AS DIE WAARHEID VERTRAP WORD (1)

                                                                             Ds AE van den Berg

Lees reeks by As die waarheid vertrap word                                                                                                                                            

Deel 1

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh.8:32).

Inleiding

Die NG Kerk het haar in 1994 in ʼn landsontwrigting tuisgemaak waaraan sy ʼn skadelike aandeel gehad het.  Haar bollemakiesieslanery het lidmate van die vaste sekerhede wat die kerk hulle gebied het, vervreem en dwaallig vir sterre laat aansien; alles aan haar bedenklike omgang met die Bybel te wyte.

Lidmate is aangemoedig om die Bybel anders te lees en te verstaan. Dis nie die bloudruk van God se wil nie, maar mensewerk met foute wat slegs in die lig van die ontwikkeling van die wetenskap en nuwe resultate vir teksuitleg verstaan kan word.

Baie lidmate het sonder stoot of slag deel van die kerk se nuwe omgang met die Bybel geword.   Dit het ongelowiges se wêreldse leefstyl, onreine gedagtes en sedelose gedragsoos ʼn handskoen gepas en ongeloof ʼn gerieflike landingsplek gebied.

 “...omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom.8:7).

 

“...en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess.2:10).

 

Gelowiges sien die Bybel in ʼn geheel ander lig.  Dis die enigste bron van ware kennis van die waarheid en so kosbaar dat die prys om dit te verdedig, nooit te hoog kan wees nie:

 

Koop waarheid en verkoop dit nie.....” (Spr.23:23). 

 

Daarom is die Bybel die enigste fondament waarop die pilare van die kerk gebou is; ʼn rots wat onwankelbaar vasstaan:

 

“... die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ʼn pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim.3:15).

 

1.  Wat is die waarheid?

 

“...Wat is waarheid? ...” (Joh.18:38),

 

Pilatus se vraag aan Jesuswas wel sinies dog belangrik.  Die mens se verstand kan nie sonder kennis van die waarheid reg werk nie.   Om die regte dinge in die lewe te doen, moet mense weet wat waaren onwaar is. Die waarheid bly waar al glo niemand dit meer nie.  Die leuen bly ʼn leuen al glo almal dit.

 

Gevolglik het die waarheid niks te doen met die aantal mense wat dit glo nie.   Dit gaan oor wat God as waar ag en in die Bybel laat opteken het.  Hy is die Bron van die waarheid.  Niemand durf iets anders leer nie.

 

Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deutr.32:4).

 

“...sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid....” (Jes.65:16).

 

In Joh.14:6 maak Jesus ʼn grondige aanspraak as Hy sê dat Hy die waarheid is.  Hy betuig sy goddelikheid; die waarheid wat vlees geword het (Joh.1:1).  Hy sê dan ook baie duidelik dat die Woord van God die waarheid is:

 

“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh.17:17).

 

Die Bybel bevat nie slegs brokkies van die waarheid soos wat dwaalleraars verkondig nie, maar belig elke gesigspunt daarvan.  Filosowe soek al eeue lank tevergeefs na waarhede buite die Bybel. 

 

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Rom.1:20).

 

Wie die Bybel wil verander, probeer self God te speel en sal nie aan sy straf ontkom nie:

 

Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel” (Deutr.4:2).

 

“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.  En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb.22:18,19).

 

2.  Ongemaklik

 

Die Bybel maak ongelowiges soms baie ongemaklik omdat dit gereeld op die tone van voete trap wat in die verkeerde rigting beweeg.  Daarbenewens is die waarheid soms so naak, dat ongelowiges dit gedurig met leuens wil bedek:

 

“En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:28).

 

“En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Joh.3:19,20).

 

ʼn Kerk wat gruwels wil ontsondiging, kry haar nooit in die modderwater van leuens gespieël nie.  Alles bly troebel want God straf dit wyd.  VIGS is bv. nie net sy straf op homoseksualisme nie, maar ook op kerke en gemeenskappe wat dit verdra.

 

”...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).

 

3.   Sleurstroom

Ontspoorde kerke is vol blind-lojale lidmate wat nie vir hulself dink nie. Baie van hulle kom nie eens agter dat hulle in die sleurstroom van dwaalleer verkeer  en al hoe verder van die waarheid af wegspoel nie.  Hulle vertrou kerk-etikette blindweg.  En met die regte advertensie en begroting word dwaallig vir sterre aangesien.

 

Die oë word maklik bedrieg.  Alles wat Christelik lyk, is nie noodwendig van God nie.  Suiker lyk net soos sout!   Satan is ʼn nabootser met baie handlangers in die kerk:

 

“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15).

 

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12).

 Deel 2 volg...