Ds C R Kotze
Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd
ONS ROTSVERLEDE
Jes. 51:1: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is.”
DIE profeet Jesaja het vir die volk die oordele van God oor die volksondes aangekondig. Daar kom vir hulle oorlog, nederlaag en ballingskap. Maar dan kom daar weer terugkeer en herstel. Maar nou kom die vraag :
Hoe sal die herstel wees? Wat sal die volkslewe ná die herstel wees? As mens vir jou volk sulke toekomsideale koester, dan is dit die beste om na die volk se verlede te kyk. Daarom roep die profeet vir die volk toe : Aanskou die rots waaruit julle gekap is. Met Gods genadige openbaring en die optrede van Abraham, Moses, Josua, die Rigters en Dawid, kan gesê word dat die volk ’n rotsverlede gehad het.
LAAT ons nou let op die hand van die Here in ons geskiedenis, en ons sal vind dat deur Gods genade, ons ook ’n rotsverlede gehad het.
Kyk waar julle vandaan kom. Die goddelose sê met ’n vroom stem : Julle moet vergewe en vergeet. Maar albei is onchristelik en onbybels. Christus vergeef nooit ’n mens wat nie belydenis doen en ons kan tog as christene nie anders optree as Christus nie. ’n Volk durf ook nie vergeet nie ! Telkens sê God aan Moses : Skryf die dinge. Telkens moet Moses vir die volk gebied : Leer die dinge vir jul kinders. Telkens hoor die christen : Eer jou vader en moeder. Onthou wie hulle was en eer hulle en hul geskiedenis en hul tradisies. En hier is weer die bevel: Aanskou die rots waaruit julle gekap is. Let op jul ouers en voorouers, jul geskiedenis, waar julle vandaan kom. ’n Boom kan nie sonder wortels leef nie en ’n volk kan sonder sy geskiedenis nie bestaan nie.
Julle is uit 'n rots gekap ! Kyk tog hoe wonderlik is dit waar ons volk uit spruit. Die Hollanders het 300 jaar gelede die Roomse godsdiens verwerp en die Calvinistiese godsdiens aangeneem. Hulle het, met ander woorde, die Bybel aangeneem. Toe rebelleer hulle teen hul Roomse owerheid. Hulle veg tagtig jaar vir hul vryheid, vir hul godsdiens, vir hul Bybel. Vier jaar nadat hulle oorwin het, land Jan van Riebeeck aan die Kaap. Van Riebeeck en sy manne wat die Kaapse volksplanting begin het, was rebelle !
Kyk tog mooi na die rots waaruit julle gekap is. Die Hugenote het die Calvinistiese godsdiens aangeneem. Hulle het hul Bybels gegryp, hulle het gerebelleer teen die owerheid wat hul godsdiensvryheid aan bande wou lê, wat hul Bybels wou wegneem. Die Hugenote was rebelle ! Helde! Ons verlede getuig van sterkte, want ook vir die Hugenote was tronke, vonnisse, brandstapels geen skande nie.
Let op die Voortrekkers en hul dade.
Ja, ons het waarlik ’n rotsverlede.
Maar sal ons nog pas in die plek waaruit ons gekap is? Hoeveel het ons van die godsdiens, die geloofsdurf, die rotskrag van die Van Riebeeckgeselskap ? Wat het ons van die Hugenoot se geloof, sy liefde vir sy Bybel, sy kerk, sy godsdiens met krag en durf. Hoe is dit met ons huisgodsdiens, ons christelike opvoeding. Het ons toegelaat dat vreemde invloede die Afrikanerdom se erfenis ontsier ?
Verdra en verdraagsaamheid is mooi woorde. Maar verdraagsaamheid het nie vir Moses gemaak nie, ook nie vir die Geuse en Hugenote, die Voortrekkers of die Bybelse profete gemaak nie !
God roep ons toe : Aanskou die volksverlede. Kyk na hul onbuigsaamheid, die hardheid van die klip. Let op die hand van God in ons geskiedenis. Die lyding en stryd van die Voortrekkers, die Swart oorloë, twee Engelse oorloë, die droogtes, pestilensies, al die roepstemme. Dink aan ons verkryging van ’n eie taal, aan die volksontwaking in 1938. God wil ons help dat ons net so sterk staan in die vryheidstryd.
God wil dat ons sterk moet wees soos staal, ’n rotsgeaardheid hê. Die Bybel sê, die geskiedenis sê dat die sterkste man, die manlikste man, die sterkste volk, is almal die mense met die Bybel, met gebed, met opregte godsdiens. Dit was die Bybelmense wat in Holland opgestaan en tagtig jaar geveg het. Dit was hulle wat na Suid-Afrika gekom het. Dit was die Bybelmense wat die Hugenote gemaak het, dit was die Bybelmense wat hul plase in die Kaap verlaat het en voorgetrek het die binnelande in. Hulle het die Voortrekkers geword en die Afrikanervolk gemaak ! Dis net die Bybelmense wat volhard het op die pad van Suid-Afrika.