Lees reeks by Engele met 'n sending
Migael en sy engele
Omtrent tweeuur een Maandagoggend het ek wakker geword toe ek geluide in die onderste gedeelte van my huis hoor. Ek het onmiddellik gaan ondersoek instel. Toe ek onder kom het ek een van die wonderlikste gesigte gesien wat ek nog ooit gesien het. In my sitkamer het vier groot strydengele gestaan en in my huis was daar ’n geweldige groot aktiwiteit aan die gang. Elke keer as God Hom deur die besoek van engele aan my huis of studeerkamer openbaar het, was dit ontsagwekkend, maar hierdie besoek was nog meer oorweldigend omdat in my gees ’n ware besef was van die belangrikheid van wat God besig was om te doen.
Gabriël het my aan die voet van die trap ontmoet en my gevra om in die woonkamer in te kom. Hy het gesê: “Ek wil nie hê dat jy bang of bevrees moet wees nie, maar Sataniese magte het ’n aanval teen jou begin. Net soos God sy organisasie van engele het, het Satan ook sy organisasie met die prinse van die duisternis, al het hy nie baie nie en hulle het nie baie mag nie. Hulle is nie alomteenwoordig nie en hulle kan nie op dieselfde tyd orals wees nie. Hulle ondergang is alreeds bestem.
Ek het gespanne na Gabriël geluister toe hy sê hy wil my hierdie versekering gee sodat ek die kinders van God kan versterk en hulle kan herinner aan die spesiale tyd waarin ons leef. Hy het gese dat Satan bewus is van die feit dat God iets in Boise doen en hy het prinse van die duisternis na hierdie gebied gestuur in ’n poging om mense seer te maak en te beroof en hulle gedagtes met die dinge van die wêreld te vul en die werk van God te verhinder.
Hy het my herinner aan die tyd toe Israel uit Egipteland verlos sou word en die prinse van die duisternis probeer het om God se werk te verhinder deur al die babaseuntjies dood te maak in die hoop om Moses dood te maak. Hy het dieselfde gedoen nadat Jesus gebore is.
Ek het gedink dit was baie interessant toe Gabriël sê dat Satan nie weet wat gaan gebeur nie. Hy kan nie die toekoms voorspel nie en hy kan nie die gedagtes van mense lees nie. Hy is vreeslik senuweeagtig omdat hy nie presies weet wat aan die gang is nie, maar hy hoop om op een of ander wyse, wat God ook al doen, te vertraag. Gabriël het gesê dat die Heilige Gees alles op die aarde beheer, en Hy sal hom nie toelaat om dit te doen nie. As Hy sien dat die aktiwiteite van Satan gevaarlik begin raak, stuur Hy skares van engele uit om die situasie te red.
My aandag is op ’n spesiale engel daar gevestig. Hy was baie groot en krygshaftig!
Toe ek na hom kyk, het ek opgemerk dat hy, en spyte van sy vurigheid, ook ’n groot ooreenkoms met Gabriël toon! Ek sal nooit die oë van hierdie groot engel vergeet nie omdat hulle soos poele van vuur gelyk het! Ek het juis sy krag en sterkte bewonder toe Gabriël heel natuurlik vir my sê dat God sy magtigste krygsengel gestuur het om die pad skoon te maak en die prinse van duisternis terug te dryf. Ek kon skaars asemhaal, dit was so ontsettend — my eerste ontmoeting met MIGAEL!
Dit is heeltemal onmoontlik om die glans wat uit hulle teenwoordigheid straal, te beskryf. Ek kon deernis en liefde aanvoel, en die vrug van die Heilige Gees, want die atmosfeer van die hemel is die natuur van Jesus. Al hierdie engele het daardie selfde natuur en geweldige deernis gehad.
Gabriël het gesê dat God vir Migael ’n boodskap vir my gegee het. Ek het met ontsag en eerbied geluister! Dit was waar! Daar was geen wyse waarop ek dit kon betwyfel nie, ek was daar!
Gabriël het my ingelig dat daar die nag ’n geveg aan die gang was en hierdie engele in die woonkamer het eintlik die leërs van die hemel beheer wat besig was om die magte van die duister terug te dwing. Migael en die drie kapteine wat daar saam met hom was, het boodskappe van die Heilige Gees ontvang wat al die aktiwiteite gekontroleer het en op hulle beurt het hulle weer boodskappe gegee in tale wat ek nie kon verstaan nie aan engele wat die geveg gelei het.
Migael het gesê dat tot op die vasgestelde tyd wanneer Satan geheel en al uitgedryf gaan word, God dit toelaat en daar is ’n gedurige verdrywing en verstrooiing van bose magte deur die krygsengele. Hy het vir my gesê dat daar niks was om te vrees nie, omdat die engele die vyand oorwin en ons beskerm en bewaak. Halleluja!
Migael het taamlik lank met my gepraat oor iets wat ek voorheen nooit in die regte perspektief gesien het nie. As God die waarheid openbaar, moet ons maar ons klein kassies met leerstellings vergeet, want God DOEN wat Hy wil en WEET wat Hy wil doen.
Migael het gesê: “Tot op die vasgestelde tyd is ons taak nie om Satan te vernietig nie, maar om die magte van die duisternis te verstrooi en om hulle op ’n afstand te hou en om hulle weg te hou van die kinders van God.”
Verder het hy verduidelik: “Ek het ’n opdrag waarop ek gespanne wag en dit is wanneer ek nie meer respek aan Lucifer sal hoef te bewys nie. Die opdrag is om die hemele skoon te vee van Satan en elkeen van sy engele. Ons sal nie een laat wegkom nie!”
Hy het gesê: “In geval jy nie daarvan bewus is nie, daar is vier en twintig uur uit die dag een of ander bose mag besig om God se kinders van iets aan te kla wat Hy alreeds vergewe het.”
Satan sien dinge nie soos God dit sien nie. Hy weet dat hulle vergewe is, maar hy hou aan om hulle te beskuldig. “Maar,” het hy gesê, “die hemele sal skoongemaak word! Lucifer gaan probeer om te veg, maar hy het nie ’n kans nie. As jy wil lees oor wat gaan kom, sal jy dit in die twaalfde hoofstuk van Openbaring vind, verse sewe tot tien.”
Dit was die eerste keer dat ek besef het dat Migael engele het wat in sy bevel was. Die Woord sê: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.
“En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
“Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor God, dag en nag.
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb. 12:7—12).
Satan en sy magte kan niks doen om God se plan te verydel nie. Gedurende die verdrukking gaan dit verskriklik wees omdat al die gevalle engele op die aarde gaan wees. Prys die Here, Hy neem ons hier weg voordat dit gaan gebeur.
Migael het gesê: “Daar sal nie ’n plek in die uitgestrekte hemele wees vir een van daardie demone nie, nie vir een enkele een nie!” Hy het dit beklemtoon en gesê dat dit sy opdrag is en hy is gereed om daarmee te begin sodra die dag aangewys word!
Gabriel het vir my gesê om hierdie nuus te versprei sodat die harte van God se kinders bemoedig kan word. God hou sy oë op hulle en op die hele wêreld; Hy het nie die wêreld aan Satan oorgegee nie en Hy wil dat ons na dinge deur sy oë moet kyk. Ons mag dink dat dinge donker lyk, maar God wil hê dat ons moet weet dat Hy in beheer is.
Gabriël en Migael het albei gesê dat die prinse van die duisternis die vorige Sondag so naby was dat die krygsengele in die kerk gestasioneer was tydens die diens om seker te maak dat die vyand nie kon inkom nie. Halleluja! Ek was bly toe hy sê dat hy sy engele daar sou laat solank as wat dit nodig was.
Migael het direk uit die teenwoordigheid van God gekom en die krag en die mag in my huis was so sterk dat die grootste gedeelte van die dag verbygegaan het voordat ek my eie krag herwin het. Die menslike liggaam is nie gemaak om die krag wat uit ’n engel soos Migael straal, te absorbeer nie en dit het beslis sy uitwerking op my gehad!
Dit is moeilik vir die menslike brein om te verstaan wat eintlik plaasvind, en dit klink snaaks, maar die Skepper van die hemel en die aarde is besig om iets spesiaals te doen. Hierdie magtige engele kan nie kom nie, hulle kan nie verskyn nie, hulle kan nie praat voordat God sê: “Gaan!” nie. En Hy sê dit vandag!
Ek het meer van ’n vurigheid by Migael raakgesien as by Gabriël, alhoewel daar ’n besliste ooreenkoms was. Hy het fyn besnede gelaatstrekke en die beskrywing wat Daniël van die engele gegee het, was nog meer volledig toe ek opmerk dat Migael ’n bietjie soos Gabriël aangetrek was. Sy wit jurk het ’n elegante goue borduursel opgehad en hy het ’n wye, goue gordel gedra. Hy het ’n soort sandaal aangehad en sy voete het die kleur gehad van iemand wat donker gebrand het in die son. Daniël het gesê: “ . . . soos blinkgeskuurde koper . . .” Sy hande en arms het ook geblink. Die koperkleur van sy vel was buitengewoon omdat dit geskitter het van die glans wat uit die teenwoordigheid van God kom. Daar was so ’n besliste outoriteit om hom dat ek my kon voorstel wat sou gebeur met enige mag wat teen hom te staan sou kom.
Die ander krygsengele het ’n bruin jurk of hemp gedra wat in die nek met iets soos ’n skoenveter vasgemaak het. Dit het hulle oor baie lospassende broeke gedra.
God se engele het verskillende range. Gabriël is die leier-engel en hy staan in die teenwoordigheid van God. God se organisasie is hoogs gestruktureer en absoluut pragtig!
Dienende geeste is engele wat hier op die aarde saam met ons woon. God sê hulle trek ’n laer rondom ons. Hulle help altyd en verwyder die hartseer en sorge. Hulle ken die swaarkry, die spanning en die probleme van die lewe en hulle is by ons om ons te help. Hulle dra die hartklop van God in hulle om, sy liefde, sy sorg en belangstelling. Hulle lewe in gemeenskappe en kan as gewone mense hulle verskyning maak. Hulle het nie die sterk glans van die hemelse engele nie. Gerubs en Serafs is twee ander soorte engele.
Op hierdie oomblik is daar ’n spesiale taakmag van engele uitgestuur met ’n spesiale opdrag wat na geen beswaar van enige aard sal luister nie. Gabriël is hulle aanvoerder en hulle is besig om verlorenes na gelowiges te bring wat God se boodskap van verlossing aan hulle sal verduidelik.
Migael is die hoof van al die krygsengele wat in geveg is met die magte van die duisternis. Chrioni is ’n kaptein in die Here se magte en is een van die leidende krygsengele.
Baie engele het ’n rang of posisie in die hemelse leër gelykstaande aan dié van generaal of kaptein. Elkeen het sy eie verantwoordelikhede met ’n reeks in bevel onder hom. Toe Lucifer geval het, het hy ’n groep engele van verskillende range met hom saamgeneem sodat hy ook ’n reeks engele in bevel onder hom het en dit beteken dat daar ook demone van verskillende range bestaan.
Die Woord praat van die prinse van die duisternis. Hulle is die hoogste in Satan se leër. Op enige tyd in die geskiedenis, as Satan agtergekom het dat God besig was om iets spesiaals te doen, het hy die prinse van die duisternis bymekaar geroep en al die strategie moontlik gebruik in ’n spesiale vertragingstaktiek om God se werk te beskadig.
Byvoorbeeld, toe die engel Daniël besoek het, het die prins van die duisternis probeer om die boodskap wat God aan Daniël gestuur het, te verhinder. Gabriël het een en twintig dae lank teen die groot mag te staan gekom en is vertraag omdat die demone saamgespan het om hom te verhinder om te kom. Eindelik het die Heilige Gees vir Migael gestuur, die groot engel wat in bevel is van al die krygsengele.
As gevolg van Migael se geweldige geestelike mag, was hy in staat om al daardie magte van die duisternis terug te dwing. Toe eers kon Gabriël deurkom. Toe hy met Daniël gepraat het, het hy gesê: “Daniël, ek kon een en twintig dae lank nie deurkom nie, maar toe het Migael gekom om my te help en hy het saam met my teen die magte gestaan en hulle teruggedryf.”
God is nou besig om iets baie spesiaals te doen. Hy het ’n plek gekies om sy boodskap, sy woord en spesiale insig vir hierdie tyd uit te stort, net soos Hy in Daniël se tyd gedoen het. Dit is nie te betwyfel nie. Boise, Idaho, is ’n besoekplek vir engelewesens. Satan het dit agtergekom. Hy weet nie waaroor dit gaan nie, maar hy het prinse van duisternis na hierdie gebied gebring om te probeer om dit te keer. Maar hy kan nie wen nie!
Later daardie nag, toe hulle gereed was om die huis te verlaat, het Migael en een van die ander engele ons skuifdeure wat na die agterplaas lei, oopgeskuif. Dit het omtrent 15 cm gesneeu terwyl hulle daar was. Hulle het drie tree uitgeloop wat die sneeu tot op die grond platgetrap het en hulle omtrent vyftig meter ver geneem het, meer as 15 m per tree, en toe het hulle skielik verdwyn!
Al wat hulle agtergelaat het was enorme groot voetspore in die sneeu!