Die eerste kruisvaarderstate en verowering van Jerusalem
Ten spyte van die kruisvaarders se swaarkry en probleme, was hulle baie dapper mense. Toe die Christene van die stad Edessa hulp vra teen die Mohammedane het Baldwin en sy leër dadelik gereageer.
In ‘n japtrap het Baldwin Edessa bevry. Die mense van die stad was verheug. Maar die slegte Baldwin wou hoof word v an Edessa. Hy vermoor vir prins Thoros en verklaar homself hoof van Edessa. Op hierdie oneerlike manier het Edessa toe die eerste kruisvaarderstaat geword.
Toe Bohemund van Otranto hoor van Baldwin se dade, was hy baie jaloers. Hy wou ook ‘n Christenstaat van sy eie hê. Toe kies hy vir Antiogië uit en verower dit op ‘n onderduimse manier.
Maar skaars het Bohemund vir Antiogië verower of ‘n sterk Mohammedaanse leër omsingel en beleër die stad. Die arm mense van Antiogië het baie swaar gekry en hulle was op die punt om oor te gee, toe die kruisvaarders deur ‘n wonderwerk nuwe moed skep en die Mohammedane bestorm en verslaan.. As gevolg van die kruisvaarders se oorwinning by Antiogië, het die Mohammedane uitmekaar gespat en gevlug. So het Antiogië toe die tweede kruisvaarderstaat geword.
Die verowering van Jerusalem
Die kruisvaarders het tot by Jerusalem getrek en die stad vyf weke lank beleër. Hulle het alles moontlik probeer om die stad te laat oorgee, maar elke keer misluk. Hulle was naderhand moedeloos. Hulle het selfs om die stad marsjeer en op trompette geblaas, sodat die mure moes instort soos by Jerigo van ouds, maar dit het nie gehelp nie. (Al die ou stede het mure rondom hulle gehad wat gehelp het om die stad te verdedig teen aanvallers).
Hulle besluit toe om groot masjiene van hout te bou waarmee hulle dan tot op die muur kon klim en so in die stad kon kom. Raymond van Toulouse en Godfried van Bouillon het toe aan die werk gespring en die masjiene begin bou en daarmee het hulle op die mure geklim. Die Mohammedane het woes geveg om hulle te keer, maar die kruisvaarders was te sterk. Baie mense het gesneuwel, selfs vroue en kinders. Maar daarna het Jerusalem weer aan die Christene behoort, nadat die Mohammedane 400 jaar lank daarin regeer het.
Met die verowering van Jerusalem het die groot kruistog van Pous Urbanus II geslaag !