Ds C R Kotze
Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd
OORLOG: WEES GOD MÉÉR GEHOORSAAM AS DIE MENSE
DIE OORLOGSJARE (1939—1945)
Hierdie preek is gelewer tydens die donker krisisjare van die Tweede Wêreldoorlog (1939—1945). Afrikaners wat die oorlogspoging nie kon steun nie, is aan griewende vernedering en vervolging blootgestel. Ongelukkig het ernstige meningsverskille in eie geledere ook nog ontstaan oor die verwesenliking van die vryheidstrewe, sodat die nuutgevonde eenheid spoedig weer verbreek is. Innerlik verswak en magteloos, het die Afrikanervolk weerloos gestaan teenoor die bedreiging van tronke en interneringskampe. Teen hierdie agtergrond moet wyle ds. C. R. Kotze se preke, wat indertyd landswye beroering verwek het, gelees word. Die onverskrokkenheid en die profetiese gloed van sy optrede het Sondag na Sondag groot skares getrek na die historiese Tweetoringkerk in Bloemfontein wat vir vele ’n hawe van rus en ’n oord van bemoediging geword het.
Pred. 3:3 “’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak.” Pred. 3:8— “’n Tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.”
ONS IS christene ! Ons glo in die Bybel. Die Bybel sê dat die hele Skrif van God ingegee is en nuttig is om te leer, om tereg te wys, sodat die mens van God volkome kan wees—tot elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:16, 17).
Die Bybel is dus daar om vir u en my tot elke goeie werk volkome toe te rus !
Nou, wat sê die Bybel van my lewe en sterwe ? Wat sê die Bybel van kerkgaan, van Sondagsheiliging, van my huis en my vriende ? Wat sê die Bybel oor die vraagstukke wat ons ontmoet? Wat sê die Bybel van skeuring en eenheid, van meerderheid en van oorlog? Watter skeuring is christelik?
Watter eenheid is christelik ? Wanneer is ’n meerderheid christelik en aan watter oorlog moet ’n christen deelneem?
Die mens is geskape na God se beeld, met ware kennis, geregtigheid en heiligheid. Maar daar het sonde in die mens gekom. Beëlsebul en sy aanhang is weens die sonde uit die hemel verdrywe ! Hulle het in die hel beland. Uit die hel kom Beëlsebul en plant die hel se sonde met haat en bitterheid teen God in die hart van die mens ! Vandaar kom die moeite en verdriet, die bloed en trane, die graftes wat die aarde bedek.
Die sonde bring ellende, haat, oorlog
Veertigmaal spreek ons Bybel van wapen, wapenhuis, wapenrusting.
Tagtigmaal spreek ons Bybel met goedkeuring van helde.
Vyftigmaal vind ons in die Bybel die woord oorlog !
Honderd-en-vyftigmaal spreek ons Bybel van stryd.
Tweehonderd-en-twintigmaal spreek ons Bybel van ’n swaard.
Natuurlik gaan dit in sommige gevalle oor ’n geestelike stryd, oor ’n geestelike wapenrusting en oor ’n geestesswaard. Maar verreweg in die meeste gevalle handel genoemde tekste en woorde oor materiële swaarde, oor ’n bloedige stryd, oor moorddadige oorloë !
Kyk net hoe het die kwaad toegeneem !
In Gen. 1 word die mens geskape. In Gen. 3 kom die sonde. In Gen. 4 slaan Kaïn sy broer dood. Dis egter nog maar ’n stryd tussen man en man. In Gen. 14 is daar die eerste oorlog. Dis nou ’n geveg van leër teen leër. Die koning Amrafel, met sy bondgenote daar in die noorde, kom na die suide om te veg teen die koninkryke van Sodom, Gomorra, Adma en Sehoim en Soar. En die konings van die noorde wen, en samel vir hulle ’n groot buit in en voer die verowerde mense as slawe weg.
Dis die eerste oorlog waarvan die Bybel melding maak. Maar hieruit volg terstond ’n tweede oorlog.
Abraham hoor van die verowering. Hy verneem dat sy neef, Lot, met die ander mense gevang en weggevoer is. Hy roep sy 318 manne bymekaar, gaan op die spoor van die veroweraars, val hulle onverwags in die nag aan, verlos al die gevangenes en neem die buit terug.
Hier is dus al dadelik een goddelose oorlog en een Godewelbehaaglike oorlog. Die een oorlog kom om te roof en te buit, die ander oorlog kom om te verlos en te herstel.
‘n Christelike oorlog
Maar kan daar ’n Godewelbehaaglike oorlog wees?
Kan daar ’n christelike oorlog wees?
Kan ’n slaanding in die ouer se huis christelik wees ?
Was dit reg van Christus om daar in die tempel ’n slaanding te gebruik?
Moet ’n christelike volk ook ’n tronk hê ?
Moet daar by ’n christelike volk ook ’n galg wees ?
Kan ’n laksman ooit christelik wees ?
Kan ’n soldaat ooit christelik wees?
Kan ’n oorlog ooit christelik wees?
Die geskiedenis van die mensheid is die geskiedenis van een veldslag na die ander ! Die Nuwe Testament (Rom. 13) sê dat die owerheid die swaard nie tevergeefs dra nie ! D.w.s. die owerheid het polisie, tronke, galg en soldate ! Dit is die owerheid se swaard ! En as God sê : Jy mag nie doodslaan nie, dan beskerm God die mens se lewe. En as God sê, jy mag nie egbreek nie, dan beskerm God die huwelik. As God sê jy mag nie steel nie, dan beskerm God die eiendom. As God sê jy mag nie valse getuienis spreek nie, dan beskerm God die mense se goeie naam.
So is die owerheid van God geroepe om met die swaard die huwelik, die lewe, die eiendom, die goeie naam van die onderdane te beskerm en te verdedig.
Maar die vraag is: Is dit ’n goeie regering? Sal hy die swaard gebruik ter ere van God? ’n Goeie vader sal die roede in sy huis reg gebruik, maar ’n dronk vader misbruik die roede, om die dierbares te mishandel !
So is dit met die owerheid. Dawid straf die goddelose, maar Agab vervolg die Profete van die Here ! D.w.s. ’n goeie regering sit die slegte mense in die tronk, en ’n slegte regering sit die goeie mense in die tronk !
So is dit met die oorloë ! ’n Goeie christelike regering gebruik sy soldate om te beskerm, om te verdedig, om te verlos ! 'n Goddelose regering gebruik sy soldate om te roof, om te moor, om te verdruk, om te annekseer.
Dit is in die Bybel die verskil tussen oorlog en oorlog. Die oorloë van Assirië, Babilon, Persië, Griekeland, Rome en al die empires was om te roof, om te verdruk, om te moor, om uit te brei en te verower. Die oorloë van die Rigters was om te verdedig, om te beskerm en om te verlos !
So ken ons die oorloë in Suid-Afrika. Die oorlog van die Engelse empire was om te roof, om te moor en te annekseer, terwyl dié aan die Boere se kant, die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë, was om te beskerm, om te verdedig, om te verlos ! Wat moet ek as Christen doen?
Die Bybel sê (1 Kor. 10:31) : Hetsy jy eet, hetsy jy drink, hetsy jy iets anders doen, doen dit alles ter ere van God!
Nou, kan ’n mens ’n oorlog maak ter ere van God ?
Moet ons passiviste wees?
Is dit christelik ?
Moet ons sê : Geen slaanding in ’n christelike huis nie, geen tronk by ’n christelike nasie nie, geen oorlog vir ’n christelike volk nie?
Moet daar net altyd verdraagsaamheid en nog verdraagsaameid wees?
Nee, dis nie Bybels nie. Die Bybel sê : Die roede moet daar wees, die owerheid moet die swaard hê en gebruik. Maar dit alles moet ter ere van God gedoen word. Die oorloë van Abraham, die Rigters, Dawid, die Makkabeërs, die Voortrekkers, die Boere in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë was goeie oorloë.
Christene, neem deel aan die oorlog ter beskerming, ter verdediging, ter verlossing. Doen mee aan die oorlog vir Gods waarheid en geregtigheid. Maar ’n christen mag nie deelneem aan ’n oorlog wat wil roof, annekseer en verdruk nie ! As my owerheid ’n goddelose oorlog begin en hy gebied my om aan sy kant in die oorlog te veg, dan durf ek dit nie doen nie. Volgens Hand. 4:19 moet ek God meer gehoorsaam as die mens.
Die Bybel rus ons vir elke goeie werk volkome toe. Daarom moet die eenheid waarby ek staan, eenheid vir Christus wees. As daar skeuring is, moet dit ’n skeuring wees waardeur ek van die goddelose afskeur. Die meerderheid vir my, moet ’n meerderheid wees na Christus se kant toe, en ’n oorlog vir my moet ’n oorlog wees ter beskerming, verdediging en verlossing.
Hoe het hierdie Tweede Wêreldoorlog begin?
Die Eerste Wêreldoorlog is beëindig met die Versaillesverdrag. Met die Versaillesverdrag is daar op die allerskandelikste wyse geroof en verdruk ! Die verdrag het miljoene Duitsers van honger laat sterf. En daar is o.m. die stad Danzig van Duitsland afgeneem. Die stad is 90 persent Duits. Dit is van Duitsland geroof ! In 1939 wil Duitsland die geroofde stad terug neem. Toe verklaar Engeland oorlog! Die Tweede Wêreldoorlog het dus van Geallieerde kant gekom om geroofde goed te behou ! Daarom rus die seën van die Here nie daarop nie !
As daar ’n toegewyde christen in hierdie oorlog is wat voor God kan verklaar : Here, u weet ek is hierin teen my sin gedwing. As daar sulkes is, dan het hulle voor God ’n verontskuldiging.
Maar die standpunt van die christen moet wees : As die oorlog om onreg, roof en verdrukking is, dan het ek geen deel daaraan nie. Mens moet jou owerheid onderdanig wees, maar ons moet God meer gehoorsaam as die mense.
Al kry u swaar, moet u armoede ly, al moet u in tronke en kampe ly, bly op die pad van waarheid en geregtigheid. Hetsy julle eet, hetsy julle drink, hetsy julle iets anders doen, doen dit alles ter ere van God.