BYBEL EN VOLKSTRYD (12)

Ds C R Kotze

Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd

VRA VIR DIE OU MENSE

Deut. 32 : 7Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak, die ou mense dat hulle jou dit sê.”

MOSES het veertig jaar sy volk gelei. Nou is sy einde daar. Hy neem afskeid. Hy dink terug hoe hierdie steenmakervolk geneig was om sedes en gewoontes van ander nasies na te aap. Hy dink aan die oordele van God wat daarop gevolg het. Nou moet die volk Kanaan binnetrek en daar is dieselfde versoekings ! Nou wil hy in sy afskeidswoord die volk waarsku. Net soos Jehova self by Sinai die volk toegespreek het : Moenie na-aap nie, maar eer jou vader en jou moeder ; so roep Moses as ’n sterwende sy volk toe : Laat staan die vreemde nasies.   Dink      aan jou eie verlede, dink aan die ou dae, let op die jare van geslag tot geslag. Vra vir jou vader dat hy jou dit bekend maak. Vra vir die ou mense dat hulle dit vir jou sê.

Die stem van die geskiedenis is die stem van God.

Die jongste toppe steek bo uit, maar hulle kan sonder stam en wortels nooit daar bo kom nie. Daarom sê die Here : Dink aan die dae van die ou tyd. Vra vir die mense. Kyk na die stam en wortels.

God het bepaal dat ons voorouers Geus en Hugenoot sal wees. God het ook ons ouers gekies. God het ook beskik dat die manne wat die volksplanting hier begin het, nie Roomse is nie, maar Geuse wat tagtig jaar teen Roomse Spanje geveg het.

Moffat vertel ook dat sy ondervinding met die Boere hom getoon het, dat die Boer buig voor die gesag van Gods Woord.

Ons sien dat President Paul Kruger vir Jameson en sy geselskap vang en in plaas daarvan dat hy hulle soos rebelle en rowers doodskiet, stuur hy hulle terug na Engeland toe. Paul Kruger het sy staatkunde uit die Bybel gekry.

Laat ons eenheid by die Bybel soek. Die een hoef nie vir die ander te buig nie, maar laat altwee kante hul geskille na God bring en buig voor die gesag van Gods Woord.

Die grootste manne en vroue in ons geskiedenis was nie miljoeners nie. Retief, Cilliers, Kruger, Steyn, De Wet was groot manne, maar hul grootheid sit nie in die beursie nie. Wei in manmoedige optrede, in stale karakters, ’n skoon loopbaan.

Let op die ou tye as julle vandag, Afrikaners, wil vasstel waar die ware grootheid sit.

Veg en bid

Vir die Voortrekkers was die godsdiens ’n werklikheid, ’n krag. Hulle het dwarsdeur die dag geveg teen barbare, en vanaand kom bid. Die Voortrekkers se lewe het bestaan uit stryd en godsdiens. Die twee het hand in hand gegaan. Die geweer in die een hand en die Bybel in die ander. Vandag was dikwels ’n slagveld en daar was baie lyke, lyke, maar as vanaand aankom, dan gaan hulle met die bebloede byl en met die geweer na die Bybel, die gebed, en sing hulle psalms om die huisaltaar.

So moet die jong toppe wat vandag uitsteek, leef uit daardie stam, uit daardie wortels.

So moet ons ook handel met die teenswoordige geskille en misverstand, met ons strewe na republikeinse vryheid. Israel het ook onder mekaar getwis of hulle hulp sal soek by Assirie of by Egipte (Jer. 2:18). En die Profeet het hulle geantwoord: Wat maak julle by die Eufraat, wat soek julle by Egipte ?

So is daar vandag onder ons wat hul heil soek by die Thames of by die Ryn.

Vra vir die Here en Hy sal julle antwoord. Soek nie heil by die vreemdes nie, maar let op jul geskiedenis. Dink aan Slagtersnek, die twee Vryheidsoorloë, die Ossewatrek van 1938!

As op die geskiedenis gelet word, sal die Afrikaner sien dat net die Bybelmense getrou is. Van Van Riebeeck tot vandag is daar nie een volksleier sonder Bybel wat opreg en getrou gebly het tot sy dood toe nie.

Let u so op die ou dae, kyk na die geskiedenis, dan sal u ook weet watter leiers om te kies !