BYBEL EN VOLKSTRYD (4)

Ds C R Kotze

Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd

SELFLIEFDE

Matt. 22 :39: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

WAT is liefde? As ’n ouer sy kind alles toelaat, as die ouer sê : ek kan nie my kind teengaan nie, ek kan nie my kind tug nie, ek het my kind te lief. Dan sê die Here : Wie sy roede terughou, haat sy seun (Spr. 13:24)! Alles goedkeur, alles toelaat, alles toegee, is nie liefde nie. As daardie kind eendag bedorwe is en in die tronk beland, dan sal die ouer besef dat dit nie liefde was wat alles toegelaat het nie. Die ware liefde is nie wetteloos nie. Die ware liefde soek die hoogste en beste vir die wat hy liefhet. Liefde erken die wette, betaal die prys, soek die hoogste, die beste teen enige prys. Die Heiland gee sy lewe vir die wat Hy liefhet.

Ons gebruik gewoonlik die woord selfrespek, maar dis nie ’n woord wat in die Bybel voorkom nie. Die Bybel spreek van selfliefde. Dan bedoel die Bybel dat ek moet liefhê alles wat my eie is ! My liggaam, my siel, my oortuiging, my godsdiens, my geskiedenis, my taal, my kerk, my geestesgoedere. Ek moet liefhê alles wat aan myself behoort.

Jy moet jou naaste liefhê soos jy jouself liefhet.

Daar is verskeidenheid in God se skepping. Daar is nie twee bome wat eenders is nie, nie twee blare eenders nie, nie twee mense eenders nie, nie twee nasies eenders nie ! Elkeen is deur God so gemaak, en elkeen moet so getrou wees aan sy roeping.

Elkeen moet vra : Wat is in my binneste ? Die kennis, die waarheid, die oortuiging, die regsgevoel. Dis my eie, dis my innerlike self. Ek moet in my binneste inkyk. Ek moet my aandag gee aan die innerlike self. Hoe lyk my innerlike self? Wat het God daarin, geplant ? Ek moet daardie innerlike self waardeer, versorg, bewaar, beskerm. Ek moet die self liefhê. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, en jy moet jouself liefhê soos jou naaste.

Selfliefde is ons plig. Josef bly in Egipteland, maar hy word nie ’n Egiptenaar nie. Hy hou vas aan die geestesgoedere van sy ouerhuis. Moses bly in Farao se paleis, tussen al die weelde en skatte, maar hy hou vas aan die geestesgoed wat hy in sy ouers se huis gekry het ! Hierdie geestesgoed is in sy binneste, dis sy eie, dis sy eie innerlike self. Hy verwater dit nie !

Netso het Obadja in Agab se paleis tussen al die Baalpriesters getrou aan sy eie self gebly. Ook Daniël het aan homself getrou gebly. Dit kan nie anders nie, want jy moet jou naaste liefhê soos jouself ; jy moet jouself liefhê soos jou naaste.

Ek moet die self liefhê omdat die self van God is. God het Josef se ouers gekies, ook vir Moses en vir Daniël. God plant die siel in daardie huis, in daardie godsdiens, in daardie kerk, in daardie nasie, in daardie taal, in daardie geskiedenis.

En as God sê : Eer jou vader en jou moeder, dan is die bedoeling : hou vas aan al die geestesgoedere van daardie ouers. Hou vas. Dan is die bedoeling jy moet jouself respekteer, jy moet jouself liefhê. Daardie self is die beste wat God jou gegee het.

’n Halwe teks is ’n leuen.

’n Halwe teks is nie die waarheid nie. Die wêreld haal halwe tekse aan. Dis leuens. Die duiwel haal een teks aan :  Daar staan geskrywe: Die Here sal jou beskerm, sodat jy jou voet nie stoot nie. Jesus sê : Ja, dis reg. Maar daar is nog ’n teks : Jy mag die Here jou God nie versoek nie. Die waarheid is in die twee tekste.

Vandag ook. Die duiwel haal die teks aan : Slaan ek jou op die een wang, gee dan die ander. Christus sê die waarheid lê in twee tekste : Gee die ander wang ; maar ook (toe hy voor Pilatus staan) : Waarom slaan jy my ?

Ook hier het ons nie te doen met ’n halwe teks of ’n halwe waarheid nie, maar met ’n hele teks en ’n hele Bybel.

Ek moet myself liefhê, soos ek my naaste liefhet. Die Heiland sê dat hierin is die samevatting van die wet ! As ek my naaste liefhet, sal ek hom nie vermoor nie, nie besteel nie, nie beskinder nie, nie sy goed begeer nie. As ek my naaste liefhet, sal ek hom lewe, gesondheid en geluk gun, sal ek hom al sy besittings gun, sal ek hom sy goeie naam gun, sal ek nooit wens om van sy goed te kry nie.

Nou sê die Here dat ek myself netso moet liefhê. Al wat ek as christen vir my medemens gun, moet ek vir myself ook gun. Gun ek vir my naaste sy kerk, sy godsdiens, sy taal, dan gun ek vir myself ook my eie kerk, my eie godsdiens, taal. Gun ek vir my medemens sy land, sy vryheid, sy vrede, dan gun ek vir myself ook my land, my vryheid, my vrede.

Jy moet jou naaste liefhê, soos jouself; jy moet jou self liefhê soos jou naaste.

Selfliefde gee krag

Josef, Moses, Daniêl was sterk manne. Dis hierdie selfliefde of selfrespek wat hulle so sterk maak. Hulle waai nie met alle winde saam nie, dryf nie met die stroom saam nie, laat hulle nie beïnvloed deur die omgewing nie. Was Christus nie ’n sterk man nie ? Was die Apostels nie sterk manne nie ?

Karl Marx, die vader van kommunisme, sê : “Godsdiens is opium. Kom ons roei die christelike godsdiens uit, want die arm mense wat godsdienstig is, laat hulle beroof en verdruk. Hulle sê niks, doen niks.” Daarom het Rusland die godsdiens uitgeroei. Die godsdiens gaan lêe dat ander maar beledig, verdruk, beroof, vertrap.

Is dit godsdiens?

SêChristus jy moet jou naaste liefhê sodat hy maar kan roof en vertrap soos hy wil ? Of sê Christus : Jy moet jou naaste liefhê soos jouself ! Jouself ook liefhê !

’n Jood het eendag gesê : Ons is nie in Suid-Afrika bang nie, want die Boer se godsdiens red ons. Wat beteken dit? Dat ’n christen mak is? Mag ’n christen nie ’n bloedsuier afskud nie !

Die Makkabeërs is aangeval op die Sabbat en uitgeroei. Nee, as ons aangeval word, sal ons verdedig ! As die duiwel tekste opsê, dan sê Christus ook tekste op. Die Christendom maak sterk mense.

Selfliefde handhaaf God se gebooie. Was Christus nie die sterkste man nie ? Was Paulus, Petrus nie sterk manne nie ?

Sê vir die medemens : Ek het jou lief; ek sal niks van jou vat nie. Maar ek het jou lief soos ek myself het. Ek sal dus nie toelaat dat jy iets van my vat nie.

Sê vir die medemens : Ek sal nie oor jou baassppeel nie. Maar ek het myself net so lief. Daarom sal ek nie toelaat dat jy oor my baasspeel nie.

Dis die godsdiens van die Bybel.