BYBEL EN VOLKSTRYD (9)

Ds C R Kotze

Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd

DIE VRYHEIDSTRYD

Rigters 6 :12—“Die Here is met jou, dapper held! ”

DIE Israeliete het van die Here afgedwaal. Hulle het die diens van Jehova verlaat en dit selfs verruil vir afgodediens van die vreemde nasies. Toe kom Gods oordele en strafgerigte ! God laat toe dat die vreemde nasies oor Israel heers en hulle verdruk. In hierdie geval is dit die Mideaniete wat die volk in ellende verdruk. Maar hulle roep tot God ! Hulle bely hul sonde en smeek om genade. Nou wil God verlossing bring, maar daar moet ’n leier wees. Die Here kies vir Gideon, maar Gideon weet nie of die volk hom in die stryd sal volg nie. Die Here moedig hom aan in die bloedige stryd wat voorle met die woorde : “Die Here is met jou, dapper held”. Ons tekswoord handel dus oor ’n vryheidstryd.

Die mens is na Gods beeld geskape.

Daarom het die mens wat al die diere nie het nie—nl. ’n verstand, ’n rede. God het hom ook aan die mens geopenbaar as ’n Drie-enige God. En die mens is ook ’n gemeenskapswese. Die mens soek ’n gesin, ’n vereniging, ’n maatskappy, ’n kerk, ’n staat. Dat die mens ’n gemeenskapswese is, is nog iets van die beeld van God in die mens.

Ook is God soewerein ! Daar is by God geen gedagte aan ’n gelyke of ’n meerdere nie. Hieruit kom die mens se vryheidsdrang. Die normale mens wil sy regte hê; hy wil op sy eie gebied sy vryheid hê. So het God die mens gemaak.

Die mens streef na volkome vryheid! As die mens tot rypheid kom, wil hy op sy eie bene staan ! As tweetjies trou, wil hulle in hul eie huisie woon. Die gemeente wil sy eie bestuursliggame hê ! Die nasie wil sy eie regering vorm !

Dit is so vanselfsprekend ! Dit kom uit die beeld van God wat in die mens is. Dit kom uit die soeweiniteitsleer van die Bybel.

Dis die wêreld se Calviniste wat die meeste Gods soewereiniteit benadruk, wat die sterkste vryheidsdrang voel! Solank Holland Rooms was, het hulle geredelik vir hulle onderwerp aan die juk van Spanje, maar toe hulle Calviniste word, het hulle tagtig jaar geveg vir vryheid. Ook die Hugenote het as Calviniste gely en gebloei vir vryheid.

Het ons vandag vryheid ? Het ons godsdienstige vryheid ? Kyk maar hoe skree hulle: Politiek ! Politiek ! as die predikant oor sekere tekste preek of sekere hoofstukke in die Bybel lees ! Waarom is daar geen politiek in die Engelse Bybel nie ? As ons eendag 'n vrye volk is, sal ons ook ’n hele Bybel hê.

Maar daarom is vryheid ook ’n saak vir ons Bybel, ’n saak vir ons godsdiens.

Vryheid het sy eie wette

Vryheid is nie wetteloosheid nie ! Toe Israel uit Egiptiese slawerny verlos is, moes hulle die kortste pad trek na Sinai om wette te kry !

Vryheid erken ook wette, maar dan sy eie wette ! Die een huis of volk mag nie op die ander wette kom afdwing nie.

Die huisgesin wil die gesag van sy eie hoof erken !

Die vereniging wil sy eie reëls optrek.

Die kerk wil sy eie bestuursliggame kies.

Die volk wil sy eie leiers kies, en wil alleen die wette van sy eie gekose wetgewende liggame erken. So moet dit wees ! (Deut. 17:15).

Maar die sonde het ontaarding gebring. Die goddelose word verwaand! Die goddelose wil baasspeel! Vir die goddelose is mag alleen reg. Elke mens moet ambisie he, en ons moet planne beraam, strewe en ons inspan om ons ambisie te verwesenlik. Maar ’n goddelose ambisie wil oorweldig, roof, annekseer, verdruk.

Hierdie aanmatiging, hoogmoed en goddelose ambisie bots met die God-gegewe vryheidsdrang.

Vandaar al die stryd (Job 7 :1). Die Bybel spreek ses maal van verdraagsaamheid, maar 150 maal van stryd. So is daar ook ’n geestelike stryd. Die Profete volhard in die prediking totdat hulle gestenig word. Die Apostels volhard in die prediking totdat hulle gekruisig word. Die martelare volhard met Bybel en gebed totdat hulle op die brandstapel omkom.

Die veroweraar en die verowerde kan nie saam Bybel lees en bid nie ! As die een bid, dan wil die ander net dank !

Alleen ‘n vrye volk kan saam die hele Bybel lees en saam gelowig bid! Vryheid is in die mens se siel ingeskape. ’n Mens sal nie bloei en sterf vir ’n wetenskaplike ontdekking nie. ’n Mens sal nie bloei en sterf om die waarheid van ’n natuurwet te handhaaf nie, of omdat twee maal twee juis vier moet wees nie. Maar miljoene ly en sterf vir die godsdiens en die vryheid wat in die siel leef !

Daar het byna net so veel miljoene hul lewe gegee vir vryheid as wat daar gesterwe het vir hul godsdiens.

Nie net lydelike verset nie

Die stryd bly nie net by lydelike verset nie. Abraham het met 318 gewapende manne bloed laat loop om sy neef, Lot, met die ander verowerdes te verlos.

Dit is bloed vir vryheid, vryheid !

A1 die Rigters laat op Gods bevel strome bloed loop vir vryheid en nogmaals vryheid.

Die Geuse en Hugenote het gely en gebloei en gesterf vir vryheid en nogmaals vryheid.

Die Voortrekkers het gely en gebloei en gesterf vir vryheid en nogmaals vryheid.

So het die Boerekommandos in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloe gely, gebloei en gesterf vir vryheid.

Die dief, moordenaar en rower kan nie bid op Gods seën met sy werk nie, maar die stryder vir vryheid, waarheid en geregtigheid kan wel.

Ons Bybel prys die helde. Twee maal noem die Bybel vir die Here self ’n Held (SeJ3 :17, Jer. 20:11, Jes. 42 :13, Ps. 45:4 Selfs die engele word helde genoem. Tagtigmaal spreek die Bybel met lof van helde! Elf maal van dappere helde, dertig maal van kloeke helde, twintig maal van strydbare helde.

Die Here is met die dapper held.

Die Here is nie met die hensoppers nie.

Die Here is nie met die man wat sy gewete verkoop nie Die Here is nie met die man wat sy oortuiging verhuur nie. Die Here is nie met die man wat sy vryheid versmoor met ’n salaris nie.

Die Here is met jou strydbare held, om te veg vir vryheid, waarheid en geregtigheid.

Daarom, my verdrukte broer en suster, moenie wankel of beswyk nie. Vertrou op die God van u vader en u moeder. God sal sy waarheid nimmer krenk nie, maar ewig sy verbond gedenk.