BYBEL EN VOLKSTRYD (5)

Ds C R Kotze

Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd

CHRISTELIKE HAAT

Spr. 8 :13: Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is.”

GODSDIENS is nie net gevoel nie. Dis handel, dis lewe, dis optree aan die kant van God. Optree teen sonde. Ja godsdiens bestaan ook daarin dat die mens die sonde haat.

Die ware christen is altyd partydig. Godsdiens is nie maar net ’n krag wat gereserveer word, wat ons by die sterfbed nodig het om te kan hemel toe gaan nie. Christelike godsdiens is nie maar net ’n vroom gevoel waarvan die medemens niks weet nie. Dis nie maar net ’n vroom aandoening wat diep in die gemoed weggesteek word nie. Volgens Rom. 12 is die redelike christelike godsdiens dat die liggaam gestel word tot ’n lewende heilige Godwelbehaaglike offerande !  Ons godsdiens is ’n krag wat ons hart vol maak, so vol dat dit oorloop in ons woorde en dade, in ons hele lewenswandel. Die christelike godsdiens is aktief. Dis ’n godsdiens van dade ! Dis nie defensief nie, maar offensief. Dit tree aanvallenderwys op. Dis ’n godsdiens van doen en durf !

Dis nie 'n godsdiens wat vlug, of wegkruip of stil bly nie. Die ware Christen moet handelend optree teen alles wat onchristelik is, teen alles wat sondig is. Daar is, wat die sonde betref, nie by die christen so iets soos onpartydigheid nie. Die lig is teen die duisternis, die waarheid teen die leuen. Christus is teen die sonde en geen een van ons kan ooit vir een oomblik onpartydig wees nie. Want wie nie met Christus is nie, is teen Christus. As u nie wil party kies nie, plaas Christus u aan die kant van die duiwel.

Geesdriftig

Die ware christen is geesdriftig. As die mens aan die kant van Christus party kies, kan hy nie koel en koud wees nie !

As daar ’n mag is wat besig is om u broer, u suster, u dierbaarste na die verderf te voer, sal u onverskillig wees en maak of u nie sien wat daar gebeur nie ? En as die mag u eie siel kom aanval ? Dit is letterlik wat elke dag gebeur. U dierbaarste word elke uur aangeval deur die duiwel en die duiwelse magte. U eie siel word bedreig. Hulle kom tot u, tot my en tot ons dierbaarste met lokstemme, met versoekings van ongeloof, onsedelikheid. Is dit moontlik dat mens die kant van Christus kan kies en heeltemal koel en onverskillig bly tussen al die duidelike en vrugbare werke van die duiwel !

Ons dink meestal dat haat ’n lelike ding is.! En dit het ook in die praktiese lewe byna altyd ’n lelike betekenis. Maar tog lees ons twaalfmaal in die Bybel dat God sekere dinge haat. God haat die afvalligheid, afkerigheid. Hy haat die kwaaie. Hy haat sonde. As die mens na die beeld van God hervorm word, sal hy ook begin haat die dinge wat God haat.

Die ware godsdiens bring ons dus tot besliste haat. Ps. 97 :10 : Die liefhebber van die Here haat die kwaad”.

Die godsdiens begin met liefde. God het die mens lief en deur die liefde kom Hy om die mens te red, maar omdat Hy sien wat die sonde aan die mens doen, het Hy die sonde gehaat ! As u dierbare kind deur die kantien gelok word en uiteindelik ’n dronklap word, kom u uiteindelik daartoe om die kantien te haat. U haat die kantien omdat u u kind lief het.