenoor liefdelose mense en vergewensgesind teenoor hulle wat onvergewensgesind is.   Gee dat ons altyd soos kinders van die lig sal wandel, ongeag watter lig of skaduwee op ons lewenspad mag val.

Amen