ENGELE MET ‘N SENDING (10)

Lees reeks by Engele met 'n sending

God se waarskuwingstekens

God verlang dat ons dit moet geniet om op sy meer van vreugde te skaats terwyl ons hier op die aarde is, maar Hy wil ook hê dat ons van die area wat gemerk is “DUN YS” moet wegbly. Dit is maklik, want Hy het die waarskuwings duidelik in die Bybel aangeteken.

Ons hoef ons nie te bekommer en te probeer om ’n Christelike lewe te lei nie. As ons met Hom wandel, in sy lig, het ons volkome vryheid van vrees en ons hoef nooit bang te wees nie! Sy hart klop vier en twintig uur per dag en solank as wat dit klop, en dit is vir die hele ewigheid, is ons geheel en al beskerm solank as wat ons Hom dien.

God het ons so lief dat Hy ons alles in die hemel en op die aarde aanbied. Hy maak ons selfs mede-erfgename saam met Jesus. Maar sommige indiwidue kies vrywilliglik om uit te stap onder die versoening (die bedekking, of die bloed van Jesus) deur rebellie en afgodediens.

Om te rebelleer beteken om te weier om trou te sweer; of om die outoriteit van iemand, of enige ander outoriteit oor jou te weerstaan. God is ons outoriteit. Om teen Hom te rebelleer is om ons rug te draai op wat Hy vir ons aanbied: Sy beskerming, seëninge, liefde en beloftes. Dwarsdeur die Bybel noem God baie duidelik die oorweldigende seëninge wat na ons toe kom wanneer ons ons aan sy absolute beheer onderwerp en die vloeke wat volg as ons Hom weerstaan of teen Hom rebelleer.

Afgodediens is ’n oormatige verknogtheid aan of verering van ’n persoon of ’n ding; bewondering wat grens aan aanbidding. Afgode­diens is nie net om ’n god of beeld te aanbid nie, dit is ’n drang na ons eie begeertes en plesier, in plaas van om te doen wat Hy wil hê ons vir Hom moet doen.

Die boodskap van rebellie en afgodery is goddelike waarskuwingstekens waarop ons moet ag gee sodat ons beskerm kan word teen wegdwaal van die Here af. Gabriël het my na 1 Korinthiërs 10 verwys en my laat kyk na Moses en die kinders van Israel wat God se uitverkore volk was, om te sien wat dit was wat hulle onder die bedekking van die wolk, wat ’n illustrasie is van die bloedbedekking wat God vandag oor ons plaas, uitgeneem het. Vers 1 sê: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het.”

Hulle het alles in hulle guns gehad! Hulle is uitgelei uit Egipte, wat ’n tipe van die wêreld was; hulle was beskerm en bewaar en hulle het hierdie wonderlike bedekking, die wolk, gehad!

Verder sê Hy: “ . . . en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.” Let op dat God, al het hulle hierdie bonatuurlike ervarings gehad en die wolk hulle bedek het, nie met hulle tevrede was nie. Waarom nie? “ . . . hulle is neergeslaan in die woestyn.” Waarom? Omdat hulle ’n begeerte gehad het na slegte dinge! Hulle het gerebelleer teen wat God vir hulle gehad het en het die afgod van hulle eie plesier aanbid!

Wat is slegte dinge? Dit is om die dinge wat God sê ons alleen moet laat, te begeer, omdat Hy weet dit sal uiteindelik ons vernietiging beteken.

Kyk daarna in God se geskrewe Woord: “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintig-duisend geval” (1 Kor. 10:6—8).

Hulle het in afgodediens verval en iets in die plek van God gestel. Hulle het Hom Here genoem, maar het ooglopend nagelaat om die dinge te doen wat Hy hulle beveel het om te doen. Dieselfde ding gebeur vandag omdat daar valse lering oor die wêreld gaan wat sê dat hoerery nie verkeerd is nie! Hierdie valse leraars waarteen die Bybel waarsku, sê dat dit ’n oud-modiese idee van ’n ander generasie is om die mens van genot te weerhou!

Hierdie gebod het nie ’n geslag of twee gelede begin nie. God het dit meer as 3 000 jaar gelede aan die Israeliete gegee. Hy het dit in sy plan en in sy Woord geplaas omdat Hy hierdie sonde haat en Hy laat ons weet dat, wanneer ons teen Hom rebelleer, ons begin op die pad wat ons onder die bedekking uitlei.

’n Jong man en vrou wat saam met mekaar geleef het in die nuwe moraliteit, het onlangs hulle lewens aan die Here gegee. Hulle was opgewonde toe hulle uitvind dat hulle sondes vergewe was en het ’n ruk lank gedink hulle kon voortgaan om in sonde te lewe. Soos baie jong mense vandag is hulle vasgevang deur ’n lewenstyl wat ontug en ander vorms van rebellie en afgodery onderskryf. Prys die Here, hulle het die lig gesien en is kort daarna getroud!

Sommige mense toon ’n algehele gebrek aan respek oor wat God gesê het: “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom” (1 Kor. 10:9). God het sy haat vir wat hulle gedoen het, getoon, deurdat hulle sy wense ongehoorsaam was, en toe hulle murmureer het God sy engel gestuur om 23 000 van hulle te vernietig!

WAARSKUWING! “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die ver­soeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens” (1 Kor. 10:12—14).

Kan u sien hoe God se bedekking werk? Hy keur sonde nie goed nie en Hy wil hê dat mense die Goeie Nuus moet hoor, sodat hulle kan uitreik en die krag kan vind om uit hulle sondes uitgelig te word. Slegs hulle wat Hom uitdaag en hulle eie pad loop, bevind hulleself op dun ys omdat hulle geen aandag aan sy waarskuwingstekens gee nie. God soek nie na redes om jou te veroordeel nie en dit is die rede waarom Hy waarskuwingstekens opgerig het. Die uitroep van sy hart is: “Ek wil jou red. Ek wil hê dat jy lewe en oorvloed sal hê!”

WAARSKUWING! Daar is ’n paar duidelike waarskuwingste­kens in die Woord waar God lig op sy plan, op sy aanvaarding van en die bedekking vir sy volk laat val. Hy kanselleer nie die waarskuwings en die aanmoediging aan sy volk om met Hom te wandel en vir Hom te lewe nie. Die waarskuwings wat Hy gegee het, is nog net so van krag, maar Hy wil hê dat hulle in die regte perspektief ge­plaas word. Hy wil hê dat mense wat Hom liefhet en die begeerte het om vir Hom te leef, sal weet hoe veilig hulle is. Maar Hy wil ook hê dat mense moet weet dat die pad waarop hulle is, hulle in groot moeilikheid kan laat beland as hulle nie ernstig na sy waarskuwings luister nie.

Wetsgehoorsame mense is nie elke dag bekommerd omdat daar ’n tronk in die dorp is nie! Om die waarheid te sê, hulle kan reguit na ’n polisieman toe loop, hom reguit in die oë kyk, met hom handskud en hom vriendelik groet. Hulle hoef nie bekommerd te wees nie, omdat hulle die wet gehoorsaam was. Dit is presies hoe God wil hê jy oor Hom moet voel!

WAARSKUWING! Wees versigtig vir die gebrek aan die besef van die belangrikheid van geestelike dinge!

Daar is baie, baie gelowiges op die pad van traagheid. Traagheid is ’n gevoel van gebrek aan belang; ’n slaperige doodsheid vir God; ’n gebrek aan geestelike energie; lui in aktiwiteit. Traagheid spruit voort uit ons innerlike wese wanneer ons sê: “Dit is makliker om tuis te bly. Dit is moeilik om ywer vir die dinge van God op te wek. Ek het ’n paar ander dinge om vandag te doen, ek sal maar liewer nie kerk toe gaan nie!”

God se waarskuwing: “En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien naderkom” (Heb. 10:25). Onthou, as jy dood en koud binne-in jou voel en dit is ’n ware las vir jou om te dink: “Hier is nog ’n naweek en ek moet kerk toe gaan. Hoe vervelig!” PASOP! GEVAAR! DUN YS!

WAARSKUWING! ONGELOOF!

God wil hê dat ons ’n lewende belangstelling sal hê in wat Hy besig is om te doen. Hy wil hê dat ons in die bonatuurlike moet glo, want Hy is die God van die bonatuurlike. As jy in jou hart afsydig is, pasop! “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Heb. 3:12).

Jy mag miskien ’n opregte belangstelling in God en in sy werk gehad het, maar daar het in jou denke ’n gees van skeptisisme ingesluip. Jy staan afsydig in ongeloof en twyfel, beide vyande van God. As jy sê dat jy in die bonatuurlike glo en jy gee een rede waarom jy glo en nege waarom jy nie glo nie, is jou woorde net leë ego’s. Die waarskuwing sê dat jy nie regtig in die bonatuurlike glo nie en sonder dat jy dit selfs besef, vind jy dat jy God se metodes in jou gedagtes bevraagteken.

Dit is so maklik om ’n waarnemer te word wat afsydig staan en sê: “Ek kan nie te betrokke raak nie, ek bly min of meer neutraal.” Daar is geen neutrale grond nie — jy trek of die een kant toe of na die ander kant toe.

Ons moet soos Petrus en Paulus en sommige van die ander dissipels wees wat Jesus gevolg het en gewillig was om hulle lewens vir God af te lê! Dit is vir my wonderlik om te kan sê dat daar nog nooit ’n tyd in die geskiedenis van die wêreld was dat God se kinders meer toegewyd is aan wat Hy besig is om te doen as juis vandag nie!

WAARSKUWING: “Uit sy eie wandel word die verkeerde van hart versadig” (Spreuke 14:14).

As jy begin om terug te dryf, is jy lank voordat jy heeltemal weg van God af is, net geïnteresseerd in die dinge wat op jouself betrekking het, nie in die dinge van die Here nie. Dit is ’n waarskuwingsteken.

WAARSKUWING! “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly dat die genade meer kan word?” (Romeine 6:1).

God se genade is ’n wonderlike bedekking, maar dit is nie ’n lisensie om te sondig nie. God se genade is iets wat ons nie verdien het nie, iets wat ons nie kan koop nie. ’n Persoon wat dink hy kan doen wat hy wil, rebelleer teen God en skaats op dun ys!

WAARSKUWING! “ . . . vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie” (II Kor. 6:1).

God se genade is ’n geskenk en mag nie ligtelik ontvang word nie. Paulus sê dit in verband met wat God gedoen het toe Hy vir ons die bedekking gegee het en hy waarsku ons: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. As medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie.” Kom ons omskryf die gedeelte so: “God het ons sondes in die sondelose Christus gestort en in ruil daarvoor God se goedheid in ons gestort. Daarom, as God se medewerkers, pleit ons by julle om nie hierdie wonderlike boodskap van God se groot liefde opsy te stoot nie.” God het dit vir jou gedoen en watter wonderlike woord van versekering gee Hy nie, maar Hy waarsku ons om dit nie opsy te stoot vir aardse plesier nie. “Hy sê: Op die regte tyd het Ek jou verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”

Dan gaan hy verder om vir ons te sê hoe ons ons daarvan kan weerhou om dit opsy te stoot: 21 Want *Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word *geregtigheid van God in Hom.

1 EN as *medewerkers vermaan ons julle ook *dat julle die

genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie.

2 Want Hy sê: *In die tyd van die welbehae het Ek jou (II Kor. 5:21 en 6:1—4).

Veronderstel u het nou net ’n nuwe skottelgoedwasmasjien vir u huis gekoop. U is in u noppies oor al die nuwe eienskappe en ure wat dit u in die kombuis gaan spaar en u lees die instruksies oor hoe om dit op sy beste vir u te laat werk. U ontdek ’n klein kennisgewing wat lees: WAARSKUWING! Vir die beste en mees effektiewe gebruik, doen dit of dat.”

Wat sal gebeur as u skielik dink: “Ek kan die ding nie in my huis hou nie. Dit mag dalk breek!” Net ’n oomblik lank neem uu oë van die voordele af en beklemtoon die waarskuwing en onmiddellik het al die voordele in u gedagtes gekrimp.

Wat God belowe het is dieselfde ding vir die indiwidu wat erken wat daar vir hom gedoen is en wat God vir hom wil doen. God se beloftes en sy voordele is alles vir die mens neergeskryf en die toerusting is uitstekend. Ons is uitgelewer aan hoe goed God is en hoe sy belangstelling in ons in al sy goeie beloftes tot uiting kom, waarvan Hy nie een woord gefaal het om na te kom nie. Sy waarborg is onbeperk! Maar daar is nog ’n waarskuwingsteken en dit is daar tot jou voordeel!

’n Rooi lig flikker by die treinoorgang as die trein kom om te keer dat ons nie doodgery word nie!

’n Brandweerwa blaas ’n sirene om ons te waarsku dat hy aankom!

’n Ambulans en polisiemotor flits ligte wanneer daar gevaar is en hulle sirenes waarsku ons om uit die pad te trek en uit die pad te bly.

Koors waarsku ons teen siekte en infeksie.

Al hierdie tekens is goed en net so is God se waarskuwingstekens. Hulle is net so effektief om te keer dat ons gedood word (geestelik) as wat die flitsligte by ’n treinoorgang keer dat ons nie fisiek gedood word nie! God het ons so lief dat Hy waarskuwingstekens al langs die meer van vreugde opgerig het, net vir ons beskerming!’