ENGELE MET ‘N SENDING (SLOT)

Lees reeks by Engele met 'n sending

Engele in Suider-Afrika:

(Vir ons hier in Suid-Afrika wag daar ook 'n krisistyd wat so donker sal wees dat ons nie ons "hand voor ons oë" sal kan sien nie, soos Siener gestel het.  Nie een van ons sal dit in eie krag oorleef nie - selfs die blote aansig daarvan sal ons harte laat beswyk. Daarom hoop ons dat die lees van hierdie reeks oor die krag en beskerming van engele wat God vir ons tot beskikking stel, vir elke leser tot die geloofsoortuiging laat kom het dat oorgawe aan God met gebed en geloofsvertroue, ons enigste uitweg is. Ons moet van harte voor Hom buig en smeek om vergiffenis, redding en beskerming, net soos by Bloedrivier gebeur het. Dan alleen sal Hy sy engele by die duisende stuur om ons te beskerm terwyl hulle Suid-Afrika reining van al die afgode en onheile, en God ons weer in ons land herstel  - Red.)

God is alomteenwoordig en bly altyd dieselfde. Hy openbaar Homself in Suider-Afrika net soos Hy Homself elders in die wêreld open­baar. Van oral oor hoor ons wonderlike verhale van hoe Hy die mens beskerm wat Hom uit ’n opregte hart aanroep.

Zimbabwe-Rhodesië het hom in die afgelope paar jaar in ’n terroriste-krisis bevind en dit het hulle leer bid. Operasie Ester is onder andere ’n organisasie wat onder dames ontstaan het onder leiding van twee dames in Salisbury wat dit hulle ten doel stel om veral vir boere op die grense te bid. Hulle het ’n spesiale telefoonnommer wat geskakel kan word en onmiddellik word ’n gebedsketting gekontak wat dadelik vir die mense in nood intree. God doen wondere in antwoord op hierdie gebede. Baie keer gebeur dit dat iemand bewend bel om te sê dat hulle aangeval word en om vir gebed te vra om kort daarna weer te bel om te sê dat die aanval op ’n wonderbaarlike wyse afgeweer is.

Hier volg ’n paar pragtige verhale uit Zimbabwe-Rhodesië van hoe God ingegryp het om mense wat in nood is te help.

 

’n Vrou op ’n plaas naby die grens het by haar huis uitgegaan om haar wasgoed te gaan ophang. Sy het skielik intens bewus geword van die teenwoordigheid van die bose, asof iemand besig was om haar uit die bosse rondom die huis dop te hou. Sy het ernstig die Here se naam aangeroep en teruggegaan in die huis in en die deure gesluit. ’n Paar dae later het die veiligheidsmagte ’n klompie terroriste gevang wat vir hulle vertel het dat hulle buite die plaas agter ’n bos gesit en wag het om die vrou dood te skiet. Maar hulle kon nie skiet nie, want toe die vrou by die deur uitkom, het twee reuse-soldate in wit klere met gewere voor haar geloop en toe sy weer by die huis ingaan, het hulle haar weer van agteraf beskerm!

’n Boer was alleen op sy plaas naby die grens van Mosambiek. Sy vrou en kinders het die plaas reeds verlaat. Een aand het die waarskuwing oor die interkom gekom dat daar terroriste in die omgewing was. Hy was baie bang. Hy was alleen en hy kon ook nie na die buurman gaan nie. Hy het aan sy kinderdae teruggedink en onthou dat hy van God in die Sondagskool geleer het. Hy het op sy knieë geval en omtrent een en ’n halfuur lank gebid, totdat die vrede van God oor hom gekom het en hy het aan die slaap geraak. Hy het die hele nag deur kalm en rustig geslaap. Die volgende oggend is hy deur die polisie gewek. ’n Konstabel en die terroris wat gevang was, het uitgeklim. Hy het vir die boer vertel dat sy buurman op die aangrensende plaas deur die terroriste doodgemaak is. Hulle het ’n paar terroriste doodgeskiet en een gevang en vir die boer kom wys waar die terroriste die vorige nag was. Daar was voetspore naby die huis.

“Waarom het julle dan nie aangeval nie?” het die boer gevra. Die terroriste het verduidelik: “Ons was bang vir die soldate in wit klere wat hier waggehou het!”

’n Dame het vertel dat sy en haar kinders altyd by ander mense gaan slaap het as haar man aan diens was. Later het sy besluit om by die huis te bly en die Here te vertrou vir hulle veiligheid. Die eerste aand het ’n groot vrees haar beetgepak. Toe het die Here haar oe oopgemaak sodat sy die engele kon sien wat rondom haar huis waggehou het. In ’n oogwenk het al haar vrees verdwyn en sy is tot vandag toe nie bang as sy alleen by die huis moet bly nie.

’n Bejaarde egpaar op ’n plaas naby Fort Victoria is een nag deur terroriste aangeval. Hulle het op hulle knieë gegaan en die Here gevra om hulle te help en hulle te beskerm. Skielik het die terroriste net begin weghardloop.

Polisiereserviste het een terroris gevang en in die ondervraging het dit uitgekom dat die terroriste die nag die plaas aangeval het en handgranate na die huis geslinger en deur die vensters geskiet het. Skielik het ’n hele klomp mense by die huis uitgestorm gereed om die aanval af te keer. Omdat daar so baie was het die terroriste gevlug.

Sendelinge naby Mount Silinda, naby die grens van Suid-Oos Rhodesië het skielik aangevoel dat daar terroriste in die omgewing was. Hulle was baie bang en het die hele nag deur gebid. Weer het die terroris wat deur die veiligheidsmagte gevang is, gesê dat die huis met soldate wat in wit geklee was, omring was en dat hulle bang was om aan te val. Prys die Here!

Dit is wonderlik dat God soms ons oë oopmaak om sy diensknegte te sien. Maar baie keer, die meeste van die tyd, sien ons hulle nie, maar ervaar hulle hulp en hulle nabyheid rondom ons. Ons hoor van baie gevalle hier by ons in Suid-Afrika waar God toegelaat het dat engele boodskappe aan sy kinders gebring het. Ons het net nie altyd genoegsame gegewens om die verhale oor te vertel nie. ’n Ander wonderlike verhaal waarvan ons gehoor het, is die bekende verhaal van Bloedrivier, waar meer as 12 000 Zoeloe-impi’s op 16 Desember 1838 ’n klein Boerelaer van 470 man, ’n paar Britse setlaars en swart volgelinge ingesluit, aangeval het. Dit was ’n bomenslike taak vir so ’n klein groepie mense om so ’n geweldige oormag te weerstaan en ons weet dat hulle die taak kon volvoer, omdat hulle ’n paar dae vroeër op 9 Desember, onder leiding van die waarnemende kapelaan, Sarel Celliers, ’n gelofte afgelê het dat hulle, as God hulle sou help om die oorwinning te behaal en hulle sou spaar, hulle en hulle nageslag dié dag as ’n dankdag aan God sou wy. En God het gehelp! Oudstryders vertel dat hulle daarna met die Zoeloe-impi’s kennis gemaak het wat gevra het: “Wie was dit wat julle gehelp het? Rondom die laer was daar baie soldate met wit klere!” Die beskerming van engele.

AMEN!