DIE KRUISTOGTE

WAAROM HET DIT PLAASGEVIND?

Dr JP Botha

WAT IS KRUISTOGTE ?

Pous Urbanus II het op 27 November 1095 nC by Clermont in Frankryk ‘n vergadering gehou wat deur al die baronne, biskoppe en priesters van Europa bygewoon is.  Hulle is gevra om die Christene van die Heilige land van Palestina te gaan help omdat die Mohammedane die Christene vermoor en hul kerke verwoes.  Daar was uiteindelik agt sulke uittogte oor 'n tydperk van tweehonderd jaar en is genoem die Kruistogte.  Ryk ridders, prinse en arm arbeiders van oor die hele Europa het byeengekom.  Hulle is die kruisvaarders genoem.

DIE 1e KRUISTOG

Die eerstes het in Mei 1097 in Konstantinopel begin aankom maar keiser Alexius was bang dat hierdie kruisvaarders alles sou verniel en laat eers hul leiers ‘n eed van getrouheid aflê. Daarna het hy hulle gehelp om verder te gaan.

Aan die begin het dit gelyk of die kruisvaarders die Mohammedane maklik sou verslaan maar moes gou hulp vra.

Toe het Baldwin en sy leër Edessa bevry. Maar Baldwin vermoor prins Thoros en verklaar homself hoof van Edessa.  Op hierdie oneerlike manier het Edessa toe die eerste kruisvaarderstaat geword en Antiogië die tweede.
Die kruisvaarders het tot by Jerusalem getrek en die stad vyf weke lank beleër.  Hulle het alles moontlik probeer om die stad te laat oorgee maar tevergeefs. Raymond van Toulouse en Godfried van Bouillon bou toe vir hulle groot masjiene van hout waarmee hulle tot op die muur kon klim en so binne die stad kon kom.  Ná 400 jaar het Jerusalem weer aan die Christene behoort.

2e KRUISTOG: DIE HEILIGE OORLOG

Met die tweede kruistog het die Mohammedane saamgestaan om die kruisvaarders uit Palestina te verdryf.  Hierdie vereniging is die "Jihad" of Heilige Oorlog genoem. Die Mohammedane het Edessa in 1144 aangeval en al die kruisvaarders verslaan.

DIE 3e KRUISTOG

Nureddin is as eerste leier van die verenigde Mohammedane deur sy 

generaal, Saladin, opgevolg wat met ‘n groot leër na Jerusalem opgetrek het.  Hy het die stad op 2 Oktober 1187 weer verower.  Dadelik daarna organiseer Pous Clemensius III ‘n derde kruistog.  Richard I, koning van Engeland, vertrek in Junie 1190, dieselfde tyd as koning Filips II van Spanje, na Palestina. Koning Frederik Barbarossa van Duitsland wou ook graag aan die derde kruistog deelneem maar het oppad na die Heilige land in ‘n vol rivier verdrink. Leopoldt, die Hertog van Oostenryk het ook aan die derde kruistog deelgeneem. Die Mohammedane was toe al weer vier jaar lank in beheer van Jerusalem.

Vóór Jerusalem, moes die kruisvaarders die stad Akre bevry, waarna Filips na Frankryk terugkeer, Leopoldt terug Oostenryk toe en Richard bly alleen oor. Toe hy met sy moeë  soldate by Jerusalem aankom kon hy die stad nie verower nie en sluit ‘n kontrak met Saladin vir 'n drie-jaar-vredestydperk.

4e KRUISTOG: DIE SKANDALIGE KRUISTOG

Die kruisvaarders in Europa het met die hulp van Venisië, inruil vir verowerde gebiede, 'n vierde kruistog begin, 'n groot teleurstelling vir die Christene in Europa, soos ook die skelm plan van die Venisiërs om die Christenstad Konstantinopel aan te val.  So het die vierde kruistog geëindig sonder dat die kruisvaarders ooit die Heilige land bereik het.  Dit is die “Skandalige Kruistog” genoem.
DIE 5e, 6e, 7e EN 8e KRUISTOGTE  

Tydens die vyfde kruistog (1217-’21) word die dorp Damietta in Egipte ingeneem. Die kruisvaarders verwerp ’n aanbod vir die ruil van Jerusalem vir Damietta, en gee kort daarna in elk geval Damietta prys.

As gevolg van die sesde kruistog (1228-’29), gelei deur Frederick II van die Heilige Romeinse Ryk bekom die Christene weer Jerusalem maar in 1244 word dit deur die Turke herower.
Dit lei tot die sewende kruistog (1248-'54), maar die leier, koning Lodewyk IX van Frankryk, word gevange geneem en ’n losprys word vir hom geëis. Hy lei toe die agtste (en laaste) kruistog maar sterf aan buikloop voor enige suksesse. Hierna staan die Christene ál meer grond aan die Mohammedane af: Antiochië in 1268, Tripoli en Akre in 1291. Die kruisvaarders kon nie bereik wat hulle wou nie maar die kruistogte het darem tot ’n groei in die handel en ekonomie gelei, en die Wes-Europeërs het beter skepe leer bou en kaarte maak. Hulle het ook begin koers hou met magnetiese kompasse,

Ten slotte was die kruistogte ’n manifestasie van die krag van die Christelike geloof waarvoor hierdie mense bereid was om alles—selfs hul lewe—op te offer.