BYBEL EN VOLKSTRYD (7)

Ds C R Kotze

Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd

DIE VOLKSMURE ...

... APARTE NASIES

Jes. 60:18—“Maar jy sal jou mure Heil noem.”

GOD het die volk van Israel gemaak. Met sy afsonderlike taal, geskiedenis, godsdiens, sedes en gewoontes was daar as ’t ware 'n muur rondom die volk wat hom onderskei het van ander nasies. Deur die na-apery, ontaarding en verbastering met ander nasies is die verskil tussen Israel en die ander volke al meer verbleek en so is die kultuurmure rondom die volk afgebreek. Nou verkondig die profeet van God, Gods toorn en Gods oordele ! Daar kom oorlog, neerlaag en ballingskap. Dan sal die volk duur lesse leer, dan sal die na-apery en ontaarding end kry. Dan sal hulle leer om al wat vir hul eie volk heilig moet wees, te waardeer, dan sal hulle die mure heil noem.

So wil ek vandag tot u spreek oor die volksmure en wys eers daarop dat God wil aparte nasies op aarde hê. Reeds in Gen. 11 lees ons dat die mensheid na die sondvloed ’n toring van Babel bou om een volk met een taal te bly. Daarom kom die Here met spraakverwarring hulle uitmekaar drywe, omdat God verskillende volke met verskillende tale wil hê.

 

Ons lees in Deut. 32:8 dat die Allerhoogste die mensekinders van mekaar geskei het, die grense van die volke vasgestel het en aan die nasies ’n erfdeel gegee het.

In Joh. 17 bid die Heiland op weg na Getsémané dat hulle almal een moet wees, maar hierdie gebed verander Gods Raad nog nie. Eenheid is nog nie eenvormigheid nie. Dieselfde Christus wat so bid om eenheid, stuur vyftig dae later die Heilige Gees wat op Pinksterdag die groot werke van God verkondig, en vir elkeen in sy eie taal. Driemaal lees ons dit in een hoofstuk, vir elkeen in sy eie taal. Die boodskap kom op Pinksterdag tot elke volk in sy eie taal.

So verkondig Babelse toring, Deuteronomium en Pinkster aan ons : God wil aparte nasies, tale en geskiedenisse he. God maak n muur om die volk.

Die Psalms en die Profete spreek oral van die volksmure wat gebreek is en die manne wat in die bresse moet staan. Wat is die muur ? Hoe lyk die muur ?

Ons het in die eerste plek ’n taal wat nie soos die ander volke s’n is nie en dit skep ’n muur tussen ons en ander volke. Ons het ook 'n geskiedenis wat byvoorbeeld die Engelse nie van hou nie. En hulle het ’n geskiedenis wat ons nie van hou nie. Hulle hou b.v. nie van ons Retief, Cilliers, Kruger, Steyn, De Wet, ens. nie en ons hou nie van hul Nelson, Roberts, Kitchener nie. Kitchener is verantwoordelik vir die dood van 26,000 vroue en kinders by ons gedurende die Tweede Vryheidsoorlog.

Dis waar van al die nasies. Die Duitsers en Franse kan nie so gelukkig met mekaar gesels oor al die dele van die geskiedenis nie. Dis waar van Hollanders en Engelse, van Grieke en Turke. Dis waar van al die nasies. Elke nasie het sy eie geskiedenis wat hy nie met ander so gelukkig kan bespreek nie.

So is dit ook met ons godsdiens. Dis net die Afrikanerdom wat ook in sy kerklike lewe wit en bruin en swart apart hou. Dit is ook al weer !n muur om ons volk. Ons het ook in ons kerk geen beelde of prente nie. Ons het geen nasionale volkslied of vlae in ons kerk nie. So is dit dus ook in ons godsdiens anders as by die ander kerke.

Ons taal het deur Gods hand op Suid-Afrikaanse bodem ontstaan ! Ons geskiedenis is in die 300 jaar deur Gods hand so gestuur. Ons godsdiens het die Here so uit die worstelinge van die Boerenasie laat groei. So het die Boerevolk sy eie taal, geskiedenis, godsdiens, sedes en gewoontes. Dis volksmure wat deur Gods hand so gebou is.

God bou nie alleen die volk nie, maar Hy besluit watter persoon aan watter volk sal behoort. God skep elke siel apart en Hy bepaal of die siel 'n man of 'n vrou sal wees, ’n Afrikaner, Fransman of Duitser. God kies my ouers, my taal, my geskiedenis, my godsdiens, my volk.

Die Vyfde Gebod

En hy gee aan elkeen die vyfde gebod. Sommige meen die vyfde gebod sê : As jy ’n soet kindjie is, sal jy oud word. Dit is glad nie die betekenis van hierdie gebod nie. Daar by Sinai is geen kinderdiens gehou nie. God het daar die Tien Gebooie gerig tot een persoon en hom as jy aangespreek. Daar staan die familiegroep elkeen apart voor Sinai en God rig hom tot die huisvader van elkeen.

Daardie man se vader was maar ’n ou steenmaker in Egipte. Waarskynlik is hul vaders en moeders reeds dood. Maar dit maak nie saak nie. Die vader en moeder het ’n taal, ’n geskiedenis, ’n godsdiens wat die ander volke nie het nie en God sê : Eer jy en jou kinders jou vader en moeder se taal, geskiedenis, godsdiens, sedes en gewoontes, dan sal julle as nasie nooit uitgeroei word nie. Die vyfde gebod is nasionaal. Die gebod wil die volksmure sterk maak. Elke nasie het 'n vyfde gebod wat vir hom sê: God wil aparte nasies hê en elke individu moet binne die mure van sy volk nasionaal wees.

Doringdraad

Die boer op die plaas word deur die doringdraad in staat gestel om ongestoord, ongehinderd sy planne te beraam, sy ideale te koester en sy hele plaas na eie goeddunke te bewerk. Hy noem die doringdrade heil. So maak God elke volk apart en gee vir elke volk sy erfdeel, sy eie land. En God spreek sy oordele uit oor die nasie wat ’n ander nasie se grondgebied neem, soos die Bybel dit uitdruk: Die nasie wat die landpale verset.

Dit gebeur dikwels dat so ’n muur om ’n volk verbreek word. Sommige Afrikaners laat hul eie taal los, laat hul eie kerk los, hulle wil nie weet van ’n eie geskiedenis nie. Jy mag nie met hulle praat oor Retief, Cilliers, Kruger of Steyn nie. Hulle wil niks hoor van die 26,000 vroue en kinders wat in die Engelse konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het nie. God het vir hulle hul volk gekies, maar hulle kom in opstand teen God.

En wat is hulle nou ? Hulle is niks ! Hulle het hul volk verraai, hul ouers verraai, hulle verraai God wat met hul geboorte hul ouers gekies het, en van hulle Afrikaners gemaak het. Nou wil hulle by ander gunste kry, by vreemdes in die tel wees, en tog by ons ook nog gerespekteer word. Hulle klim heen en weer oor die muur.

Empire-mense

En wat van die na-apers, die moderne Babeltoring-bouers ? In Jer. 2 :18 vra die Here : Wat maak julle tog op die weg van Assur om die waters van die Eufraat te drink? Wat maak julle op die weg van Egipte om die waters van die Nyl te drink? Daar vind ons reeds ook die aparte partye—die een groep soek hulp by Assur, die ander by Egipte. Of hul aap vreemde regeringstelsels na.

Ander aap Parys en Hollywood se sedes en gewoontes na, en verbreek die Afrikaner se sedes en gewoontes wat God vir hom geskep het.

Hulle wil op elke gebied die mure verbreek. Die taal verag, die geskiedenis misken, die kleurlyne wegneem. Waar God twee volke maak, wil hulle een skep. Hulle is die Empire- mense, die Babeltoring-bouers wat alle nasies tot een wil maak ; onder die Empire almal gelyk en een, blank en swart, geel en bruin almal een.

Hulle verwek die toorn van God want Hy sê in Eseg. 22:30 en 31 dat, omdat daar niemand was wat die skeur in die muur kan toemessel nie, sal ek my toorn oor hulle uitgiet.

God sê in Eseg. 22:30 : Ek het ’n man gesoek wat die muur kan bou en voor my aangesig in die bres (skeur) kan staan vir die land, sodat ek dit nie verwoes nie.

God het die muur gemaak en God wil dat die muur heel gemaak word! Hier is ons roeping ! Wat moet ons maak met die muurplattrappers, die muurbrekers? Hulle moet nou kies, hulle moet nou eenkant toe staan. Ook die wat die gemengde huwelik voorstaan, moet nou kies of hulle blank of gekleurd wil wees ; en die wat Engels wil wees, moet een­kant toe staan en die Afrikaners moet binne die muur bly.

Dieselfde regte

In die sinagoge is almal net Jode, daar is die volksmure rondom hulle. Daar in die Engelse kerk preek die Engelse predikant net vir die Engelse. Ons het geen beswaar nie, maar ons eis dieselfde regte vir onsself. Ons wil as Afrikaner preek vir die Afrikaner (sonder dat ons uitgeskel word as rassehaters hieroor). As die Engelse predikant bid vir oorwinning van sy volk in die oorlog, dan wil ons Afrikaners in ons eie kerk en met ons eie predikant ook die reg hê om vir ’n oorwinning van ons volk in die stryd te bid.

Ons wil ons eie kerk hê, eie taal, eie skole. Ons word as volk deur God geskep, beskerm en bestendig.

Driehonderd jaar bly ons tussen swartes, en ons bly wit. Dit is enig onder die nasies van die wêreld!

Driehonderd jaar bly ons tussen die swart heidendom, en ons bly nog christelik. Dis nog 'n wonder uit Gods hand !

Vir eenhonderd-en-veertig jaar staan ons onder die Empire, en nog het 80 persent van ons nog dieselfde vryheidsdrang wat Van Riebeeck en die Hugenote gehad het.

Soos God ons gemaak het, so het Hy ons laat groei en van krag tot krag laat toeneem.