BYBEL EN VOLKSTRYD (1)

Ds C R Kotze

Lees reeks by Die Bybel en ons volkstryd

In hierdie reeks word 21 preke aangebied wat almal betrekking het op die Afrikaanse volkslewe en die politiek. Dit is geskryf deur wyle ds. C R Kotze wat as jongman by die Boeremagte tydens die Tweede Vryheidsoorlog aangesluit het. Hy is in ’n veldslag gewond, gevange geneem en na St. Helena as krygsgevangene verban. Hier het hy onder diep geestelike indrukke gekom en besluit om sy lewe te wy aan die bediening van die Goddelike Woord.

BERGGODE

I Kon. 20 :23: “... Hulle gode is berggode.”

ARAM veg teen Israel en die slag word gelewer in die rantjies. Aram word verslaan. Die koning Benhadad vlug na sy hoofstad Damaskus. Nou kom die vorste en raadgewers by hom om hom raad te gee en moed in te praat. Hulle sê vir Benhadad dat hulle ’n groot fout gemaak het om met Israel te gaan veg daar in die rantjies, want Israel se gode is berggode. Daarom het ons daar in die rantjies die slag verloor. Ons moet ons klaar maak en aanstaande jaar weer met Israel veg, maar dan moet ons sorg dat ons op die vlakte bly. As ons op die vlakte veg, kan Israel se gode hulle nie help nie, want hulle is berggode. SO praat die heidene. En as die Christene nou heidene word, dan praat hulle ook so. God is op een plek en ons dien Hom net op een plek en op een tyd. Die natuurlike mens hier onder ons wil God net dien so lank soos dit gerieflik is. Die mens wil ’n Christen wees, maar more tussen die maters ken hy Christus nie. Hy wil God dien op Sondag en in die kerk, miskien daar in die binnekamer, maar nie in die besigheid nie, nie in die geselskap of in die politiek nie. Hy sê soos die heiden: sy God is ’n berggod.

God laat Hom nie beperk nie

Ek is meegedeel dat hier in Bloemfontein op ‘n keer ’n verkieskingstoespraak in die stadsaal gehou is, en die saal was volgepak. Toe iemand uit die gehoor iets vra oor die geloof, oor die Bybel, antwoord die kandidaat kortaf: “Dis nie vandag Sondag nie”. Die menigte skree en juig : Dis reg ! Hy het hom goed geantwoord ! Dis nie vandag Sondag nie, ons het nie vandag tyd vir godsdiens nie, ons wil geen godsdiens hê in die politiek nie. M.a.w. ons gode is berggode.

So wil die mens sy God beperk! Dien God net in die kerk, maar nie in die politiek nie. So ongemerk sink die sogenaamde Christendom in die heidendom terug en maak van hul God 'n berggod.

Maar God is tog daar. God laat hom nie beperk nie. Toe Bileam na Moab se land gaan om van God weg te kom, sodat hy Israel kan vervloek, was God ook daar en hy kon geen enkele vervloeking oor Israel uitkry nie. Die mens kan hom verbeel sy God is net ’n berggod, maar hy sal God op die vlakte ook vind. God is oweral !

En God laat hom nie bespot nie ! As u u vriend ignoreer en weer later as vriend wil erken, wanneer dit u pas, sal daardie persoon u vriend bly ? God eis dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart, hele siel, hele verstand en al ons kragte ! Christus sê as u vir u skaam om sy Naam te bely voor die mense, sal Hy Hom ook skaam om u naam te bely voor God in die hemel {Mark. 8 :38).

As die mens God ontrou is vandag, sal hy vanaand geen vrede hê nie. As hy God verloën in die week, sal hy op Sondag geen seën hê nie. As hy God nie dien in die daaglikse lewe nie, sal hy nie God op sy sterfbed hoef te verwag nie. Esau het gehuil maar genade nooit gekry nie ; Judas het berou en wroeging gehad, maar die verlossing nooit gevind nie. God laat hom nie bespot asof Hy ’n berggod is nie. God sal nie wag totdat dit eendag vir die mens gerieflik is om Hom te dien nie. U moet God of dien vandag, met u hele hart, al u tyd, u hele lewe, op al die terreine van die lewe, of u moet God glad nie dien nie. Daar is geen neutrale terrein nie. U is of vír God, of téén God.

Ons word beveg op die vlaktes

Maar daar is ook ’n ander sy van die saak. Die Afrikanderdom het baie vyande. Maar omdat hulle meen die Afrikaner se God is ‘n berggod, beveg hulle ons op die vlaktes.

Die Afrikaner se kerk is sy krag. So lank as wat die Afrikaner nog 'n kerk het, ’n geskiedenis, ’n taal, is hy nog nie heeltemal n verowerde nasie nie. Al is sy land verower, sy siel is nog nie verower nie. Daarom sal ons vyande nooit regstreeks teen die kerk te velde trek nie, teen die Afrikaner se godsdiens en sy Bybel nie. Nee, hulle wil ons nie hier beveg nie. Hulle beveg ons op die vlaktes.

Hulle stuur vir ons sektes om ons weg te trek uit die kerk, hulle reël interkerklike dienste in bioskoopsale, organiseer interrkerklike bidure en konferensies om ons mense weg te k ry hier van die kerk. Weg van die kerk sien hulle kans om ons te oorwin.

Hulle beveg ons op die gebied van die onderwys. Hul kinders mag nooit die onderwys ontvang deur middel van ons taal nie, maar ons kinders moet die onderwys ontvang deur middel van hul taal! Ons kinders moet geleer word dat hul ouers se taal minderwaardig is, dat hul ouers se geskiedenis minderwaardig is, die kerk minder­waardig is.

God het in sy wyse Raad vir ons ouers gekies. God het bepaal dat ons juis in daardie huis gebore moet word, by daardie godsdiens, daardie kerk ; met daardie geskiedenis, met daardie taal sal opgroei. Maar nou moet ons in verset gebring word teen Gods Raad. Ons moet besluit dat ons aan ’n ander taal, ’n ander godsdiens, ’n ander geskiedenis voorkeur gee ! Hulle wil ons losruk van die ankers van die volkslewe waar God ons geplant het! Ja, weg van die kerk, daar op die vlaktes beveg hulle ons !

In die Maatskaplike lewe

Hulle beveg ons daar in die maatskappy. Die Spanjaarde het Suid-Amerika gekoloniseer met ’n Roomse Kerk en gelykstelling, en daar is vandag net een bastergeslag waarvan skaars 10 persent kan lees of skrywe. So het dit min of meer gegaan met al die ander kolonisasie-ondernemings—gelykstelling en bloedvermenging. Maar in Suid-Afrika word die bastergeslag net aan die kus gebore waar die skepe stilhou, net soos in Liverpool. Ons voorouers was gekant teen gelykstelling, bloedvermenging of gemengde huwelike. Ons kerk staan vas en handhaaf die kleurlyn ; ons is teen gelyk­stelling en gemengde huwelike. Maar al die ander kerke is vir gelykstelling. By die Roomse, Anglikaanse en ander kerke sit die naturelle saam met die blankes in die kerk, en ons word bespot en beledig oor ons oortuiging. Hier in die kerk is ons sterk, en handhaaf ons ons oortuigings. Maar daar in die handel waar ons jong mense in die nood is en werk soek, daar word blanke dogters gedwing om saam met naturelle te werk. Hulle beveg ons daar op die vlaktes.

Daar in Duitsland as ’n Duitse seun of dogter na die stad kom om werk te soek, praat hy of sy Duits. Netso is dit in Frankryk, Engeland ens. Maar nie hier by ons nie ! As die Afrikaanse kind werk soek en ’n eerlike salaris wil verdien in die handel, moet hy ’n vreemde taal praat en skryf, moet sy dikwels vreemde klere dra, ook vir haar ’n vreemde gesig opverf en vreemde sedes aanleer ! Dink aan al die verdrukking, al die afpersing, al die belediging wat hulle dikwels van die vreemde base moet verdra ! Hier is honderde gevalle waar ons jong mense deur die nood gedrywe word om vir die winkel- of fabriekbaas ’n dokument te teken dat hulle die volle salaris ontvang, terwyl hulle in werklikheid maar die helfte daarvan ontvang !

Hulle beveg ons op die vlaktes !