Ds C R Kotze
Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd
In hierdie reeks word 20 preke aangebied wat almal betrekking het op die Afrikaanse volkslewe en die politiek. Dit is geskryf deur wyle ds. C R Kotze wat as jongman by die Boeremagte tydens die Tweede Vryheidsoorlog aangesluit het. Hy is in ’n veldslag gewond, gevange geneem en na St. Helena as krygsgevangene verban. Hier het hy onder diep geestelike indrukke gekom en besluit om sy lewe te wy aan die bediening van die Goddelike Woord.
SOOS SPRINKANE IN ONS EIE OË – Num. 13: 33—“
JAKOB se geslag was net omtrent sewentig in getal toe hulle na Egipteland verhuis het. Hulle het daar in getalle vermeerder en ’n sterk volk geword. Toe is die owerheid ontevrede, hulle word verdruk, hul seuntjies word doodgemaak sodat hulle nie kan vermeerder nie. So word hulle meer en meer verkneg. Hulle moet stene maak en hulle word soos slawe met swepe gedrywe. God roep Moses om die volk te verlos, maar die slawevolk is ontevrede. In hul oë kom Moses nou net moeilikheid maak. God bring een plaag na die ander ! God straf Egipteland met owerheid en onderdaan. Nou trek die volk. God maak die see oop. God beskerm hulle op die reis ! God gee water uit die rots. God bring hulle tot by die grense van die beloofde land. Hulle moet nou intrek. Hulle moet nou hul vryheidserfenis aanvaar.
Maar hulle wil nie. Hulle roep mekaar toe : Nee, ons is te swak. Ons is maar soos sprinkane. Hulle wil maar liewer omdraai na Egipteland. Hulle wil Moses stenig en ’n ander leier kies wat hulle terug sal lei na Egipteland toe. Nou wil God die volk verdelg. Maar Moses bid.
Ons wil tot u spreek oor die hemeltergende minderwaardigheidsgevoel wat vir Moses laat bid het.
Hier op Suid-Afrika se bodem is die Afrikanerdom gebore en het hulle gegroei ! Ons volk spruit uit Van Riebeeck en sy manne se rotskarakters wat nog rebelle was toe hulle hier aankom, eerstens uit die Hugenote se godsvrug, asook uit die Voortrekker se vryheidstrewe. Uit sulke metaal het God die Afrikanerdom gemaak en gebou tot volk met eie taal, eie godsdiens en eie geskiedenis. Die vryheidsstrewe wat in ons volk se bloed sit, kom van Hollander, Hugenoot en Voortrekker.
Ons volk is egter verkneg.
God maak nasies ! En die duiwel maak die Empire. So is die Afrikanderdom verkneg deur die geweld.
Die Christelike liefde wil dat daar ’n beskutting moet wees rondom ’n familiekring, ’n draad rondom ’n plaas en ’n muur rondom ’n volk (Jes. 60:18 en Eseg. 22 :30). Maar die empire vernietig die heiligste beginsels, verwoes alle grense en vertrap alle vryheidstrewe.
Empire se werk
So het die Britse Empire met die Tweede Vryheidsoorlog twee maal soveel vroue en kinders om die lewe gebring as vegbare manne. Die Empire het ’n derde deel van die burgerlike bevolking van Transvaal en die Oranje Vrystaat uitgeroei. En sedertdien het die Empire die voortbestaan van ons taal, geskiedenis en godsdiens bedreig. Vir veertig jaar poog die Empire om die siel van die Afrikanerdom te vernietig. ’n Menigte Afrikaners is uit al die staatsdepartemente verdrywe en ons armblankedom is vermeerder tot 300,000. So is ons volk in elke fase van die volkslewe vervolg, verag en verdruk.
Nou bring God die vryheidserfenis aan die horison van die volkslewe. Net soos Moses in Egipteland sien ons vandag Gods geregtigheid geopenbaar ! Die skuldiges word gestraf, die verdrukker word verneder en die verdruktes word in vryheid gestel. En hier by ons sien ons ’n ontwaking en volksfeeste soos Suid-Afrika nooit geken het nie. Hierdie wonderlike geesdrif en vryheidstrewe is van die God van ons vaders. Met die groot werke van Gods hand in Suid-Afrika word ons vryheidstrewe ook hier nader gebring.
Maar nou kom daar moeilikheid omdat hierdie vryheidserfenis ook vir die Afrikaner voor die deur staan. Israel word deur God’s hand verlos uit die Egiptiese slawerny en God gebruik Moses om hulle te lei deur die Rooisee en die woestyn tot by die grense van die beloofde land. Nou wil ’n groot deel van Israel nie intrek nie. Hulle wil vir Moses dood maak en ’n ander leier kies wat vir hulle sal teruglei na Egipte ! Hoe daar ook al met hulle geredeneer word, hulle antwoord net: Ons is te swak, ons is te klein, ons is soos sprinkane in vergelyking met die Kanaaniete !
Minderwaardigheidsgevoel
Ons is in ons eie oë soos sprinkane.
Dis die taal wat ons vandag in Suid-Afrika ook hoor. Ons wil die vryheid vir ons volk nie hê nie. Ons is te klein. Laat die vyand ons maar verag. Laat die armeblankedom maar toeneem ! Laat die verdrukking maar voortgaan ! Ons wil die vryheid vir die Afrikanerdom nie hê nie. Ons is soos sprinkane in eie oë.
Tog wil hulle sterk teen hul eie leiers optree ! Hulle is soos sprinkane in hul eie oë as hulle vir hul vryheid teen die vyand moet optree. Maar hulle is nie soos sprinkane in hul eie oë as hulle teen hul eie volksleiers wil optree nie. Hulle wil nou vryheidsmanne soos Moses, Aaron, Josua en Kaleb met klippe dood gooi, en hulle wil ander leiers kies wat hulle weer sal teruglei na die slawerny van Egipteland.
So is dit in Suid-Afrika by ’n sekere groep ! Hulle is te klein en gering vir ’n vryheidstrewe ! Hulle is in hul eie oë maar soos sprinkane as hulle teen die verdrukker, teen die vyand van die Afrikanerdom moet optree, maar hulle is nie soos sprinkane in hul eie oë as hulle teen hul eie bloed wil optree nie.
Hulle waag dit om selfs teen God op te tree ! Hulle wil Moses en die vryheidsmanne doodgooi ! Maar Moses het nie die tien plae in Egipteland gebring nie, Moses het nie die Rooisee oopgemaak nie, Moses het nie by Sinai laat donder nie. Moses het nie vir hulle hier by die vryheidserfenis gebring nie. Dis alles deur God’s hand gedoen ! En nou dreig hulle en vloek teen God’s raad.
Dit wek God’s toorn. God wil nou dadelik die opstandige menigte verdelg.
Verdraaide vroomheid
Ons hoor so baie van mense wat wil christelik wees deur altyd die minste te wees, om altyd nederig te wees, om te verdra. Maar as ons die minste is en dit maak ander mense verwaand ; as ons nederigheid vir ander mense hoogmoedig maak ; as ons verdraagsaamheid vir ander mense meer laat verdruk, meer laat roof, meer laat bedreig ; as my soort vroomheid vir ander mense goddeloos maak, dan word daardie nederigheid en daardie verdraagsaamheid en daardie vroomheid ’n groot sonde !
God bring hierdie mense by hul beloofde land. God bring hulle by hul vryheidserfenis, maar hulle is te beskeie om die vryheidserfenis wat God hulle gee, te neem. Hulle is te nederig. Hulle is in eie oë soos sprinkane. Dit verwek die toorn van God. Hulle is waarlik te beskeie om God te gehoorsaam. God wil hulle nou verdelg. God wil hulle verdelg oor hul nederigheid, oor hul beskeidenheid en oor hul minderwaardigheidsgevoel.
Nou moet Moses bid.
So is dit met ons Afrikanerdom. God bring die vryheidserfenis voor die deur. In plaas dat ons eenparig God dank en ons vryheidserfenis aanvaar, is ons verdeeld! Die een vyand van die Afrikanerdom het ons weer verdeel. Die een deel wil voortrek, die ander deel wil nie vry wees nie !
Nou of nooit
Wat ons vryheid betref, is dit nou of nooit.
Daarom moet ons nou bid! Ons strek die hande uit tot God. Ons bely die sonde van ongehoorsaamheid, die sonde van verset teen God’s gebooie, die sonde van afdwaling van die Woord en die kerk. Ons bely die minderwaardigheidsgevoel wat die oordele van God op ons bring.
AMEN!